Teks: Jakobus 5:7-11
Inleiding:
As gelowiges word ons hier opgeroep om geduldig te wag op die koms van die Here.
Geduld is iets waarmee ons elke dag beproef word, want ons kry elke dag te doen met situasies of mense wat ons frustreer.
Jy is byvoorbeeld haastig om by ‘n plek uit te kom en dan beland jy agter ‘n stadige bestuurder. Of jy word gekonfronteer met die kattekwaad van ‘n stout kind, of jou kollega is nie bereid om sy samewerking te gee nie.
Net so worstel gelowiges ook soms met die gevoel van twyfel en ontevredenheid omdat dit waarvoor jy bid nie gou genoeg gebeur nie of in sekere gevalle, glad nie gebeur nie.
Ons raak ongeduldig met die Here se bestuur van sake in ons eie lewe en in die verloop van die geskiedenis.
So, kom ons begin deur te kyk na Jakobus se oproep tot - geduldig wag op die Here.
1. Die oproep tot geduldig wag
Die Griekse woord wat met “geduldig” vertaal is, kom vier keer in hierdie perikoop voor. Daarmee word die belangrikheid van geduldig wag beklemtoon.
Die geduld waarna verwys word is om sterk te staan teen daardie gevoel van twyfel en ontevredenheid wat in jou binneste op kom wanneer dit waarna jy uitsien, nie gou genoeg gebeur nie[1].
Jesus se sterwe en opstanding het so gou gebeur. Die lydende kneg het opgevaar na die hemel en heers as Koning. Dit het reeds plaasgevind, maar op die oog af het dit gelyk of daar nie veel verandering in die magstrukture op aarde plaasgevind het nie. Die oorwinning het nog nie volkome plaasgevind nie.
Dis daardie gaping tussen die reeds en nog nie, wat veroorsaak het dat die gelowiges aan wie Jakobus hier skryf, ongeduldig geraak het. Om nou perspektief te gee, gebruik Jakobus ‘n praktiese voorbeeld uit die alledaagse lewe.
Hy sê dat ‘n boer wag tot die vroeë en laat reën verby is voor hy die oes van die land afhaal. Hierdie wag periode is uiters belangrik vir die vorming van daardie vrug. Die vroeë reëns is belangrik vir die ontkieming van die plant en die laat reëns is weer belangrik vir die vorming van die vrug.
Die boer weet dat die plant deur elke fase van groei moet gaan. Die groei en ryp word proses is tydsaam maar dit is ‘n wonderbare proses wat die mens nie kan ryp druk nie[2].
Met hierdie beeld wys Jakobus ons dus daarop dat ons nie hierdie proses moet of kan aanjaag nie. Dis ‘n tyd wat God bepaal het vir groei! Indien ons ongeduldig raak sal dit net lei tot sonde.
Ons moet veel eerder geduldig wag op die Here se koms. Sodra die groeityd verby is, sal die dag van oes aanbreek. En dit bring ons nou by die tweede punt.
2. Wat ons ongeduldig maak…
Daar is veral twee situasies waar ons maklik ongeduldig raak
Ongeduld met mekaar se swakheid (vs. 9)
Hierdie “kla” in vers 9, verwys spesifiek na mense. Daar is niks om ons so moedeloos te maak, soos wanneer ons teenkanting van mense kry nie.
Beledigings, spot, onreg wat ons aangedoen word. Dit maak ons negatief en moedeloos en dan kla ons terwyl daar groter en belangriker dinge is om op te fokus[3].
Hoe meer jou lewe op jouself gerig is, hoe meer sal dit jou daartoe dryf om ongeduldig te raak. Jy sal kla oor hoe selfsugtig mense is en hoe sleg hulle is en…. Hierdie gesindheid van ongeduld is die teken van ‘n dieperliggende geestelik nood – nl. Ek leef vir myself.
Dis ‘n menslike reaksie om iemand die skuld te wil gee wanneer dinge verkeerd loop. Daarom is dit ook opvallend dat beskuldiging en aanklagtes ook deel is van die hele rouproses. Jy wil iemand die skuld gee vir die feit dat jou geliefde dood is.
Dis in ons natuur om iemand die skuld te wil gee, want ons wil in beheer wees.
‘n Alledaagse voorbeeld van ongeduld sien ons ook daar waar ons in ‘n ry moet wag terwyl ons oortuig is daarvan dat die diens beter kan wees. Of ons raak ongeduldig met iemand wat nie die eerste keer verstaan wat jy vir hom probeer sê nie.
Ongeduld het die vermoë om die hoogmoed wat diep in ons harte is uit te lig. Ons word ongeduldig en ons kla oor mense omdat hulle nie so goed of vinnig of reg soos ek is nie. Of aan die ander kant, hoe durf hulle so iets aan my doen… As of ons nooit iets verkeerd doen nie.
Ongeduld met lyding (vs. 10)
In vers tien word die aspek van lyding en swaarkry ook bygevoeg by die omstandighede waarin ons geduld moet toon. Daar is niks soos lyding en swaarkry wat ‘n gelowige ongeduldig kan laat voel nie.
Lyding en swaarkry het die vermoë om ‘n gevoel van oorgee in ons binneste te wek! Ons wil oorgee wanneer ons nie enige uitweg sien in die situasie nie. Ons kyk vas in ons eie onvermoë en dit stroop ons van enige hoop.
