top of page

Lyding...? Sodat God verheerlik kan word...

Teks: Johannes 9:1-12

Teksvers: Joh. 9:3

Die vraag wat die dissipels vra is baie belangrik, want dit is 'n foutiewe afleiding wat gelowiges ook vandag maak. Natuurlik is daar siektes wat die direkte gevolg van sonde is. 'n Voorbeeld hiervan is 'n motorongeluk wat veroorsaak word deur iemand wat dronk was of te vinnig gery het. Nog so ‘n voorbeeld is iemand wat vigs kry as gevolg van ‘n buite-egtelike verhouding.

Die Bybel maak dit egter duidelik dat dit beslis nie altyd die geval is nie. God se soewereiniteit (Hy het die hoogste gesag) en doel met ons lewe speel 'n deurslaggewende rol. Daarvan is Job 'n baie mooi voorbeeld. Paulus sê ook dat die doring in sy vlees gehelp het om hom nederig te hou (2 Kor. 12:7). In Galasiërs 4:13 praat hy van 'n siekte wat die oorsaak was dat hy die eerste keer aan daardie gemeente die evangelie verkondig het.

Tog val ons elke keer weer terug in hierdie denke. Dink bietjie aan jou eie lewe. Wanneer iets slegs met jou gebeur, is jy ook geneig om te dink dat daar dalk iets in jou lewe is waaroor die Here jou nou straf? Ons kyk ook maklik met dieselfde gesindheid na ander mense. Sodra iets sleg met ‘n ander gebeur, dan is ons geneig om die afleiding te maak dat dit sy sonde is wat die oorsaak van sy terugslae is.

Die rede hiervoor is dat ons diep in ons weet dat ons nie waardig is nie en daarom die straf van God verdien. Ons weet dat ons niks minder as ewige Godsverlatenheid verdien nie.

Verder getuig hierdie tipe redenasie ook van ons hoogmoed. Indien ons dink dat die Here iemand straf oor sy sonde, impliseer dit mos dat ons dink dat daardie persoon verdien om oor sy sonde gestraf te word. Dit asof ons nie self sonde het wat gestraf moet word nie.

Daarom openbaar Jesus, deur hierdie wonderwerk, iets besonders aan elke gelowige. Ons moet besef dat Jesus die lig vir die wêreld is. In Johannes 8:12 het Jesus reeds gesê dat Hy die lig vir die wêreld is, maar in hierdie gedeelte wys Hy dat Hy die lig is deurdat Hy 'n blinde man genees sodat sy oë ook die lig kan sien.

Jesus wys ons dat Hy die fokus kom verander. Deur Hom gaan dit nie meer oor wie watter sonde gedoen het nie, maar eerder oor die feit dat God ook die swaarkry en slegte omstandighede gebruik om sy heerlikheid en glorie te laat skitter. Daardie fokus verskuif met Jesus se offer aan die kruis.

Dit is immers Jesus se missie op aarde gewees. Daarom sê Hy in vers vier, "Solank dit nog dag is, moet ons die werk doen van Hom wat My gestuur het; die nag kom, wanneer niemand kan werk nie."

M.a.w. die einde van hierdie missie (nag) is voor die deur. Die nag het aangebreek toe die God van die heelal, die skepper van lig, gevange geneem is deur die Jode. Jesus is verneder, gespoeg, geslaan en ook doodgemaak. Dit was nie oor sy eie sonde nie, maar Hy sterf vir die sonde van die hele wêreld en daarmee het Hy die Vader verheerlik (Joh. 17:4).

Daarom kan elkeen wat in Hom glo, nou ook in sy voetspore volg. Ons kan weet dat ons sonde reeds betaal is in Christus. Beproewings is nie betaling van sonde nie, maar moet dien tot verheerliking van God. Ons verheerlik die Almagtige deur getrou te wees aan Hom terwyl ons vreemdelinge in hierdie wêreld is.

Sy lig en genesende krag moet deur ons skyn. Dit skyn deur die hoop wat ons uitstraal in tye van beproewing en deur die liefde wat ons aan ander, wat net soos ons dit nie verdien nie, bewys.


34 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page