Teks: Genesis 27:30-45
Aangesien Esau deur Isak voorgetrek is, het Isak lank gestry teen die feit dat die Here vir Rebekka gesê het dat die oudste die jongste sal dien. Hy het met alles in hom daarteen gestry en selfs die voorneme gehad om vir Esau te seën.
Hy wou die belofte wat vroeër aan Abraham gemaak is en aan hom (Isak) herhaal is, aan Esau oordra en nie aan Jakob soos God aan Rebekka geopenbaar het nie (25:28).
Omdat Jakob hom egter bedrieg het, en hy klaar die seën aan hom oorgedra het, sê hy dan vir Esau, “wat gesê is, is gesê.”
Daarmee sou Isak ook moes erken dat dit wat die Here gesê het, gesê is. Hy as mens kan daarteen skop en daarmee worstel, maar hy maak dit net vir homself moeilik. God is die Koning van die heelal en Hy kan doen wat Hy wil!
Hier gaan dit dus ten sterkste oor uitverkiesing. Paulus beskryf dit so:
“Rebekka was net een keer swanger, deur ons voorvader Isak. Toe haar kinders nog nie gebore was nie en ook nog niks goeds of kwaads gedoen het nie, toe is al vir haar gesê: “Die oudste sal die jongste dien.” Daar staan ook geskrywe: “Vir Jakob het Ek liefgehad, maar vir Esau het Ek gehaat.” Die besluit van God is gegrond op uitverkiesing; dit hang dus nie af van wat ’n mens doen nie, maar van Hom wat jou roep. Wat moet ons hieruit aflei? Dat God onregverdig is? Beslis nie! Vir Moses het Hy gesê: “Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees, en Ek sal My ontferm oor wie Ek My wil ontferm.” (Rom. 9:10-15)
As gelowiges skop ons ook dikwels teë teen dit wat die Here vir ons lewe bepaal. Ons skop ook teë teen die uitverkiesing. Ons redeneer dat dit onregverdig is en ons kom in opstand daarteen. Ons kan dalk selfs soos Esau voel om moord te pleeg. Dit getuig egter van ons eie sondigheid. Ons dink dat ons die Here kan voorskryf. Ons dink dat ons beter weet as die Here. Ons erken Hom nie as Koning nie!
Daarom word die metafoor van die pottebakker ook in die Bybel gebruik (Jer. 18:6; Rom. 9:21). Indien ‘n pottebakker besluit om vyf potte te maak en dan besluit dat Hy net twee vir homself wil hou. Wie is die potte dat om die pottebakker se besluit te bevraagteken. Hulle is immers net potte.
Jesus kon ook baie ontevrede gewees het met sy lot. Waarom laat die Vader toe dat Hy vir ander moet sterf? Waarom moet Hy sondige mense se dienaar word? Dit is mos onregverdig.
Tog doen Hy dit omdat Hy die Vader vertrou. Hy erken die Vader as God en Koning van die heelal. Daarom wys die Verlossingswerk van Christus aan elkeen van ons dat ons ook die Vader kan vertrou.
Dit help nie dat ons worstel met die onregverdigheid van die lewe nie. Ons moet eerder sien dat die Here in beheer is en ons moet Hom vertrou.
Ons moet deur geloof ons oë vestig op ons Verlosser en die genade wat Hy aan ons betoon. Ons is totaal afhanklik van God se genade. Ons hoop op verlossing en heerlikmaking is in God te vind en nie in menslike pogings of verdienste nie.
Vrae tot introspeksie:
a) Wat is daar in jou lewe wat vir jou opstandig laat voel?
b) Watter troos vind jy in hierdie gedeelte?
Comentários