top of page

Ons moet Christus bo alles lief hê

Teks: Genesis 41:17-32

Hier is dit belangrik om die kultuur van Egipte te ken om die impak van hierdie droom en uitleg te verstaan.

Die Egiptenare het die Nylrivier beskou as ‘n godheid, omdat dit die lewensaar van Egipte is. Verder was die farao’s beskou as die seuns van die songod Ra. Hulle was verantwoordelik vir die vrugbaarheid van die Nyl.

Dan was daar ook die godin Hathor wat hulle vrugbaarheidsgodin was. Sy is voorgestel as ‘n koei.

In teenstelling met al hierdie gode van Egipte wys God hulle nou dat Hy in beheer van die hede, verlede en toekoms is. Hy bepaal wat in die natuur gebeur en nie een van hulle gode nie.

Verder is dit ook ironies dat Josef, die Hebreër en slaaf wat tot nou toe in die tronk was, hierdie droom kan uitlê omdat die God van Abraham, Isak en Jakob by hom is. Dit terwyl die seun van die songod Ra, nie eens een van sy waarsêers kon kry om die droom uit te lê nie.

Dit is opvallend dat Josef die Farao in vers 25 daaraan herinner dat die uitleg van die droom juis beklemtoon wat die ware God vir Egipte beplan en geen een van hulle gode kan ‘n einde daaraan maak nie. Daarom is die droom op twee verskillende maniere aan die Farao gegee.

Beproewings het die geneigdheid om ons verkeerde idees aan die lig te bring. Daar is niks soos beproewings om die nietigheid van die afgode, wat ons so graag aanbid, te ontbloot nie.

Sonder dat jy dit dalk besef, draai jou lewe om jou eggenoot, kind, werk, gesondheid of materiële voorspoed en wanneer daardie gode dan skielik van ons weggeneem word, tuimel ons lewens inmekaar. Skielik is ons van alle hoop gestroop en dit voel of jy nie verder kan of wil gaan met die lewe nie.

Daardie hopeloosheid is die teken van die gode in jou lewe wat jou gefaal het.

Daarom skryf Petrus:

“Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ’n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word.” (1 Pet. 3-4)

Die gelowige se hoop geanker in die onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis wat ons in Christus kry. Dis ‘n erfenis wat nie vernietig kan word nie en daarom is daar altyd hoop. Jesus het ons erfenis aan die kruis verseker.

Indien ons hoop verloor, dan beteken dit dat hierdie erfenis wat ons in Christus het, nie ons hoogste bate was nie.

Vrae tot introspeksie:

a) Is daar iets of iemand in jou lewe wat jy meer liefhet as vir die Here?

b) Dink jy daar is iets of iemand in jou lewe wat jou meer liefhet as die Here? Hoekom sê jy so? (vgl. Rom. 5:7-10; Jak. 4:4)

12 views0 comments

Recent Posts

See All

Comentários


bottom of page