top of page

Die aanslag op ons geloof en hoe ons staande bly!

Teks: Daniël 3

Teksvers: Dan. 3:16-18


Inleiding:

Die nuus is vol angswekkende berigte. Ons hoor hoe mense rondom ons doodgaan aan siekte, hongersnood, oorlog en onderdrukking. Die gevolg is dat Mense, ook gelowige mense, vra: “As daar ‘n God is, waar is Hy in hierdie moeilike omstandighede?”

Die boek Daniël en in besonder hierdie hoofstuk, bied vir ons ’n antwoord op hierdie vraag.

Daniël leer ons dat God altyd daar is waar mense swaarkry. Hy is die een wat vir mense sorg wat aan Hom gehoorsaam bly soos Daniël se vriende. Hy is die een wat vanuit die hemel heers oor elke mens, selfs ook oor die mense wat dink dat hulle alle mag in pag het soos Nebukadnesar.

So, kom ons begin deur te kyk na hierdie aanslag op die geloof van gelowiges.

1. Die aanslag.

In hoofstuk twee het koning Nebukadnesar van ‘n groot beeld gedroom. En toe Daniël hierdie droom uitlê, het hy gesê dat Nebukadnesar self die kop van die beeld is. ‘n Kop wat vernietig sal word as hy nie aan God gehoorsaam is nie.

Die feit dat Nebukadnesar hierdie beeld opgerig het, wys dat hy nie vir God wat heerskappy voer oor alle mag en gesag, ernstig opgeneem het nie.

Dit is ook presies wat in hoofstuk 3 in Nebukadnesar se dade sigbaar is. Hy neem nie God se mag en heerskappy ernstig op nie. Hy rig ‘n beeld op wat met goud oorgetrek is. ‘n Beeld wat eintlik maar net ‘n toonbeeld is van sy eie mag, weelde en koningskap. Op hierdie manier wys hy aan almal in sy koninkryk, wie hy is. Hy gaan dan ook nog verder deur ‘n godsdiens bepaling in te stel wat almal moet gehoorsaam.

Dit is duidelik dat die gees van die Antichris in en deur Nebukadnesar werksaam is. Waaroor dit eintlik gaan is dat Nebukadnesar as mens vereer wil word. En wanneer ‘n persoon nie bereid is om dit te doen nie, sal hulle te doen kry met sy mag.

Dit gaan nie hier oor ‘n godsdiens nie maar oor homself, want Nebukadnesar is deeglik bewus daarvan dat hierdie beeld eintlik ‘n stom en niksseggende stik materie is. Hy sê self in vers 15:

“Maar as julle hom nie aanbid nie, sal julle dadelik in ‘n brandende oond gegooi word, en watter god sal julle uit my mag kan red?” (Dan. 3:15).

Nebukadnesar weet dat daardie beeld net ‘n doellose voorwerp is wat nie vir sy eie eer kan opkom nie. Hy sê inteendeel met hierdie woorde dat hy meer mag het as enige god. Op hierdie manier slaan die Antichris toe op Daniël se vriende.

Hierdie opdrag van Nebukadnesar gaan lynreg in teen die wil van God.

Maar hierdie aanslag op Daniël se vriende word nog meer intens wanneer hulle ‘n tweede kans kry en gedreig word met die dood. Dit lyk of Nebukadnesar uit sy pad wil gaan om hierdie jong manne ‘n tweede kans te gee. En tog wys hulle ook hierdie kans van die hand.

Wat ‘n beproewing! ‘n Beproewing wat die Here gebruik as toets van geloof en tot getuienis van sy almag. Menslik gesproke kan ons vra: Maar is hierdie jong manne nie al genoeg beproef in hulle lewens nie? Op ‘n jong ouderdom is hulle uit hulle land weggeneem in ballingskap. As slawe moes hulle vir vreemde mense gaan werk. En nou word daar ook nog van hulle gevra om hulle godsdiens op te gee.

Maar dit is juis hier waar hulle geloof tot die uiterste beproef word. Deur hierdie beproewing sal dit duidelik word wie of wat hulle eerste liefde is. Is dit hulle lewe, gerief, eer, of sekuriteit – of is hulle eerste liefde die Here hulle God.

Tog sien ons ook dat dit nie alleen ‘n toets is nie. Hulle geloof word ook ‘n baie duidelike getuienis. Deur hulle geloof verander hulle Nebukadnesar se woorde van:

“Watter god sal julle uit my mag kan red” (Dan. 3:15)

tot

“Elkeen wat met minagting praat oor die God van Sadrag, Mesag en Abednego, sal in stukke gekap word en sy huis sal ’n puinhoop gemaak word. Daar is immers geen ander god wat in staat is om so te red nie.” (Dan. 3:29)

Die Here gebruik die beproewing van Sadrag, Mesag en Abednego om hulle eie geloof te toets, maar ook as ‘n sterk getuienis teenoor die wêreld.

So, hoe kry ons die krag om so aanslag op ons geloof, af te weer?

