top of page

Jesus help ons om staande te bly

Teks: Johannes 16:1-4

Teksvers: Joh. 16:4

Die Griekse woord wat hier gebruik word en vertaal is met "afvallig word", herinner aan iemand wat 'n strik vir 'n persoon stel. Net so sal die wêreld se haat teenoor die dissipels wees. Die wêreld sal daarop uit wees om die dissipels van Jesus tot afval te dwing.

Die manier hoe hulle dit doen sal ook wys hoe desperaat die wêreld is. Jesus noem die voorbeeld van om uit die sinagoge geban te word. Dit beteken dat gelowiges uit die volksgemeenskap verwerp sal word. Daardie kosbare erfenis wat elke Jood koester, juis daarvan sou hulle afgesny word. Hulle sal nie langer as Jode geag word nie. Amper soos die Samaritaanse gemeenskap.

Hulle sal selfs so ver gaan om te dink dat hulle 'n diens aan God bewys wanneer hulle die dissipels van Jesus doodmaak. Dit herinner weer aan die heidense gebruik om mense aan die gode te offer.

Ons sien ook die realiteit hiervan kort na Jesus se dood. Paulus was een van die groot vervolgers van die kerk. Hy het bygestaan toe Stefanus gestenig is en dit is gedoen "in diens van God". Daarna het Paulus tot bekering gekom en die vervolgde geword.

Met hierdie woorde is Jesus besig om sy dissipels voor te berei vir wat vir hulle in die toekoms voorlê. Wanneer ons weet wat vir ons voorlê, help dit ons in 'n sekere sin om die lyding te aanvaar. Indien hulle dit nie geweet het nie, sou hulle voortdurend gewonder het of hulle nie dalk iets verkeerd gedoen het en nou deur God gestraf word nie.

Om dieselfde rede is dit vir ons as gelowiges ook belangrik om te weet dat dissipelskap nie altyd maklik is nie. Ons moet besef dat ons lewens op die spel is. Ons beleef ook soortgelyke vervolging. Jy word dalk gedreig dat jy jou werk sal verloor indien jy nie die waarheid verswyg nie. Dalk kan jy nie daardie bevordering kry indien jy nie bereid is om oneerlik te wees nie. Net so word daar dalk van jou verwag om omkoopgeld te betaal.

Dit is dan juis in tye soos hierdie wat ons aan hierdie woorde van Jesus moet vashou. Hier word gebruik gemaak van woordspeling. In hoofstuk 13:1 staan dat Jesus geweet het dat die tyd vir Hom aangebreek het om gekruisig te word.

In hierdie gedeelte sê Jesus nou dat die vyand ook so tyd het. Waar Jesus se tyd beteken dat hy verneder en doodgemaak sal word, beteken die vyand se tyd dat hy hoogty sal vier. Dit sal selfs lyk asof die bose oorwin het.

Wanneer dit daarom vir ons voel of die bose in beheer is en die oorwinning behaal het, dan kan ons terugdink aan Jesus se tyd. Dit was ook 'n tyd waar die vyand 'n skyn oorwinning gevier het. Dit het gelyk of daar met Jesus afgereken is, maar dit was lank nie die einde nie. Jesus het uit die dood opgestaan, Hy het opgevaar na die hemel en van daar regeer Hy nou oor hemele en aarde.

Aan daardie oorwinning van Jesus moet ons vashou. Hy is in beheer en ons kan Hom met ons lewe vertrou. Ons vyand se dood is nader as ooit.

Moenie voor die versoekings buig en val nie. Onthou, jy het baie groter rykdom, sekuriteit en familie in Christus.

Vrae tot introspeksie:

a) Watter aanslae het jy al in hierdie lewe beleef?

b) Hoe help hierdie gedeelte jou om nie oor te gee aan versoekings of swaarkry nie?

24 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page