top of page

Die spieël: Help ons om die armes te respekteer!

Teks: Jakobus 2:1-17

Inleiding:

In vers 1-5 gaan dit spesifiek daaroor dat ons nie onderskeid tussen mense moet maak op grond van die uiterlike nie. Daardie uiterlike goed soos velkleur, ras, sosiale aansien, geloofsoortuigings en al die ander sake, mag nie bepaal hoe ons mense hanteer nie.

Die res van hoofstuk 2 gaan oor die oproep tot respek. Indien mense se uiterlike bepaal hoe ons hulle hanteer, dan wys dit dat ons hulle minag. Ons sal hulle nie die nodige respek gee wat hulle toekom nie.

So kom ons begin deur te kyk na:

1. Die oproep – respekteer mekaar

Jakobus wys ons wat die gevolg daarvan sal wees as ons diskrimineer. Die gevolg is minagting. Dis wat hy in vers 6 sê:

“Maar julle behandel die arm man met minagting.” (Jak. 2:6)

Indien ons as kerk, die armes met minagting hanteer, dan is ons niks anders as die wêreld nie. Daarom roep Jakobus ons hier op om die armes te respekteer.

In die kerk mag minagting nie toegelaat word nie, want die kerk mag nie soos die wêreld oordeel nie. Die kerk moet oordeel soos God.

Daarom sê Jakobus in vers 5:

“Kies God nie juis dié uit wat in die oë van die wêreld arm is, om ryk te wees in die geloof en om die koninkryk in besit te neem wat Hy belowe het aan dié wat Hom liefhet nie?” (Jak. 2:5)

God kyk totaal anders na mag, en aansien en rykdom wanneer Hy kies. In die Ou Testament sien ons dat Hy juis die kleinste en minderwaardigste volkie, nl. Israel kies om sy volk te word[1]. En in die Nuwe Testament sien ons dat Jesus, onder andere by die tollenaar en sondaars tuis gaan. Hy sê ook:

“Dié wat gesond is, het nie ’n dokter nodig nie, maar dié wat siek is.” (Mark. 2:17)

Daarom kan ons sê dat God veel eerder na ‘n sekere gesindheid kyk. Hy kies die een wat besef hoe afhanklik, hoe swak en hoe sondig hy is. Dis die mense wat gereed is om God as Koning in hulle lewens te kroon.

Dis hierdie mense wat God vereer deur hulle waardig te maak om sy koninkryk te ontvang[2]. En as dit die geval is, dan mag ons hulle nie minag nie.

Daarom mag die kerk nie die wêreldse manier van onderskeid gebruik nie[3]. Ons moet kyk na die persoon se hart en gesindheid soos God doen.

Dan sal ons wysheid hê om te sien dat daardie persoon met die ou klere aan, ryk is in God se oë.

Indien ons mense aan die uiterlike oordeel, sal ons hulle minag wat God gekies het as sy kinders[4]. Daarom hierdie opdrag tot respek!

2. Die realiteit

Die realiteit is egter dat dit vir ons moeilik is om volgens hierdie standaard te oordeel.

Dit kom vir ons amper natuurlik om sekere mens te respekteer en ander nie. Dis maklik om respek te het vir die een wat ryk is, en wat cool is, en wat suksesvol is, want ons wil graag met hulle assosieer. Maar daardie status maak ook dat ons maklik hulle sonde sal ignoreer.

Aan die ander kant wil ons nie met die armes, en weerlose, en onsuksesvolle persoon assosieer nie en daarom minag ons hulle. En Jakobus gee dan drie voorbeelde van hoe die wêreld die armes minag.

Die wêreld minag deur uit te buit

“Is dit nie die rykes deur wie julle uitgebuit word nie…” (Jak. 2:6)

Wat Jakobus hier beskryf, stem ooreen met wat ons weet van die omstandighede in die eerste-eeuse Midde-Ooste. Daar was ‘n klein groepie ryk grondeienaar en handelaars wat al die mag en rykdom besit het. Daardie mag en rykdom het veroorsaak dat hulle mense uitgebuit het en dit het tot gevolg gehad dat groot getalle mense uit hul land gedwing is en nog armer geword het[5].

‘n Persoon wat mense uitbuit ter wille van sy eie gemak en gerief, het geen respek vir die arm persoon nie. Hy is so omring met sy gemaklike lewe dat hy nie meer daartoe in staat is om die nood waarin die arm persoon verkeer te verstaan nie.

‘n Mens sien hierdie minagting ook dikwels in die manier hoe ons die armes help. Ons minagting word duidelik wanneer ons gee met allerhande voorwaardes[6].

Ons verwag dat daardie persoon wat ons help, net dankbaar moet wees vir wat ons hulle gee. Ons bewys hulle mos ‘n guns! Daarom moet hulle selfs ook tevrede wees met die ou goed wat ons vir hulle gee. Ons wil dit nie eens meer hê nie, maar hulle moet net tevrede wees. – Sien jy die minagting daarin?

