top of page

Doen alles uit liefde vir Christus

Teks: Genesis 24:28-41

In hierdie gedeelte word ons kortliks aan Lanban bekendgestel.

Ons leer hom hier ken as ‘n persoon wat ingestel is op die materiële, want toe Laban die geskenke sien en hoor van al die kamele, het hy vinnig na die slaaf toe gehardloop wat nog by die put gestaan het.

Uit hierdie gedeelte sien ons dat die motivering vir Laban se gasvryheid nie goedgesindheid en liefde is nie, maar voorspoed en rykdom.

Dit moet ons ongetwyfeld ook laat nadink oor ons eie motivering vir gasvryheid en die goeie dinge wat ons vir ander doen, want net soos in Laban se geval, sal ons ook baie leer van ons eie karakter in dit wat ons doen. Ons besluite wys ons duidelik op dit wat ons dryfkrag in die lewe is.

Die dryfkrag in Laban se lewe was die najaag van besittings. Dit word later nog duideliker wanneer Jakob vir Laban werk (vgl. Gen. 29 & 30).

Dit is belangrik dat ons moet kyk wat die dryfkrag agter daardie groot besigheidstransaksie is. Wat is die dryfkrag agter die tipe boeke wat jy lees. Wat is die dryfkrag agter die Bybelstudies wat jy bywoon.

Ons moet seker maak dat die dryfkrag altyd die gehoorsame soeke na God se wil is en nie die begeerte na mag, seks, geld of plesier nie. Jesus identifiseer hierdie einste probleem by die fariseërs en dan haal Hy Jesaja aan as Hy sê:

“Hierdie volk eer My met hulle mond, maar hulle hart is ver van My af. Dit help niks dat hulle My probeer dien deur leerstellings van mense as gebooie van God voor te hou nie.” (Matt. 15:8-9)

Die vrug van ‘n mens se lewe, of dit nou vêr of naby God is, word met tyd sigbaar in jou lewe. Daarom is dit so mooi wanneer Jesus sê:

“My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi.” (Joh. 4:34)

So word dit vir ons baie duidelik wat Jesus se gesindheid is. Sy lewe gaan daaroor om die wil van die Vader te doen. Selfs die lydensweg wat Hy bereid was om te loop, was in gehoorsaamheid aan die Vader en uit liefde vir ons (vgl. Op. 1:5).

Daarom is dit ook opvallend om te sien wat God se dryfkrag agter die verlossings plan is.

“God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.” (Joh. 3:16)

Dis alleen op grond van God se liefde vir ons dat ons gered is. Daarom is dit hierdie liefde wat ons in Christus kry wat ons gesindheid moet bepaal. Ons gasvryheid, liefde, goedgesindheid, godsdienstigheid en elke ander aspek van ons lewe, moet deurweek wees met hierdie liefde wat ons in Christus ontvang het.

Vrae tot introspeksie:

a) Dink aan ‘n geleentheid waar jou gesindheid gespruit het vanuit opregte liefde en ‘n geleentheid waar jou gesindheid gespruit het vanuit selfsugtige bedoelings.

b) Hoe kan jy jou hart meer rig op die goedgesindheid van Christus teenoor jou sodat jou lewe ook deur daardie gesindheid gekenmerk kan word?

20 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page