top of page

Die uiteinde van geloof is vreugdevolle lag

Teks: Genesis 21:1-7

Hierdie is die hoogtepunt van die verhaal. Abraham en Sara het 'n lang geloofspad geloop tot hier. Ongeveer 25 jaar is daar gewag, voor hierdie belofte van die Here 'n werklikheid geword het.

Dit is ook veral belangrik om te sien dat dit 'n geloofspad is waarin daar baie geval is. Daar word byvoorbeeld twee keer gejok deur te sê dat Sara sy suster is. Daar is planne gemaak vir serogaatskap en daar word spottend gelag oor die belofte dat die kind 'n werklikheid sal word.

Die belangrike is dat ons hiermee kan assosieer. Om te glo is nie maklik nie omdat geloof van ons verwag om aan iets vas te hou wat ons nie kan sien nie en wat ook menslik onmoontlik lyk.

Geloof is 'n pad wat beteken dat die wêreld spottend en veragtend na ons kyk oor dit waarvoor ons staan en waaraan ons vashou. Dit is 'n pad waarop ons dikwels ook na onsself kyk en spottend wil lag. Die pad van geloof is beslis nie maklik nie.

Hierdie gedeelte wys ons egter dat die gelag van bespotting verander is in ‘n gelag van vreugde. Daarom het die Here ook vir Abraham beveel om hierdie seun Isak te noem, want hy het gelag toe God aan hom die belofte bevestig het (vgl. Gen. 17:17).

Iets hiervan sien ons in Jesus. Hy is bespot en spottend word vir Hom gelag wanneer Hy aan die kruis hang. Daar word dan ook spottend gesê:

“Ander het hy gered; homself kan hy nie red nie!” (Mark. 15:31)

Hierdie gespot verander egter in 'n vreugdevolle lag wanneer Jesus uit die dood opstaan en telkens aan sy dissipels verskyn. Hulle lag van vreugde wanneer die Gees soos tonge van vuur oor hulle uitgestort word.

So word Jesus se opstanding ons herinneringsteken dat ons nie moet lag in ongeloof nie. Ons kan met vreugde uitsien na die dag wanneer dit wat God beloof het, 'n werklikheid sal word. Die dag wanneer Christus weer kom om aan ons die beloofde land te gee. Die dag wanneer een groot volk, wat bestaan uit verskillende tale en nasies, soos een man lof sal toebring aan die Almagtige God (vgl. Op. 7:9-17).

Vrae tot introspeksie:

a) In watter situasie het jy al gevoel om in kleingeloof te lag vir die onmoontlike situasie?

b) Hoe bemoedig hierdie gedeelte jou om vas te staan in jou geloof?

27 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page