top of page

Dit moet ons voedsel wees om te getuig - Joh. 4:27-42

Teks: Johannes 4: 27-42


In die vorige perikoop het ons gesien dat Jesus se gesprek met die Samaritaanse vrou daartoe gelei het dat sy glo dat Jesus die Messias is.

In hierdie gedeelte sien ons dat Jesus se dissipels weer by Hom aansluit en wanneer hulle by Hom daarop aandring om iets te eet, verwys Hy na hierdie gesprek met die Samaritaanse vrou as voedsel waarvan hulle nie weet nie.

Dit is Jesus se voedsel om verlore mense te red. Dit is sy voedsel om so die wil van die Vader te doen. Daarin ontvang Hy groter voeding en satisfaksie as wat gewone kos vir Hom kan gee.

Dan vertel Johannes dat die mense van Samaria uit die stad na Jesus toe gekom het op grond van die Samaritaanse vrou se getuienis. Daarom roep Jesus sy dissipels op om die oes in te samel. Sodoende kan die dissipels ook deel in hierdie voedsel waarvan hulle nie geweet het nie.

Om die evangelie te verkondig hou groot beloning in. Dit is vrug wat aan elke gelowige groot en ewige vreugde verskaf. Dit maak jou versadig. Dit is die lewende water wat jou dors ewig les.

Tog het ons allerhande verskonings waarom ons nie die evangelie wil of kan verkondig nie. Jy kan dalk nie goed praat nie, het nie 'n graad nie of ken nie die Bybel goed genoeg nie.

Kom ons kyk na hierdie vrou. Sy is die laaste een van wie ons sou kon verwag om die evangelie te verkondig. Sy is 'n vrou, hoereerder, Samaritaan en boonop uitgeworpene. Menslik gesproke sal ons sê dat sy geen sukses sal behaal nie, maar kyk wat gebeur in vers 42. Die evangelie van verlossing maak haar so opgewonde dat sy net gaan getuig van wat met haar gebeur het. Sy het nie mense oortuig nie. Jesus oortuig hulle.

Om ‘n effektiewe getuie te kan wees, moet ons dus twee dinge weet. Hierdie twee goed lei ons af uit haar woorde:

“Kom kyk, hier is ‘n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Is Hy nie miskien die Christus nie?” (Joh. 4:29)

Jesus het haar sonde geken.

Sy het besef dat sy niks vir Jesus kan wegsteek nie. Hy weet dat sy vol sonde is en nie waardig is om kind van God te wees nie.

Jesus het haar volkome aanvaar in liefde.

Jesus aanvaar haar volkome soos geen man dit vantevore kon doen nie. Sy liefde vir haar genees haar van binne. Dit is nie liefde wat nog meer van haar verwag nie maar liefde wat genees.

Ons kan net ware getuies wees wanneer ons ook, soos hierdie vrou, hierdie diep verlossingskrag ervaar.

Die evangelie soek nie die mooistes of sterkstes nie, maar die swakkes en verwerptes, want hulle besef dat hulle in hulle self tot niks in staat is nie. Die krag van die evangelie kom juis in die swakkes die beste na vore. Daarom mag ons tekortkominge nooit 'n verskoning wees om nie die evangelie te kan verkondig nie. Inteendeel, dit kwalifiseer ons juis meer omdat ons dan nie op ons eie krag sal staat maak nie. Ons sal by Jesus se voete wees en bly.

Die kruis wys ons juis dat Jesus bereid was om van alle mag gestroop te word. As nietige mens hang Hy aan die kruis in volle vertroue dat God Hom op sy bestemde tyd uit die dood sal opwek.

Ons troos lê daarin dat God nie wil hê dat ons sterk of slim moet wees nie. Hy wil net hê dat ons getrou moet vashou aan wat Jesus vir ons gedoen het. Daarvan moet ons praat. Daaroor moet ons bly wees.

8 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page