Teks: Genesis 5:1-32
Hoofstuk vyf is ‘n geslagsregister wat dikwels net ‘n klomp name is en met die eerste oog opslag na iets niksseggends lyk. Dit is egter nie in hierdie geval so nie.
Hierdie hoofstuk staan in kontras teenoor hoofstuk vier waar Kain se nageslag beskryf word. Dan is dit ook opvallend om te sien dat die sewende geslag van Kain, Lameg was (vgl. Gen. 4:19-24).
Hy was 'n goddelose man wat net na sy eie selfsugtige begeertes omgesien het. Hy het ook vir sy vrouens gesê:
“Ada en Silla, luister na my! Vrouens van Lameg, let op my woorde! Ek maak ’n man dood as hy my wond, ’n seun as hy my seermaak. Kain sal sewe maal gewreek word, Lameg sewe en sewentig maal!” (Gen. 4:23-24)
Hierdie geslag van Kain het hulle waardigheid in hulle eie prestasies gesoek (vgl. die dagstukkie by Gen. 4:17-26) en hulle einde was die ewige oordeel van God.
In hierdie hoofstuk leer ons nou dat die sewende geslag na Set, Henog was. Hy was 'n man wat naby God geleef het maar skielik, op 'n dag, was hy nie meer daar nie. God het hom na Hom toe weggeneem.
Set se nageslag eindig, as gevolg van die sondeval, ook in die dood maar daar is duidelik iets anders aan hierdie geslag. Hulle het hoop (vgl. Gen. 5:28). Hulle oë is nie op die tydelike gevestig nie, maar op die ewige. Hulle verhouding met God is vir hulle meer werd as enigiets wat tydelik is.
Hierdie geslagsregister moet elke mens by die volgende vrae bring: “Waarvan getuig my lewe? Waarin is my hoop en my waardigheid geanker?”
Hierdie Lameg, in Set se nageslag, noem sy seun Noag, omdat hy hulle sal opbeur (Gen. 5:28).
Ons het soveel meer hoop!! Vir ons is daar ‘n seun gebore met die Naam Jesus, wat Verlosser beteken. In Jesus breek daar vir ons hierdie nuwe moontlikheid oop. Die moontlikheid om soos Henog saam met God te kan wees.
Ons het hierdie heerlike hoop omdat Jesus namens ons gesterf het. Hy is deur God verlaat sodat ons nou by God kan wees.
Hoe kry ons deel aan hierdie heerlikheid? Deur geloof in Christus. Nie op grond van kennis, geslag, nageslag of goeie prestasies nie... Alleen deur geloof.
Gryp vas aan hierdie hoop wat ons in Christus het.
Vrae tot introspeksie:
a) Wat was vir jou opvallend van hierdie gedeelte?
b) Hoe inspireer Jesus jou om met hoop te leef?
Comments