top of page

Ware wysheid kom van Bo!

Teks: Jakobus 3:13-18 (17)

Inleiding

In die vorige perikoop het Jakobus die leser in ‘n desperate situasie gelos[1]. Hy leer dat geen een van ons ons tong kan beheer nie (vgl. 3:8).

Maar in hierdie gedeelte gee hy aan ons die oplossing vir hierdie situasie. Die oplossing is dieselfde as in hoofstuk 1:4 naamlik wysheid. Ons het Goddelike wysheid nodig om ons tong te kan beheer.

Wysheid is ‘n baie belangrike geestelike deug en ons sien die belangrikheid daarvan al vroeg in die Ou Testament. Die duiwel sê vir Eva:

“Julle sal beslis nie sterf nie, maar God weet dat julle oë sal oopgaan die dag as julle van daardie boom eet en dan sal julle soos God wees deurdat julle alles kan ken.” (Gen. 3:4-5)

Dis hier waar die onderskeid tussen wêreldse wysheid en die wysheid van bo kom.

En daarom lees ons dat, kort nadat Salomo as koning oor Israel gesalf was, het God aan hom verskyn en gesê dat hy enigiets van Hom kan vra.

En van al die goed wat Salomo kon vra, het hy die eerbare en edele versoek gehad om wysheid te mag hê sodat hy die volk van God reg kan regeer.

Dis onder andere hierdie Ou Testamentiese lering oor die belangrikheid van wysheid, dat wysheid só belangrike rol in Jakobus se wêreldbeeld gespeel het dat hy nou ook sy lesers en vir ons leer hoe hierdie wysheid lyk en hoe ons dit kan kry[2].

1. Hoe hierdie wysheid lyk

Vers 13 begin Jakobus met die vraag:

“Is daar ’n wyse en verstandige mens onder julle?” (Jak. 3:13)

Hierdie twee woorde – “wyse” en “verstandige”, kom soos in Afrikaans, baie op dieselfde neer.

Die Griekse woord wat hier met “Wyse” vertaal is, het die algemene betekenis van filosofeer, maar die Hebreërs het daaraan die ryker betekenis gegee van om kennis vaardig toe te pas op praktiese aspekte van die lewe[3].

Die woord wat vertaal is met “Verstandig” verwys na 'n spesialis of professionele persoon wat sy kundigheid vaardig kan toepas op praktiese situasies[4].

So wat hierdie woorde in gemeen het is die vermoë om te weet hoe God wil hê dat jy – in elke aspek van jou lewe - moet leef[5].

En hierdie ware wysheid word veral sigbaar in twee aspekte naamlik harmonie en nederigheid.

Wysheid bring harmonie in verhoudings (vs. 13 & 17)

In vers 14 kan ons aflei dat daar gelowiges was wat daarmee gespog het dat hulle wysheid het. Dit terwyl hulle vol naywer en selfsug is. Hierdie mense het hulle selfversekerdheid en welsprekendheid misgis vir wysheid[6]. Daarom stel Jakobus dit baie duidelik in vers 15:

“Dié soort wysheid kom nie van Bo nie, maar is aards, sinlik, demonies…” (Jak. 3:15)

Dis die tipe wysheid wat dikwels in die kerk uitloop op partyskappe. Hoeveel keer sien ons nie dat twee groepe in die kerk ontstaan nie. Die wat vir ‘n saak is en die wat teen die saak is. Die wat so wil en die wat sis wil[7].

Dit gebeur omdat kerkleiers hulle welsprekendheid en verstandelike vermoëns gebruik om verdeeldheid onder mense te skep. Hulle eie idees word op mense afgedwing en daarom die verskillende groeperinge.

Of dit gebeur wanneer lidmate aanhoudend die besluite van die kerkraad teengaan. Daardeur skep hulle partydigheid, want hulle wil hulle eie sienings laat geld[8]. Ek is reg, die res is verkeerd.

Daardie tipe wysheid is aards en sinlik.

‘n Persoon met ware wysheid is ‘n spesialis in die gebied van verhoudings. Hy het al daardie eienskappe wat in vers 17 genoem word om mense met totaal uiteenlopende sienings bymekaar te bring.

