top of page

Jesus beklee ons met sy heerlikheid

Teks: Genesis 37:1-11

Klere het ‘n belangrike rol gespeel in die sin daarvan dat dit ‘n simbool van status was. In hierdie verhaal sien ons dat Jakob vir Josef hierdie spesiale klere gemaak het.

Dit was die gebruik om vir die seun wat die toekomstige leier van die huis sal wees, met spesiale klere te beklee. Dit was ‘n eer wat gewoonlik aan die eersgeborene gegee is.

Ons sien ook later in die verhaal (Gen. 41:42) dat klere ‘n simbool van eer is, wanneer Josef die farao se droom uitlê, want die farao gee hom dan ‘n nuwe kleed om aan te trek as teken van die eer wat hy ontvang.

Die teenoorgestelde is natuurlik ook waar. Toe Josef se broers beplan om hom te verkoop, was die eerste ding wat hulle doen om die spesiale klere wat deur sy pa gemaak is, uit te trek (vgl. Gen. 37:23).

Die drome wat Josef gehad het, het ook nie die situasie gehelp nie, want die drome het in ‘n sekere sin bevestig wat in die klere gesimboliseer word. Daarom het die broers dit afgeskiet as iets wat Josef homself verbeel. Hulle het dit geïnterpreteer as hoogmoed van Josef se kant.

Jakob se eerste indruk was dieselfde as die broers s’n en daarom berispe hy vir Josef, maar hy het bly nadink oor hierdie drome.

Hier is dus ‘n paar dinge wat aan ons beskryf word om die gedrag (afkeer) van die broers te verklaar. In vers 2 word genoem dat Josef slegte stories oor sy boers by sy pa aangedra het. In vers 3 word genoem dat Israel die liefste was vir Josef omdat hy die oudste seun van sy liefling vrou, Rebekka was. Daarom het Josef ook die spesiale klere gekry. Dan kry Josef ook twee drome wat wys dat sy familie voor hom buig as leier (vs. 6-9).

Hoewel dit so is dat Israel (Jakob) nie reg opgetree het deur vir Josef voor te trek nie, het dit steeds nie die broers die reg gegee om hul emosies vrye teuels te gee nie.

Dit is ook presies wat ons dikwels doen. Ons kyk na die onregverdigheid van die lewe en dan eien ons onsself, op grond van die onreg wat ons aangedoen is, die reg toe om verkeerd op te tree.

Ons sê mense sleg omdat hulle ons sleg behandel het. Hulle verdien nie daardie klere (eer) nie. Ons verdien dit veel meer. Of ek het hard gewerk vir die pos en nou kry hierdie ander persoon die aanstelling wat glad nie die kwalifikasies het nie. Op grond daarvan eien ons onsself dan die reg toe om die lewe vir daardie persoon moeilik te maak. Die gevolg van ons afkeer is dat ons mense van hulle eer wil beroof. Ons wil hierdie kleed wat aan hulle gegee is, vernietig.

Indien ons dieper kyk sal ons dus sien dat Josef se broers en ons afkeer teenoor hierdie mense wat voorgetrek word, gevoed word deur ons eie onsekerheid.

Ons word gevul met hierdie afkeer omdat ons bedreig voel. Ons is bang dat ons toekoms, erfenis, verhouding, gesondheid…. vernietig word.

Daarom gee die evangelie aan ons ‘n heerlike sekerheid.

God gee elkeen sy regmatige plek.

Wanneer ons verder kyk in die geskiedenis, dan sien ons dat God in beheer was en nie die mens nie. Ten spyte van Israel se pogings om Josef as leier van sy familie te kroon, het God vir Juda gekies. Die konings van Israel is uit die stam Juda gebore.

Daarin sien ons dat ons nie moet vas kyk in die onreg wat mense ons aandoen nie. Ons moet leef met die wete dat God in beheer is. Hy bepaal elkeen se toekoms en ons moet daarby berus.

Maar die heerlikste troos is:

Ons toekoms staan vas in Christus.

Niemand kan ons toekoms vernietig nie, want ons toekoms word nie deur mense bepaal nie. Ons toekoms is reeds bepaal in Christus.

Wat regverdig sou wees, is dat ons doodgemaak moes word vir die sonde wat ons daagliks teen God en ons medemens doen, maar Jesus is in ons plek doodgemaak. Sy klere word uitgetrek. Hy is verneder, sodat ons verhoog kan word. En as waarborg van hierdie heerlike toekoms wat vir ons voorlê, gee Hy aan ons die Heilige Gees. Daarom sê Paulus:

“Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos. Daarom moet ons sy grootheid prys.” (Ef. 1:14)

Die Heilige Gees bevestig elke dag aan ons deur die Woord, dat ons kinders van God is (vgl. Rom. 8:15). Daarom kan elke gelowige nou met hierdie sekerheid leef en dis net hierdie sekerheid wat ons die krag kan gee om nie te voel dat ons onregverdig behandel word nie. Ons is geseën met die heerlikste verlossing in Christus en daarom is dit nie nodig om ‘n afkeer van enigiemand te hê nie.

Ons het nie nodig om ander se kleed te vernietig nie, want ons is self beklee met die heerlikste kleed van Christus se verlossing.

Vrae tot introspeksie:

a) Watter pogings het jy al aangewend om mense van hulle eer te ontneem omdat jy daarvan oortuig was dat jy die eer verdien het, eerder as hulle?

b) Watter troos vind jy in hierdie gedeelte?

38 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page