Teks: Genesis 29:1-35
Hierdie verhaal vertel ons van die bedrieglikheid van die lewe.
Jakob spreek met Laban af dat hy sewe jaar lank vir hom sal werk om as beloning met sy dogter Ragel te kan trou. Daardie sewe jaar voel vir Jacob soos ‘n paar dae, omdat hy vir Ragel liefgehad het.
Daarna breek die dag aan waarop Laban vir Ragel aan Jakob moet gee. ‘n Seremonie word gereël. Laban gee sy dogter aan Jakob. Hulle het gemeenskap, maar wanneer Jakob die volgende môre sy oë oopmaak ontdek hy dat hy met Lea in plaas van met Ragel gemeenskap gehad het.
As gelowiges ervaar ons ook dikwels soortgelyke bedrieglikhede in ons lewe. Ons werk hard en geniet ons werk net om eendag ons oë oop te maak en vir Lea raak te sien. Mense lieg en bedrieg. Dinge word beloof maar realiseer nie. Hierdie situasies kan hartverskeurend wees. Jy berei jou so lank voor op iets, net om op die einde totaal teleurgesteld te staan.
Wat interessant is, is dat Lea iets soortgelyk ervaar as Jakob. Mens sien dit in die name van die seuns wat die Here aan haar gegee het (vgl. 29:31-35). Sy noem die eerste een Ruben, want Jakob het haar nie liefgehad nie en die Here het haar smart raakgesien deur vir haar ‘n seun te gee.
Die tweede seun noem sy Simeon, want die Here het gehoor dat sy nie liefde ontvang nie. Die derde een noem sy Levi omdat sy nou al drie seuns vir Jakob in die wêreld gebring het teenoor Ragel wat nie ‘n engele kind vir hom gee nie. So hy is aan haar verbind.
Hierdie drie seuns herinner haar aan die teleurstelling. Die hoop dat Jakob haar nou sal liefhê vir wie sy is maar tog verander daar niks aan sy verhouding met haar nie.
Wat moet ons as gelowiges met hierdie teleurstellings maak en hoe moet ons dit hanteer?
Die antwoord lê in die vierde seun wat Lea vernoem. Sy noem hom Juda, want hierdie keer prys sy die Here. Hier is drie belangrike dinge wat ons moet sien:
Die Verlosser
Ten spyte van Jakob se keuse om vir Ragel lief te hê, kies die Here vir Lea uit wie die Verlosser gebore sou word. Al die konings van Israel is uit Juda gebore en so ook Jesus Christus ons Verlosser.
Dit wys ons dat dit nie saak maak wat mense van ons dink nie. Ons waardigheid is nie gegrond in wat mense van ons dink nie, maar in die feit dat ons Jesus Christus ons Verlosser ken. Dit is al wat saak maak.
Vreugde in die Here
Verder is dit belangrik om onsself te ondersoek. Indien ons ons vreugde in aardse goed soek sal ons keer op keer teleurgestel word. Ons sal permanent bedrieg voel as gevolg van al die sonde wat rondom ons plaasvind.
As gelowiges moet ons ons berusting en vreugde in die Here soek. Jesus bid ons daardie blydskap van die Vader ook toe wanneer Hy bid:
“Maar nou kom Ek na U toe. En Ek sê dit terwyl Ek nog in die wêreld is, sodat hulle my blydskap in al sy volheid in hulle kan hê.” (Joh. 17:13)
Hierdie is ‘n blydskap wat niemand van jou kan wegneem nie.
Die Here bedrieg ons nie
In Jesus sien ons die absolute betroubaarheid van die Here. Dit wat Hy beloof, gee Hy aan ons. Hy skenk ons sy nabyheid en liefde selfs al kos dit Hom sy lewe.
In Hom ontvang ons ‘n Eggenoot/Koning/Vredevors waarvan daar nie ‘n gelyke op aarde is nie. Sy liefde is oneindig groot en daarom kan ons Hom met ons lewe vertrou.
Vrae tot introspeksie:
a) Watter teleurstellings het jy al in die lewe ervaar wat jou moedeloos laat voel het?
b) Watter perspektief gee hierdie gedeelte vir jou op die teleurstellings wat jy ervaar het?
Comments