top of page

Leef in ‘n verbondsverhouding met God!

Teks: Jakobus 4:1-10

Inleiding:

In hierdie gedeelte gee Jakobus ons so bietjie meer insae in die situasie van die destydse kerk aan wie hy hierdie brief geskryf het.

Hy beskryf die situasie in die kerk met woorde soos: selfsug, moord pleeg, jaloesie, rusie en baklei. Dis woorde waarmee ons, wat deel is van die moderne kerk, ook kan assosieer. Ons sien hierdie selfsug en rusie in die kerk, in ons huwelike en oral in ons lewens.

Wat Jakobus dan doen is opvallend. Hy wys ons hoe hierdie stryery lyk van uit God se oë.

Die rede vir al hierdie onmin is nie omdat ons God lief het en dalk sy eer soek nie. Die rede vir al die onmin is gewoonlik as gevolg van ons selfsugtige begeertes[1].

Wat dan nog meer interessant is, is die metafoor wat Jakobus in vers vier gebruik. Ongelukkig word dit nie so duidelik vertaal in die 83’ vertaling nie, maar in die Nuwe Direkte Vertaling kry ons ‘n meer letterlik vertaling as daar staan:

“Egbreeksters! Weet julle dan nie dat vriendskap met die wêreld vyandskap teen God beteken nie?” (Jak. 4:4 NDV)

Jakobus spreek die hele gemeente aan as egbreeksters.

En wat interessant is van die spesifieke Griekse woord, is dat dit die vroulike vorm van die woord is, want die woord word gewoonlik figuurlik gebruik om die kerk se ontrouheid aan God as haar man, aan te dui[2].

Daar is baie sulke metafore in die Bybel, want dit is ‘n praktiese manier om iets van ons verhouding met God te beklemtoon. Daar is byvoorbeeld die metafoor van die Herder en die skape. Daardie metafoor beklemtoon dat ons soos skape is, wat afhanklik is van ons Herder.

Daar is die metafoor van die boer en die wingerd wat beklemtoon dat God sy volk kies en hulle versorg. Net soos ‘n boer sy wingerd versorg, so versorg die Here sy kerk.

Net so is daar ook hierdie besondere metafoor van God en sy volk wat deur die verbond, aan mekaar verbind is. Die verbond is soos ‘n huwelik tussen ‘n man en vrou[3]. En wanneer jy die verbond verbreek, is jy ‘n egbreekster.

So die huweliksmetafoor beklemtoon in besonder die getrouheid, liefde, toewyding, opoffering en intimiteit wat daar in ons verhouding met God moet wees.

‘n Mooi voorbeeld van waar hierdie metafoor gebruik word, is in Esegiël 16 waar die Here vir die volk sê:

“Ek het jou soos ’n veldplant laat groei, en jy het gegroei en grootgeword. Jy het ’n pragtige meisie geword, jou borste het styf geword en jou hare lank. Maar jy was kaal, jy het nie klere gehad nie. Toe Ek by jou verbykom en sien dat jy volwasse begin word, het Ek jou onder my sorg geneem en vir jou klere aangetrek. Ek het My met ’n eed aan jou verbind en met jou ’n verbond aangegaan, sê die Here my God.” (Eseg. 16:7-8)

Hoor jy die intimiteit, liefde, toewyding, genade, opoffering en getrouheid in hierdie woorde?

Met dit in gedagte sal vers vyf ook meer sin maak. As daar staan:

“Of dink julle dat die Skrif sonder rede sê dat God die gees wat Hy in ons laat woon, heeltemal vir Homself wil hê?” (Jak. 4:5)

Hierdie vers beklemtoon God se liefdesverhouding met ons. Hy wil nie ons gees met enige iemand anders deel nie[4]. Dis met goeie rede dat Hy ons gees net vir Homself wil hê. Hy is ons eggenoot wat besorg is oor ons en Hy het Homself volkome aan ons verbind.

Indien ons besef wat hierdie verhouding behels, sal ons nie vriend van die wêreld wil wees nie. Ons staan in ‘n innige en diep verhouding met God en die gevolg sal wees dat ons onsself aan God se wil sal onderwerp. Ons sal ons lewe aan Hom in liefde toewy.

