top of page

Wanneer God aan ons dink...

Teks: Genesis 7:1 - 8:22

In hoofstuk 8 vers een staan daar dat die Here aan Noag hulle gedink het.

Dit staan teenoor die mens wat van sy jeug af slegte dinge bedink (Gen. 8:21). Die mens raak so in sy sonde verstrik dat hy van God vergeet (vgl. Hos. 2:12 & Rig. 8:34). Sonde maak dat ons net aan onsself dink en daarom draai die lewe later net om ons en ons eie selfsugtige behoeftes.( Sp. 24:2; 27:19).

Salomo beskryf dit mooi wanneer hy sê:

"Soos jy jou eie gesig sien as jy in die water kyk, so sien jy jouself in wat jy dink." (Sp. 27:19).

Daarom is dit belangrik dat ons ons gedagtes moet ondersoek. Waaraan dink jy wanneer jy alleen in die kar of in die stort is. Wys ons gedagtes dat ons kinders van God is en dat ons Hom met ons lewe vertrou?

In plaas daarvan dat ons aan God dink en aan Hom die eer toebring wat aan Hom behoort, verloor ons heeltemal perspektief. Kort voor lank gaan dit alleen oor myself en die eer wat ek in mense se oë kan kry.

Die hartseer werklikheid is egter dat dit juis die volharding in sonde is wat veroorsaak dat God sy gesig wegdraai van ons (vgl. Rom. 1:23-25). Dit is die ergste ding wat met ‘n mens kan gebeur, wanneer daar nie meer aan hom gedink word nie.

Wanneer jy hartseer of ontsteld is en iemand vra jou of jy OK is, is daardie belangstelling van onskatbare waarde. Net daardie omgee help al om die las ligter te maak, maar wat as daar niemand is wat aan jou dink nie?

Dit is die gevolg van sonde. Die uiteinde van sonde is dat niemand meer aan jou dink nie. Jy dryf almal verder en verder van jou weg as gevolg van jou eie selfsug wat voorop in jou lewe staan.

Om nuut te kan dink, moet ons sien hoe God dink…

Wanneer God aan die mens dink is dit so anders as die mense se sondige en sélfgesentreerde gedagtes.

Wanneer God aan die mens dink, dan red Hy ons uit ons nood.

Hierdie verhaal van Noag beeld dit so mooi uit. Noag, sy gesin en al die diere wat in die ark was, was in die middel van ‘n storm. Vir veertig dae en nagte het dit aanmekaar gereën. Vir ‘n totaal van 150 dae, was die aarde in vloed.

Hoewel dit baie mooi en idillies klink, moes dit wat Noag hulle ervaar het, niks minder as angswekkend gewees het nie. Die kans is mos goed dat die ark meegesleur word in die stormwaters en homself te pletter loop teen ‘n rots! Hulle was glad nie in beheer nie.

Daarom sou die gedagte beslis by hulle opkom: “Het die Here nie dalk van ons in hierdie geweldige storm vergeet nie?” Hulle is nie werd nie. Wat maak hulle in elk geval beter as al die ander volke en nasies?

Daarom is hierdie woorde van God so wonderlik. God het aan hulle gedink!!! Wanneer God aan ons dink, dan red Hy ons. Hy dink aan Noag en red hulle uit die vloed. Hy dink aan Lot en red hom uit Sodom en Gemora. Hy dink aan Ragel en skenk aan haar ‘n kind. Hy dink aan Israel en verlos hulle uit die slawerny van Egipte.

Die grootste reddingsdaad is wanneer God aan ons dink en sy enigste Seun na die aarde stuur.

So word Jesus ook soos daardie ark. Ons klim, deur die geloof, in Hom in en daarmee gee ons ons lewe aan Hom oor. Ons is glad nie in beheer nie.

Ons weet dat Hy die enigste een is wat ons uit ons sonde kan red. Hy bly getrou al is ons ontrou. Hy is deur die hel meegesleur om ons te red. Die Vader het sy gesig van Hom weggedraai, sodat ons kan hoor dat Hy aan ons gedink het.

God alleen is waardig en daarom moet ons ons gedagtes alleen op Hom rig.

Vrae tot introspeksie:

a) Waarop rig jy soms jou gedagtes wat daarop wys dat jy nog nie hierdie verlossing in Christus ten volle verstaan nie?

b) Hoe sal Jesus se verlossing jou help om jou gedagtes eerder op Hom te rig?

61 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page