Wat dus gebeur is dat ons so vas kyk in hierdie lyding dat ons daarmee assosieer. Ons verloor hoop omdat die lyding my lewe begin bepaal. Ons gee op omdat ons onsself sien as oorwonne. Daarom praat sielkundiges van ‘n slagoffer mentaliteit.
In stede daarvan om geduldig te wag en te kyk wat God se doel en plan is, raak ons moedeloos en ongeduldig oor ons omstandighede.
3. Die krag vir geduld
Geduld met mekaar…
Teenoor die wêreld wat leef vir sy eie gemak en vir sy eie gerief, moet die gelowige met wysheid leef.
Die wysheid wat ons in die verlossing van Christus kry, sal maak dat ons besorg is oor ander en daarom geduld toon met hulle gebreke.
Die wêreld vra: “Wat kan jy vir my beteken…?” Hierdie vraag sal ongetwyfeld ongeduld in ons wek, want indien jy nie ‘n verskil in my lewe maak nie, dan wil ek niks met jou te doen hê nie.
Die gelowige vra: “Wat kan ek vir jou beteken…?” Want ons sien wat Jesus vir ons gedoen het. Ons sien die geduld wat Hy met ons gebreke het. Hy het nie gekom om gedien te word nie, Hy het gekom om ons te dien. Hy sterf vir ons sodat ons gered kan word.
Indien dit wat ons in hierdie lewe het en kan besit ons enigste hoop is, dan sal ons kwaad raak en onvergenoegd wees wanneer ons dit nie kry nie of wanneer dit van ons weggeneem word.
Indien ons egter ons oë gevestig hou op die heerlikheid van ons erfdeel in Christus, dan sal ons nie verval in klagtes en ongeduld nie. Ons moet dus fokus op die heerlikheid wat vir ons in Christus voorlê.
Ons oë moet gevestig wees op ons ewige erfenis. Ons kom niks kort nie. Alles wat ons in hierdie lewe ontvang is eintlik net ‘n bonus. Daarom kan ons geduldig bly met ander se gebreke, want ons is hier om te dien.
Maar ons het ook geduld nodig met lyding…
In vers tien word die aspek van lyding en swaarkry ook bygevoeg by die omstandighede waarin ons geduld moet toon en dan word die profete voorgehou as voorbeeld. Dit is ook opvallend dat Jesus telkens die profete gebruik het as voorbeeld in lyding. Hy sê byvoorbeeld: “Wees bly en verheug, want julle loon is groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg.” (Matt. 5:12, vgl. ook Matt. 23:34; 37 & Luk. 11:49).
Hierdie profete is groot onreg aangedoen deur vervolging en in sommige gevalle is hulle selfs doodgemaak. Die merkwaardige is egter dat hulle dit nie vir hulle self gedoen het nie. Hulle het in die moeilike omstandighede geduldig gewag en gesoek na God se wil[4].
Daarmee wys Jesus ons daarop dat ons ook in tye van lyding ons identiteit moet anker in ons verhouding met God. Ons is koninkryksburgers! Ons is nie slagoffers van lyding nie.
Daarom staan daar ook geskryf:
“Dit is genade as iemand die pyn van onverdiende lyding verduur omdat hy aan God getrou wil wees. As julle gestraf word wanneer julle oortree het, watter verdienste is daarin as julle dit verdra? Maar om lyding te verdra wanneer julle goed doen, dit is genade van God. Juis hiervoor is julle ook geroep, omdat Christus self vir julle gely en so vir julle ’n voorbeeld gestel het, sodat julle in sy voetspore kan volg.” (1 Pet. 2:19-21)
Die gelowige met hierdie wysheid kyk anders na lyding. Vir ‘n gelowige is dit genade om onverdiende lyding te moet verdra, want dit sê iets van hom as persoon. Hy identifiseer daardeur met Christus. Ons volg sy voorbeeld en dit gee geduld ook in daardie moeilike situasies.
Ons is nie slagoffers nie, ons is dienaars van die Almagtige wat in beheer is van elke aspek van ons lewe.
Slot:
Daar is baie situasie in hierdie lewe wat ons ongeduldig kan maak, en daarom is dit baie belangrik om hierdie wysheid in Christus te hê.
Die vraag is nie, “Wat kan mens vir my beteken?” nie. Ons moet soos Jesus leef met ‘n dienskneg gestalte. Hy het met sy lewe betaal sodat ons ‘n heerlike erfenis kan ontvang. Niemand kan dit van ons af wegneem nie en daarom sal ons met geduld steeds diensbaar kan bly.
Maar ons moet ook nie ‘n slagoffer mentaliteit hê wanneer siektes en moeilike omstandighede oor ons pad kom nie. Ons moet as oorwinnaars leef. Deur die verlossing in Christus, is ons meer as oorwinnaars.
So, kom ons leef met ons oë wat geduldig wag op Christus se koms!
[1]Die brief van Jakobus. (1998). (p. 3). Kaapstad: N G Kerk-Uitgewers. [2]Die brief van Jakobus. (1998). (p. 3). Kaapstad: N G Kerk-Uitgewers. [3]Die brief van Jakobus. (1998). (p. 3). Kaapstad: N G Kerk-Uitgewers. [4]Die brief van Jakobus. (1998). (p. 3). Kaapstad: N G Kerk-Uitgewers.
Comments