Teks: Genesis 46:1-34
Menslik gesproke kan die vraag gevra word of dit die regte besluit van Israel (Jakob) was om na Egipte toe te trek. Die belofte is tog gemaak dat Kanaän aan sy nageslag beloof is en in retrospeksie sou die volk dan nie nodig gehad het om die lyding van slawerny deur te maak nie.
Dit is so dat ons dikwels slegte omstandighede sien as ‘n teken dat die Here nie wil hê dat ons in daardie omstandighede moet wees nie. Indien jou planne skeefloop wanneer jy wil verhuis, dan kan jy redeneer dat die Here vir jou daardeur sê dat jy nie voort moet gaan daarmee nie.
Daarom is hierdie gedeelte vir ons ook belangrik. In teenstelling met Genesis 12:10-20 gee die Here aan Israel die bevestiging dat hy nie bang hoef te wees om Egipte toe te gaan nie, want Hy sal met Israel en sy nageslag wees.
Israel se verblyf in Egipte is inteendeel deel van God se plan met die volk en Hy het al in hoofstuk 15 (vgl. Gen. 15:13-14) vir Abram gesê dat sy nageslag vreemdelinge en slawe sal wees en dat hulle onderdruk sal word in ‘n vreemde land. Eers na vierhonderd jaar sal die Here hulle uit daardie land laat wegtrek na die beloofde land.
Hoewel ons nie van moeilike omstandighede hou nie, gebruik die Here ook dikwels moeilike omstandighede om ons te vorm. Daarom gebruik Paulus die metafoor van ‘n pottebakker wat die klei vorm. Ons is die klei in God se hand. Hy vorm ons en berei ons voor om aan sy heerlikheid deel te hê (Rom. 9:23).
Die heerlikheid hiervan sien ons ook in die feit dat Jesus bereid was om te ly. Sy lewe was menslik gesproke vol teleurstellings aangesien hy verneder en as vervloekte aan ‘n kruis moes hang.
Tog sien ons ook dat die Vader daardie lyding ten goede gebruik vir sy koninkryk. Dit is juis as gevolg van Jesus se lyding dat ons gered kan word en daarom kan die gelowige totaal anders na lyding kyk. Petrus skryf in die verband:
“Dit is genade as iemand die pyn van onverdiende lyding verduur omdat hy aan God getrou wil wees. As julle gestraf word wanneer julle oortree het, watter verdienste is daarin as julle dit verdra? Maar om lyding te verdra wanneer julle goed doen, dit is genade van God. Juis hiervoor is julle ook geroep, omdat Christus self vir julle gely en so vir julle ’n voorbeeld gestel het, sodat julle in sy voetspore kan volg.” (1 Pet. 2:19-21)
Moet daarom nie moedeloos raak oor die leiding wat oor jou lewenspad kom terwyl jy in eerbaarheid en getrouheid voor die Here leef nie. Sien dit as genade om onverdiende lyding te ervaar omdat jy in Christus se voetspore volg.
Vrae tot introspeksie:
a) Wat is jou perspektief t.o.v. beproewings/moeilike omstandighede?
b) Hoekom kan ‘n gelowige beproewings beskou as genade van God?
Comments