Mens sien dit dikwels in vriendekringe waar een persoon verhuis en dan is dit asof die hele groep uitmekaar val. Daardie een persoon het al daardie individue, met verskillende uiteenlopende persoonlikhede bymekaar gehou. Dis die eienskap van wysheid!

‘n Goeie metafoor om dit mee te illustreer is ‘n komponis soos Beethoven of Mozart. So komponis het die vermoë om elke instrumente op ‘n ander toonhoogte te laat speel en wanneer al daardie instrumente op die regte tyd en op sy noot speel, dan vorm dit ‘n wonderlike harmonie.

Dis wat wysheid is. Die wysheid wat van God kom, bring harmonie in verhoudings, en nie partyskappe of verdeeldheid nie.

Maar ‘n wyse persoon is ook nederig.

Wysheid is vol nederigheid (vs. 14)

Kyk hoe beskryf Jakobus hierdie wysheid in vers 13:

“Dan moet hy dit toon deur sy goeie gedrag en deur dade wat van nederigheid en wysheid getuig.” (Jak. 3:13)

Dis tog opvallend dat Jakobus nederigheid en wysheid hier saam noem. Dit maak ook sin, want indien ‘n musikant dink dat hy van beter weet en sy eie wysie speel op die manier wat hy wil, dan sal daar nie meer harmonie kan wees nie.

‘n Persoon wat altyd van beter weet, wys dat hy nie oor hierdie gawe van wysheid beskik nie.

Uit die konteks kan ons aflei dat die probleem wat daar in die kerk was, is dat die leermeesters mekaar aggressief aangeval het en dan ook aggressief hulle saak verdedig het[9].

Hierdie leermeesters was m.a.w. soos arrogante musikante wat elkeen sy eie melodie wil speel. En die gevolg was dat dit onenigheid in die kerk gebring het (vgl. 4:1).

Hierdie aggressiewe posisie wat die leiers inneem, getuig daarvan dat hulle nog hulle eie eer nastreef en daarom getuig dit nie van nederigheid en wysheid nie, maar van hoogmoed en dwaasheid.

In die kerk gebeur dit maklik dat ons almal leermeesters wil wees en die gevolg is dat ons deur ons woorde mense negatief maak. Ons maak hulle negatief, en dan vorm daar verskillende groepe en dit omdat ons dink ons weet beter.

Ons dink dat daardie leiers die saak op die of daardie manier beter of anders kon doen. Dis dan wat die wanorde en gemene dade waarvan Jakobus in vers 16 praat, in kerk gesien kan word.

Dit gebeur omdat hierdie nederigheid ontbreek.

2. Hoe ons hierdie wysheid kry

Deur beproewings

Hierdie saak oor die wysheid, is dieselfde as wat Jakobus in hoofstuk een hanteer het[10]. In hoofstuk een het hy geleer dat die gelowige bly moet wees wanneer allerlei beproewings oor sy pad kom. En die vraag was toe, “Hoe kry mens dit reg om in allerlei beproewings, steeds bly te wees?” “Hoe kom ons tot daardie volle geestelike rypheid?”

Die antwoord wat Jakobus daar gee is beproewing. Beproewings bring die gelowige tot geestelike rypheid sonder enige tekortkoming. Beproewings gee ons hierdie wysheid!

Nou, hierdie saak het ons reeds breedvoerig behandel en daarom is dit nie hier weer nodig nie.

Hier is dit wel belangrik om te sien dat ons deur Christus wysheid kry.

Deur Christus

In vers 18 staan:

“Hierdie wysheid bring jou in die regte verhouding met God en jy moet dit gebruik om vrede te maak.” (Jak. 3:18)

Hierdie ware wysheid sien ons in Christus, want Hy bring ons in die regter verhouding met God.

Dink net hoe Hy met sy woorde vrede gemaak het. Wanneer die Jode gereed is om ‘n vrou wat in owerspel betrap is te stenig, dan ontlont Hy daardie hele situasie deur te sê dat die een wat ‘n skoon gewete het, eerste ‘n klip moet gooi.

Ons sien sy wysheid in die gesprek met die Samaritaanse vrou wat in ontkenning van haar sonde leef en dan verander Hy haar lewe deur die regte woorde op die regte tyd.

