Teks: Genesis 4:1-16
Die vraag wat 'n mens onwillekeurig in hierdie gedeelte wil vra is, waarom het die Here die een se offer aangeneem, maar nie die ander een s'n nie?
Die name van die eerste twee kinders van Adam en Eva sê baie. Toe die eerste kind gebore word, is 'n groot ophef gemaak. Eva roep uit dat sy 'n man in die wêreld gebring het met die hulp van die Here.
Wanneer die tweede kind gebore word, word daar alleen genoem dat dit 'n broer vir Kain is. Hy word ook Abel genoem wat beteken "nietigheid". Van kleins af is Kain as oudste geëer terwyl Abel geminag is.
Tot hulle offers aan die Here bring. Dan sien ons dat die Here anders kies as die mens. Hy neem Abel en sy offer aan, maar nie vir Kain en sy offer nie. Hierdie keuse van die Here wek jaloesie in Kain se hart. Daarom waarsku die Here Hom. Die sonde lê by die deur, gereed om op hom te spring. Maar hy moet daaroor heers.
Uit dit sien ons dat dit nie noodwendig oor die kwaliteit van die offer gaan nie. God het bloot Abel se offer aangeneem en nie Kain s’n nie. Die probleem was heel moontlik dat Kain so gewoond was daaraan dat al die aandag op hom was, dat hy dit nie kon hanteer dat sy broer se offer bo sy offer aanvaar word nie.
Uit Kain se jaloesie wat uitloop in moord sien ons dat sy aanbidding nie gegaan het oor die eer wat God toekom nie, maar hy was alleen begaan oor sy eie eer.
Dit moet ons ook laat nadink oor die redes waarom ons die dinge doen wat ons doen. Waarom doen ons ons werk en waarom gaan ons kerk toe en waarom tree ek vriendelik op teenoor mense ens.
Indien die motief vir ons goeie dade daarin lê dat ons geëer wil word, sal ons jaloers wees wanneer ander die eer kry wat ons meen ons toekom. Ons sal kwaad wees wanneer mense ons werk kritiseer. Ons sal ontsteld wees wanneer iemand anders gekies word bo my, want ons fokus is verkeer. Ons fokus is op ons eie eer en nie op Christus nie.
Ons verlossing in Christus verander ons uitkyk op die lewe. In Jesus sien ons dat ons nie die eer van die wêreld nodig het nie. Ons het Jesus nodig.
Dit maak nie saak wat die wêreld sê of dink nie, wat saak maak is wat God vir ons gedoen het. Hy neem ons in Christus aan. Al word ons deur die wêreld verag, in Christus word ons aangeneem as kinders van God.
Ons word aangeneem omdat Hy bereid was om die veragte te word. In Hom kry ons krag om oor die sonde te heers. Ons het nie nodig om jaloers te wees nie, want in Christus het ons alles wat ons nodig het. Ons kan in Hom vergenoeg wees.
Vrae tot introspeksie:
a) Wat het jou in hierdie gedeelte opgeval?
b) Wat leer jy uit die bevestiging van jou verlossing in Jesus Christus?
Comments