top of page

'n Verbond wat ewig bly

Teks: Genesis 17:1-27

Hier sien ons dat God die belofte aan Abraham herbevestig. En dit is dan opvallend dat Abraham vooroor val en lag.

Hierdie reaksie van Abram wys dat hy weer terug geval het in ongeloof. Hy vertrou nie dat God die belofte wat Hy aan hom gemaak het, sal nakom nie. Die omstandighede het lagwekkend onmoontlik vir Abraham gelyk. Soveel dat hy vir God sê dat dit reg sal wees met hom as Hy maar net vir Ismael sal seën.

Ons omstandighede veroorsaak dat ons in ons eie krag vas kyk. Ons glo net wat ons sien. Ons hou aan aardse beloftes (wetenskap) vas eerder as aan God se beloftes van heil.

Daarom leer die Here die volk later:

“Jy kan dalk dink: my krag en my sterk hande het vir my hierdie rykdom verwerf. Maar jy moet die Here jou God nie vergeet nie, want dit is Hy wat jou die krag gee om die rykdom te verwerf.” (Deut. 8:17-18)

Ons gebrek aan geloof wys dat ons ook dink dat ons krag en sterk hand ons rykdom verwerf.

Die wonderlike is egter om te sien dat Abraham ten spyte van sy swakheid en ongeloof, nie deur God vervloek word nie, maar hy word geseën .

Die verbond gebruik woorde soos "vrugbaar" en "baie word" wat herinner aan die skeppingsopdrag. Daarmee wys die Here dat Hy in Abraham 'n nuwe begin maak. Abraham word uit sy ou lewe geroep tot 'n nuwe lewenswandel van getrouheid en opregtheid (vgl. vs. 1).

Dit is ook opvallend dat God sê dat die seun se naam Isak moet wees. Dit beteken lag. Daarmee sal die seun altyd vir Abraham daaraan herinner dat hy vir God gelag het.

Die wonderlike van hierdie verbond is egter dat dit 'n blywende verbond is. Dis blywend omdat dit nie van die mens se getrouheid afhanklik is nie. Dis 'n verbond wat gegrond is in die getrouheid en ewigheid van God.

Daarom was dit ook op grond van God se getrouheid dat Christus na die wêreld toe gekom het. Iemand vir wie die mens in misnoeë gelag het. Hy sterf vir ons sonde en so wys God weereens aan elkeen van ons, wat in ongeloof wil lag oor hierdie verbond, dat God getrou sal bly aan sy woord tot in lengte van dae.

Daarom moet ons ook doen wat Abraham hier doen. Hy tree op in geloof. Hy verspil nie tyd nie, maar besny elke manlike lid van sy huishouding.

Net so moet ons ook in gehoorsaamheid optree. Ons moenie enige tyd verspil nie, maar ons lewe aan God wy as lewende en heilige offer (vgl. Rom. 12:1 & 2).

Vrae tot introspeksie:

a) In watter opsig was jy al op die punt om soos Abram in ongeloof te lag vir die beloftes van God?

b) Hoe vertroos hierdie gedeelte jou?

22 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page