top of page

By God is niks toevallig nie

Teks: Genesis 24:11-28

Die geloof en karakter van hierdie slaaf van Abraham is opspraakwekkend. Sy gebed wys dat hy 'n diep geloof in die Here het en ook dat hy 'n ware dienskneg is.

Hy begin deur sy afhanklikheid van die Here te bely deur in gebed te vra dat die Here hom in hierdie menslik onmoontlike taak sal help (24:14).

Daarna sien ons sy geduld terwyl hy wag in antwoord op sy gebed (24:21). Wanneer hy oortuig is daarvan dat die Here sy gebed verhoor het, dan loof Hy die Here daarvoor (24:26). In sy gebed erken hy dan ook God se trou en goddelike voorsiening (24:27).

Baie mense sal dit wat hier gebeur het afskryf aan blote toeval. Niks om oor opgewonde te raak nie.

Die hartseer werklikheid is dat ons as gelowiges ook dikwels so reageer. Ons aanvaar die goeie dinge wat met ons gebeur as vanselfsprekend. Ek het mos hard gewerk vir daardie pos of punte. Ek verdien my goeie salaris.

Indien ons so redeneer getuig dit daarvan dat ons nog nie die Here se werk in ons lewe erken nie, want wie het bepaal in watter familie jy gebore word? Wie het bepaal watter gawes jy sal hê?

Ons leer hier dat dit dikwels die Here se werkswyse is om ook in die klein onopspraakwekkende dinge werksaam te wees.

Dink aan Jesus. Niemand het vir Jesus geag nie. Selfs sy eie mense het Hom verwerp. In Jesaja staan dat Hy selfs niks was om na te kyk nie (vgl. Jes. 53:2).

Verder was 'n rower en moordenaar se lewe van meer waarde geag as Jesus s’n. Die moordenaar word vrygestel en Jesus word gekruisig. Tog gebruik God Hom om op 'n stil manier die pad van redding vir ons te bewerk (vgl. Jes. 53:7).

Menslik gesproke lyk dit ook na 'n toevalligheid en tog is God se hand in dit alles. Jesus gee sy lewe oor om gekruisig te word. Hy word die middelaar tussen ons en God.

Vir elke gelowige is hierdie "toevalligheid" die beste ding wat God vir ons kon doen. Dit is ingrypend en lewensveranderend. Menslik gesproke kan God op die mees eenvoudigste manier, die mees omvangryke veranderings tot stand bring.

Daarom moet ons as gelowiges ook anders kyk na ons eie lewens. Ons kan met sekerheid weet dat God in beheer is en dat Hy weet wat die beste vir ons toekoms is.

Vrae tot introspeksie:

a) Hoe verstaan jy die woord ‘toevallig’ en hoe gereeld gebruik jy die woord?

b) Wat het jou in hierdie gedeelte bemoedig?

36 views0 comments

Recent Posts

See All

©2020 by Paul Jacobus de Bruyn. Proudly created with Wix.com

bottom of page