Die hartseer werklikheid is egter dat ons dade dikwels wys dat ons vriend van die wêreld is. Ons neem iets in die wêreld en dan sit ons onsself in die arms van daardie ding wat ons begeer. Ons is egbreeksters en die vrug daarvan is altyd sonde.

Kom ons toets gou onsself. Dink aan iets waaroor jy jouself baie kan bekommer. Dis dalk jou gewig, of jou kinders, of jou reputasie, of jou werk, of jou gesondheid. Dis alles mooi en goeie dinge, maar dis alles deel van hierdie wêreld.

Die manier hoe jy nou sal weet of jy in ‘n buite egtelike verhouding met hierdie goed het, is wanneer dit die middelpunt van jou lewe begin word. Dis voortdurend in jou gedagtes. Jy praat gereeld met mense daaroor. Jy het by die punt gekom om te dink dat jy nie daarsonder sal kan leef nie. Jy het selfs slapelose nagte daaroor!

Daarom voel dit of jou lewe uitmekaar begin val wanneer jy gewig optel, of wanneer jou kind seer kry, of wanneer iemand iets slegs van jou sê, of wanneer dit lyk of jy jou werk gaan verloor, of wanneer jy siek word.

Dis alles die gevolg daarvan dat jy jouself aan hierdie goed verbind het. Hierdie buite-egtelike verhouding met aardse goed veroorsaak dat jy in bekommernis en selfs angs verval.

Hierdie buite-egtelike verhouding maak van jou ‘n bitter en selfsugtige mens en dit wek groot aggressie in jou [5]. En Jakobus sê hier, dis waar al die rusies vandaan kom.

Jakobus wys ons hier dat indien jy hierdie tekens van sonde in jou lewe sien, dan moet jy weet dat jy ‘n egbreekster is. Jou verhouding met die Here is nie meer jou primêre verbintenis nie. Jy is besig om jouself aan iets van hierdie wêreld te verbind.

Maar, Jakobus gee dan ook aan ons die oplossing. Hy sê in vers 7:

Onderwerp jou aan God:

“Onderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug.” (Jak. 4:7)

Hierdie is huwelikstaal want Paulus gebruik dieselfde woord wanneer hy met mans en vrouens praat wat getroud is.

Om jouself aan iemand te kan onderwerp, moet jy nederig wees. Jy moet dit wat jy graag sou wou hê, los en doen wat die ander persoon van jou verwag. Hoogmoed en selfsug moet plek maak vir nederigheid. En wanneer ons dit doen, dan kry ons die oorvloedige genade van God. Die Egbreeksters word herstel in hulle verhouding met Hom[6].

Maar, om jouself so te onderwerp aan iemand anders se genade is baie moeilik, want jy is dan van iemand anders se genade afhanklik. Dis moeilik, behalwe as jy die persoon vertrou en as jy weet dat hy/sy wys is.

In Christus ken ons die liefde, genade en wysheid van God. Hy is getrou al is ons ontrou!! Daarom kan ons onsself aan God onderwerp. Hy weet beter. Hy is in beheer. En deurdat ons onsself aan Hom onderwerp, is ons besig om die duiwel teë te staan.

Maar, ons moenie net onsself aan God onderwerp nie, ons moet ook tot Hom nader.

Nader tot God

“Nader tot God en Hy sal tot julle nader. Was julle hande, sondaars, en reinig julle harte, huigelaars. Bekla julle ellende, treur en huil!” (Jak. 4:8-9)

Hierdie beskrywing wys ons hoe ons onsself ook aan God moet toewy in hierdie verbondsgemeenskap wat daar tussen ons en God is.

Ons behoort aan Hom. Ons is sy eiendom en daarom moet ons onsself aan hom toewy.

Die probleem is dat dit vir ons moeilik is om onsself aan iemand toe te wy en ons sien dit in ons verhoudings met ons medemens. Dis moeilik omdat ons bang is vir verwerping. Ons hou mense op ‘n afstand want ons wil nie hê dat hulle ons te goed moet leer ken nie.

Die ideaal is natuurlik dat ‘n persoon jou ken en liefhet, maar ons weet dat dit nie moontlik is nie. Dis hoekom ons vir mekaar net die helfte van die waarheid vertel. Die deel wat ons in ‘n goeie lig stel.

