top of page

Die rus wat ons in Jesus vind… - Joh. 5:1-17

Teks: Johannes 5: 1-17


Uit Jesus se verweer is dit duidelik dat die Sabbat nie so seer daaroor gaan dat jy nie mag werk nie. Hoewel daar in die 10 gebooie staan dat God op die sewende dag gerus het, wys Jesus daarop dat Hy nooit rus nie, want Hy onderhou die heelal.

So, waaroor gaan die Sabbatsrus dan?

Wanneer Jesus gekonfronteer word, is sy verweer dat Hy maar net die wil van sy Vader doen. Selfs nie die Jode se Sabbatswette kan Hom verhinder om gehoorsaam te wees aan God nie.

Werk is 'n roeping van God en daarom is ons besig om God se wil te doen wanneer ons werk.

Na die sondeval is werk ongelukkig nou nie meer net vervulling van roeping nie, maar het werk ook ons god geword. Ons gebruik ons werk om te wys dat ons waardig is. Daarom die instelling van die Sabbatsgebod. Ons word nou voortdurend daaraan herinner dat God ons identiteit moet bepaal en nie ons werk nie.

Ons weet hoe moeilik dit is. Ons identiteit is baie keer vervleg in ons werk. Daarom dat mense maklik depressief raak wanneer goed nie by die werk gebeur soos hulle beplan nie. In plaas daarvan dat ons werk ‘n roeping is waardeur ons God verheerlik, word dit 'n instrument waardeur ons onsself moet bewys.

Ons soek ons waardigheid in ons werk terwyl ons werk nie vir ons kan gee wat ons nodig het nie. Selfs al doen ons ons werk perfek, is en bly ons steeds onwaardig, want ons is bevlek met sonde.

Wat ons diepste hartsverlange is, is om volkome aanvaar te word. Om te hoor:

"Mooi so! Jy is ’n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!” (Matt. 25:23)

Ons kan hierdie wonderlike woorde hoor, alleen omdat Jesus bereid was om in ons plek deur die Vader verwerp te word aan die kruis, sodat ons volkome aanvaar kan word.

Dit is die wonder van ons verlossing! Daarom kan ons anders na ons werk begin kyk. Ons werk kan nou weer daaroor gaan om ons roeping te vervul. Ons sal dit ook reg kry om "nee" te sê wanneer ons oorwerk is, want dit is nie meer nodig om onsself te bewys nie.

Ons is reeds volkome aanvaar in Jesus Christus, ons Here!!! Kom ons leef in hierdie rus.

15 views0 comments
bottom of page