top of page

Vyand van die wêreld, maar vriend van God

Teks: Johannes 10:22-42

Teksvers: Joh. 10:25

Die Siriese vors Antiogus Epifanus het die tempel van God aan die Griekse god Zeus gewy en dit op 'n gruwelike manier ontwy deur 'n vark (onrein dier) op die altaar te offer. Daarom het Judas Makkabeus die tempel bevry uit die hand van hierdie heiden en hierdie fees (die fees van die tempelwyding) ingestel in 165v.C. Die fees was nie deur die wet voorgeskryf nie, maar het groot betekenis gehad. Daarmee herdenk hulle suiwer godsdiensoefening.

Johannes wys ons hier dat Jesus hierdie geleentheid gebruik het om aan hierdie fees ‘n dieper betekenis te gee. Jesus wys daarop dat Hy die "suiwer" verteenwoordiger van God is.

Die dade van Jesus en sy wonderwerke lewer die bewys dat Hy die Messias is. Hy kom reinig ons sodat ons met nuwe toewyding ons lewens aan God kan wy.

Hierdie werke van Jesus is gedoen in die naam van die Vader. Dit is die bewys dat Jesus deur die Vader gestuur is en daarom is dit nie nodig vir Jesus om enige ander bewys aan hulle te lewer nie (vgl. vs. 38).

Die Jode het nie van Jesus se uitspraak gehou nie en daarom tel hulle klippe op om Hom te stenig. Hulle het nie daarvan gehou nie omdat hulle in die sekerheid geleef het dat hulle eie goeie dade suiwer genoeg is voor God. Hulle het nie gedink dat hulle iemand nodig het wat vir hulle sonde moet betaal nie.

Jesus wys hulle egter daarop dat hulle goeie werke glad nie goed genoeg is nie. Hulle het Hom nodig.

Ons sien hierdie ontkenning ook in ons tyd. Ongelowiges wat dink dat dit absurd is om te dink dat ‘n god vir jou moet sterf.

Ons sien dit egter ook in ons eie lewens. Ons word byvoorbeeld smoorkwaad wanneer ons vermaan word oor iets wat verkeerd is in ons lewe. Ons wil nie aanvaar dat ons verkeerd is nie. Ons hou nie daarvan dat iemand ons op ons eie onsuiwerheid wys nie.

Die rede hiervoor is eenvoudig. Ons probeer nog in eie krag gered word. Ons dink, nes die Fariseërs, dat ons eie goeie dade genoeg is.

Daarom is dit baie belangrik om te verstaan wat Jesus ons hier leer. In onsself kan ons nie gered word nie, want selfs ons beste werke is soos vuil lappe voor die Here. Dit is slegs deur die suiwer en volmaakte werk van Jesus dat ons gered kan word.

Dit is wat sy werke vir ons beteken. Dit is volmaak, heilig en groot. Hy kom breek die mag wat die sonde oor ons in hierdie wêreld het af. Hy genees siekes en raak blindes se oë aan sodat hulle kan sien. Bo alles, Hy staan uit die dood uit op!!

Hierdie suiwering wat ons nodig het, die breek met die dood, kry ons alleen in Christus.

Glo in Jesus en ervaar hoe Hy jou ook van binne nuut maak.

Vrae tot introspeksie:

a) Dink aan ‘n geleentheid waar jy kwaad geword het toe iemand jou berispe het.

b) Hoe sou jy die situasie anders kon hanteer?

30 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page