Dis hoekom ‘n jong meisie gou inspring en haar kamer regmaak wanneer sy hoor dat haar vriend kom kuier. Ons is bang dat wanneer mense ons ken, dat hulle ons dan nie meer sal liefhê nie.

Daarom is dit soveel te meer moeilik om ons aan God toe te wy. Die Psalm digter sê in die verband:

“Here, U sien dwarsdeur my, U ken my. Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom. Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit, U is met al my paaie goed bekend. Daar is nog nie ’n woord op my tong nie of U, Here, weet wat dit gaan wees.” (Ps. 139:1-4)

Vir ‘n sondige mens is hierdie woorde angswekkend! Hoe is dit moontlik dat God ons nog sal liefhê indien Hy alles van ons weet.

Die gevolg is dat ons op een van twee manier die sonde in ons lewe probeer wegsteek. Sommige mense hanteer hierdie skuldgevoel deur allerhande mooi goed te doen. Hulle gaan kerk toe, en lees bybel en help die armes. En op die manier probeer hulle hulself regverdig. Hulle wil wys dat hulle nie so sleg is nie.

Ander hanteer hul skuldgevoel weer deur heeltemal weg te breek van die Here af. Hulle onttrek van enigiets wat met godsdiens te doen het en wat hulle kan herinner aan hulle sonde.

Hoe ons die sonde egter moet hanteer is om ons harte te reinig en deur ons sonde voor God te bekla.

Ja, dit gaan teen alle logiese denke in! Want sal God ons dan nog kan liefhê?

Die evangelie leer ons dat ons ‘n God aanbid wat ons tot in ons diepste wese ken. Hy ken ons ontrouheid. Hy ken ons vrees en kleingeloof en tog het Hy ons ook oneindig lief[7].

Daarom kan ons tot Hom nader.

Ons moet sien hoe Jesus Christus aan die kruis sterf omdat ons teen Hom gesondig het en tog het Hy ons nie verlaat nie. Hy red ons van die dood wat ons ewig van Hom sou skei. In Jesus kry ons hierdie volmaakte liefde van iemand wat ons tot in ons diepste wese ken en tog het Hy ons ook oneindig lief.

Hoe meer ons daardie liefde sien, hoe meer sal ons die vrymoedigheid hê om tot God te nader. Hoe meer sal ons lewe aan Hom te wy.

Slot:

Hierdie volmaakte liefde wat ons in Christus kry, gee ons ‘n heerlike vrede.

Hierdie liefde help ons om nie rusiemakers te wees nie, want wanneer ons nader aan iemand beweeg en die sonde begin sien, dan sal ons nie die persoon verwerp nie. Ons sal hom liefhê met dieselfde liefde wat ons in Christus kry, want Christus ken my tot in my diepste wese. Hy ken al my ellende en tog het Hy my lief.

Ons het ook nie meer nodig om ons waardigheid in aardse goed te soek nie, want in Christus is ek geliefd. Ek is kind van God. Ek het nie meer skoonheid, of kinders of prestasies of werk nodig om waardig te voel nie.

Ek is ‘n geliefde van die hemelse Vader en Jesus se dood is die bewys daarvan.

Kom ons leef in hierdie heerlike verlossing! Kom ons wees vredemakers!

[1] Davids, P. H. (1994). James. In D. A. Carson, R. T. France, J. A. Motyer, & G. J. Wenham (Eds.), New Bible commentary: 21st century edition (4th ed., p. 1364). Leicester, England; Downers Grove, IL: Inter-Varsity Press. [2] Zodhiates, S. (2000). The complete word study dictionary: New Testament (electronic ed.). Chattanooga, TN: AMG Publishers. [3] MacArthur, J., Jr. (Ed.). (1997). The MacArthur Study Bible (electronic ed., p. 1932). Nashville, TN: Word Pub. [4] MacArthur, J., Jr. (Ed.). (1997). The MacArthur Study Bible (electronic ed., p. 1932). Nashville, TN: Word Pub. [5] Keller, T. J. (2013). The Timothy Keller Sermon Archive. New York City: Redeemer Presbyterian Church. [6] Die brief van Jakobus. (1998). (p. 3). Kaapstad: N G Kerk-Uitgewers. [7] Keller, T. J. (2013). The Timothy Keller Sermon Archive. New York City: Redeemer Presbyterian Church.

12 views0 comments

Recent Posts

See All

Komentarze


bottom of page