Ek moet gemaklik leef, maar jy moet net tevrede wees.

Die wêreld minag deur hof toe te sleep

In daardie tyd het dit veral gebeur dat die rykes die Christene voor die hof gedaag het, omdat hulle geweet het dat die sekulêre hof in hulle guns sal beslis omdat niemand van die Christene gehou het nie[7].

Die rykes het m.a.w. hul rykdom en invloed misbruik om hulle sin te kry. Hier gaan dit daaroor dat die arm persoon geïgnoreer word! Die ryke luister nie wat op die persoon se hart is nie en sodoende word die arm persoon geminag.

Hierdie tipe minagting sien ons duidelik in die voorbeeld wat Jakobus in vers 15-16 gee. Die noodkreet word geïgnoreer, want die ryke is nie bereid om van sy gemak op te offer om die arm persoon se nood te verander nie. Hy is nie bereid om aan hom te gee wat hy nodig het nie.

Dis soos wanneer ‘n persoon wat sukkel, gedwing word om sy grond te verkoop omdat hy sy verbandlening laat betaal het. Daar word nie na die persoon se nood gekyk nie om te sien hoe hy gehelp kan word nie. Sy eiendom word eenvoudig net gevat.

Of dis om die arm persoon te help met geldelike hulp, maar dan is die rentekoerse buitengewoon hoog[8].

So word daardie arm persoon se situasie uitgebuit om die ryke, net nog ryker te maak.

Daardeur word die arm persoon ook geminag.

Die wêreld minag deur sy goeie naam te skend

“Is dit nie hulle wat die goeie Naam skend van Hom aan wie julle behoort nie?” (Jak. 2:7)

Die Griekse woord wat met “Naam skend” vertaal is, wys in die diepste sin van die woord se betekenis, na die Naam van God wat geskend word. Daarom dat die vertalers die woord “Naam” met ‘n hoofletter begin.

Maar die woord het ook ‘n breër betekenis waar dit verwys na die indirekte laster teen God. Dit verwys dan na kritiek wat teen gelowiges gegee word. Daardie kritiek is indirek teen God, want hulle is sy eiendom. Dis sy kinders.

Dit sluit ook aan by die konteks van hierdie gedeelte, want in vers 5 sê Jakobus dat God juis die armes gekies het en dan word die armes geminag. Daardie minagting kan dus ook gesien word as naamskending[9].

Indien jy ‘n skildery beledig, dan beledig jy mos eintlik die skilder. Net so beledig jy God, as jy sy skepsel beledig.

In daardie konteks is ons ook besig om die armes se goeie naam te skend wanneer ons vir hulle sê of wanneer ons dink dat hulle omstandighede hulle eie skuld is.

Ek het mos hard gewerk om te kan wees waar ek vandag is en daarom moet hulle ook harder werk! Maar kom ons wees eerlik. Daar is mense wat baie hard werk en steeds baie arm is. Daarom is dit minagtend om so te praat.

Wie het in elk geval bepaal dat jy die werk kry wat jy het, en die opleiding wat jy het, en dat jy die ouerhuis kon kry waarin jy gebore is.

So, Jakobus roep ons hier daartoe op om respek te hê vir mense al respekteer die wêreld hulle nie!

Maar nou kan jy vra, “Is hierdie saak werklik so groot probleem?” “Ons onderhou so baie van die ander opdragte van die Here. [10]

Maar kyk wat sê Jakobus hier.

“So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood.” (Jak. 2:17)

Indien ons nie respek toon nie, is ons geloof dood. En daarom is respek, die maatstaf vir ‘n lewende of dooie geloof.

3. Kyk in die spieël

In vers 8-13 neem Jakobus ons terug na die spieël. En kyk hoe doen hy dit.

Hy begin deur vir ons te wys hoe vuil ons is. In vers 10 sê hy:

“As iemand die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, is hy skuldig ten opsigte van al die gebooie.” (Jak. 2:10)

Kom ons kyk saam met Jakobus in hierdie spieël!

Indien ons onderskeid maak tussen die rykes en die armes, dan sal dit gebeur dat ons die rykes ten koste van die armes bevoordeel. Die gevolg is dat ons dit vir die arm persoon moeilik maak om te leef. En as ons dit vir die arm persoon moeilik maak om te leef, dan is ons mos in werklikheid besig om hom dood te maak[11].

So, hierdie spieël wys ons aan die eenkant dat ons oortreders van die hele wet van God is. Ons is slegter as wat ons gedink het!! Ons verdien die oordeel van God.