2. Hoe weer hulle en ons so aanslag af?

God is Almagtig

Daniël se vriende bly onveranderd in hulle ware geloof en vertroue in God, want hulle ken Hom. Dit maak ook nie saak met wat Nebukadnesar hulle dreig nie. Hulle weet dat God baie magtiger is as wat Nebukadnesar dink hy is. Hulle God is die skepper van hemel en aarde. Hy is die een wat hulle voorvaders uit die mag van die Farao bevry het. Hy is die een wat oneindig meer kan doen as wat ons ooit kan bid of dink.

Daarom kan hulle Nebukadnesar met geloofsvertroue antwoord:

“Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie...” (Dan. 3:17)

Hulle weet dat God se dade vir Nebukadnesar sal wys wie en wat Hy is. En selfs al is dit nie die Here se wil om hulle te red nie, is hulle steeds bereid om ter wille van Hom te ly en die hoogste prys te betaal, want Hy en Hy alleen is hulle Koning.

So die heel eerste wat ons moet weet om so aanslag op ons geloof te kan afweer, is dat ons die Almagtige God dien. Hy heers oor die grootste magte op aarde.

Maar anders as hierdie drie vriende van Daniël het ons ‘n nog groter motivering om vas te staan in die geloof. Ons ken God se liefde vir ons.

God het ons oneindig lief

Ons sien die omvang van God se liefde in Christus.

Nebukadnesar gooi hierdie drie mans in die vuur en wat dan gebeur is merkwaardig. Hierdie drie manne beweeg ongedeerd in die vuur rond en boonop is daar ook ‘n vierde persoon wat saam met hulle is. Selfs in die vuur, was hulle nie alleen nie.

Hulle beweeg ongedeerd in die vuur rond, want daardie selfde vierde persoon wat saam met hulle was, het na die aarde toe gekom en Hy is aan ‘n kruis opgehang. En dan roep Hy uit:

“My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Matt. 27:46)

Hy is selfs deur sy Vader verlaat. Hy betaal die hoogste prys vir ons sonde sodat ons kan lewe. Daarom skryf Paulus:

“Hy het ter wille van ons gesterwe, sodat ons, of ons by sy koms nog lewe of reeds dood is, saam met Hom kan lewe.” (1 Tess. 5:10)

Dis hoe groot God se liefde vir ons is. Hy was nie verantwoordelik vir ons sonde nie. Hy het nie nodig gehad om ons te red nie, maar sy liefde vir ons is so groot dat Hy ons nie alleen in ons ellende wou laat nie.

Hy was bereid om self ‘n mens te word. Hy was bereid om deur die vuur van God se toorn te gaan, sodat ons selfs in hierdie beproewings waarmee ons te doen kry, nie alleen hoef te wees nie. Hy is altyd by ons.

Daarom het ons soveel meer rede as hierdie drie vriende om op God te vertrou. Ons ken die liefde wat Hy vir ons het en Christus is die bewys van daardie liefde. Hy was selfs bereid om die dood in te gaan sodat ons kan lewe.

En is dit nie ironies nie? Nebukadnesar se god word gedien omdat hy die uiterste magsmiddele gebruik om gehoorsaamheid af te dwing. Die ware God word nie gedien omdat ons daartoe gedwing word nie. Hy word gedien omdat Hy aan ons in ons hart openbaar hoe lief Hy ons het. En hierdie liefde is baie sterker as die sterkste dwang wat van buite op ons afgedwing kan word.

As gelowiges kom ons ook baie keer in sulke situasies waar gehoorsaamheid aan God ons lewens kan bemoeilik. Jou werkgewer verwag dalk van jou om oneties op te tree en dreig jou met ‘n afbetaling. Jou vriend of vriendin verwag dalk van jou om iets te doen wat in stryd is met dit wat God jou in Sy woord leer.

En dit is dan wat ons hierdie liefde van God moet ken. Hierdie liefde sal ons help om gehoorsaam te bly ten spyte van al die dreigemente van die wêreld. Dit is dan wat ons Christus moet sien wat vir ons aan die kruis hang omdat Hy ons liefhet en omdat Hy ons wil verlos van die dood.

God het sy eie Seun gestuur om die vlamme van die hel in te gaan om ons daarteen te beveilig. Ons mag dalk ons werk verloor, vriende verloor of selfs ons gesondheid verloor, maar ons kan daarvan seker wees dat Christus elke oomblik saam met ons sal wees omdat Hy bereid was om alleen aan die kruis vir ons te hang.

Slot:

So, die vraag is nie, “Waar is God in hierdie moeilike tye nie?” Die vraag is eintlik, “Ken jy God?”

Ken jy sy almag? Ken jy sy heerlikheid en kan jy ook soos hierdie manne sê dat jy aan God gehoorsaam sal wees, selfs as dit sy wil is dat jy moet sterf.

En bo alles, ken jy sy liefde. Liefde wat ongekend is in hierdie wêreld. Liefde wat vir vreemdelinge en vyande sterf.

Ons dien ‘n glorieryke God. Dien Hom omdat Hy waardig is om al die eer te ontvang.

32 views0 comments

Recent Posts

See All

Die rol van my gedagtes in my verhouding met God!

Lees: Efesiërs 4:17-24 Inleiding: In Efesiërs 4:17-24 beskryf Paulus die skerp kontras tussen dit wat hierdie gelowiges was toe hulle nog heidene was en dit wat hulle nou geword het in Christus[1]. E

bottom of page