Daarom kon Paulus sê:

“Aan God is dit te danke dat julle met Christus Jesus verenig is. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing.” (1 Kor. 1:30)

Jesus het vir ons die wysheid van God geword.

Die heerlikste van hierdie wysheid sien ons wanneer Jesus uit sy pad gaan om óns in die regte verhouding met God te stel. Hy bewerk vrede/harmonie. Hy sterf vir ons sonde sodat ons weer die vrymoedigheid kan hê om tot God te nader.

Aan die kruis sien ons hierdie groot wysheid van God. Daar bring Christus die wet en genade bymekaar[11]. Hy verenig die liefdevolle en regverdige God met die liefdelose en sondige mens. Hoe meer ons dit sien en verstaan, hoe groter word ons wysheid. Hoe meer sal ons vredemakers kan en wil word.

Ons sal vredemakers wees al eis dit van ons ‘n duur prys, want kyk watter duur prys het Christus vir my betaal sodat ek vergewe kan word.

Ons sal nie gekrenk voel wanneer mense nie van ons opinies of raad hou nie, want dit gaan nie oor my nie, maar oor Christus wat verheerlik moet word.

Alleen wanneer ons aan ons verlossing in Christus vashou kan hierdie deug wat getuig van nederigheid en wysheid sigbaar word in ons lewe. Die kruis skep ‘n sagmoedige hart!!

Slot:

As gelowiges moet ons lewens dus getuig van hierdie wysheid. Wysheid wat harmonie skep tussen mense wat vol haat teenoor mekaar was. In die kerk moet ons sien hoe mense uit verskillende kulture, rasse en opvoedings bymekaar kom, want dis wat hierdie wysheid van Christus doen. Dit verenig mense deur die geloof.

Maar ons wysheid moet ook getuig van hierdie nederigheid. Nederigheid wat wys dat ons weet dat dit net genade is dat ons gered is. Dis al wat onveranderd vas staan! Dis nie my goeie dogma of goeie lewe of goeie redeneringsvermoë wat red nie, maar geloof in Jesus wat vir my aan die kruis gesterf het.

Mag ons as gelowiges in hierdie wysheid leef.

[1] Davids, P. H. (1994). James. In D. A. Carson, R. T. France, J. A. Motyer, & G. J. Wenham (Eds.), New Bible commentary: 21st century edition (4th ed., p. 1363). Leicester, England; Downers Grove, IL: Inter-Varsity Press. [2] Ellenburg, B. D., & Morgan, C. W. (2008). James: Wisdom for the Community (p. 131). Great Britain: Focus Christian Publications. [3] MacArthur, J., Jr. (Ed.). (1997). The MacArthur Study Bible (electronic ed., p. 1931). Nashville, TN: Word Pub. [4] MacArthur, J., Jr. (Ed.). (1997). The MacArthur Study Bible (electronic ed., p. 1931). Nashville, TN: Word Pub. [5] Vosloo, W., & van Rensburg, F. J. (1993). Die Bybel in Praktyk (Nuwe Vertaling) (Jas 3:13). Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy. [6] Die brief van Jakobus. (1998). (p. 3). Kaapstad: N G Kerk-Uitgewers. [7] Davids, P. H. (1994). James. In D. A. Carson, R. T. France, J. A. Motyer, & G. J. Wenham (Eds.), New Bible commentary: 21st century edition (4th ed., p. 1363). Leicester, England; Downers Grove, IL: Inter-Varsity Press. [8] Moo, D. J. (2000). The letter of James (p. 168). Grand Rapids, MI; Leicester, England: Eerdmans; Apollos. [9] Davids, P. H. (1994). James. In D. A. Carson, R. T. France, J. A. Motyer, & G. J. Wenham (Eds.), New Bible commentary: 21st century edition (4th ed., p. 1363). Leicester, England; Downers Grove, IL: Inter-Varsity Press. [10] Davids, P. H. (1994). James. In D. A. Carson, R. T. France, J. A. Motyer, & G. J. Wenham (Eds.), New Bible commentary: 21st century edition (4th ed., p. 1363). Leicester, England; Downers Grove, IL: Inter-Varsity Press. [11] Keller, T. J. (2013). The Timothy Keller Sermon Archive. New York City: Redeemer Presbyterian Church.

19 views1 comment

Recent Posts

See All
bottom of page