Maar dan kom Jakobus in vers 12 en sê:

“Praat en tree dan op soos mense wat geoordeel sal word volgens die wet wat vry maak.” (Jak. 2:12)

As gelowiges word ons geoordeel volgens die wet wat vry maak!

Ons verdien om as vervloektes aan ‘n kruis opgehang te word, maar omdat Christus reeds in ons plek gekruisig is, kry ons die liefde en aanvaarding wat Hy verdien. Daarom, indien ons mense minag op grond van hulle uiterlike, dan verstaan ons nog nie hierdie verlossing nie[12].

Wanneer ons in die spieël kyk van Christus se verlossing dan sien ons hoe Hy ons uit ons geestelike armoede uitgeruk het. Hy gee ons die beste. Hy gee ons alles wat ons nodig het. Hy sterf sodat ons ryk kan word.

Alleen daardie genade en liefde kan ons gesindheid teenoor die armes verander.

‘n Gelowige kyk nie na mense deur die bril van sosiale aanvaarbaarheid, rykdom en mag nie, maar deur hierdie bril van Christus se verlossing. Ons moet na mense kyk as verlostes. Ons moet hulle sien as geliefdes van die Here. Hy het immers ook vir hulle gesterf.

Indien ons mense minag, wys dit dat ons nog nie hierdie barmhartigheid van God in Christus gesien het nie[13].

Maar die teendeel is ook waar. Indien ons barmhartigheid aan ander bewys, is dit ‘n teken daarvan dat ons God se genade, barmhartigheid en liefde verstaan en ontvang het[14]. Daardie liefde maak dat ons mense wil respekteer, soos ons in Christus gerespekteer word al verdien ons dit nie.

Slot:

Ons het nodig om gereeld in hierdie spieël te kyk. Ons moet besef hoe sleg ons is. Ons is so sleg dat die grote God vir ons moes kom sterf. Daar is geen ander manier hoe Hy ons uit ons ellende kon red nie.

Maar die spieël/woord wys ons ook ter selfde tyd hoe geliefde ons is. Hoe lief moet God nie vir ons wees nie, dat Hy bereid was om vir ons te sterf. Hy skenk ons sy rykdom in oorvloed!

Gaan dan en gaan kyk na mense vanuit hierdie liefde wat God aan ons bewys het.

Gee aan ander dieselfde respek as wat jy in Christus, uit genade ontvang het.

[1] Martin, R. P. (1988). James (Vol. 48, pp. 64–65). Dallas: Word, Incorporated. [2] Die brief van Jakobus. (1998). (p. 3). Kaapstad: N G Kerk-Uitgewers. [3] Moo, D. J. (2000). The letter of James (p. 106). Grand Rapids, MI; Leicester, England: Eerdmans; Apollos. [4] Davids, P. H. (1994). James. In D. A. Carson, R. T. France, J. A. Motyer, & G. J. Wenham (Eds.), New Bible commentary: 21st century edition (4th ed., pp. 1359–1360). Leicester, England; Downers Grove, IL: Inter-Varsity Press. [5] Moo, D. J. (2000). The letter of James (pp. 108–109). Grand Rapids, MI; Leicester, England: Eerdmans; Apollos. [6] Keller, T. J. (2013). The Timothy Keller Sermon Archive. New York City: Redeemer Presbyterian Church. [7] Davids, P. H. (1994). James. In D. A. Carson, R. T. France, J. A. Motyer, & G. J. Wenham (Eds.), New Bible commentary: 21st century edition (4th ed., p. 1360). Leicester, England; Downers Grove, IL: Inter-Varsity Press. [8] Moo, D. J. (2000). The letter of James (p. 109). Grand Rapids, MI; Leicester, England: Eerdmans; Apollos. [9] Moo, D. J. (2000). The letter of James (p. 109). Grand Rapids, MI; Leicester, England: Eerdmans; Apollos. [10] Davids, P. H. (1994). James. In D. A. Carson, R. T. France, J. A. Motyer, & G. J. Wenham (Eds.), New Bible commentary: 21st century edition (4th ed., p. 1360). Leicester, England; Downers Grove, IL: Inter-Varsity Press. [11] Davids, P. H. (1994). James. In D. A. Carson, R. T. France, J. A. Motyer, & G. J. Wenham (Eds.), New Bible commentary: 21st century edition (4th ed., p. 1360). Leicester, England; Downers Grove, IL: Inter-Varsity Press. [12] MacArthur, J., Jr. (Ed.). (1997). The MacArthur Study Bible (electronic ed., p. 1929). Nashville, TN: Word Pub. [13] Vosloo, W., & van Rensburg, F. J. (1993). Die Bybel in Praktyk (Nuwe Vertaling) (Jas 2:12). Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy. [14] MacArthur, J. F., Jr. (2006). The MacArthur study Bible: New American Standard Bible. (Jas 2:13). Nashville, TN: Thomas Nelson Publishers.

28 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page