top of page

Die krag om vernedering en beledigings te hanteer

Teks: Johannes 8: 48-59

Teksvers: Joh. 8: 48

In die vorige hoofstuk wys Jesus ons daarop dat die Jode dink dat hulle kinders van God is, maar hulle dade wys dit nie. Jesus se wysheid het hierdie Jode magteloos laat voel, want vir alles wat hulle sê, het Hy 'n beter antwoord gehad en dan was Hy ook nie bang om hulle sonde uit te wys nie.

Hierdie optrede van Jesus het hulle al hoe meer desperaat gelaat en gedryf om iets aan Jesus te doen. Hulle kon Hom nie met woorde en redenasies stil maak nie. Boonop het hulle geen bewyse gehad wat genoeg gewig gedra het sodat hulle Hom kon arresteer nie.

Die gevolg van hulle desperaatheid was dat hulle Jesus as persoon beledig het. Hulle noem Hom 'n Samaritaan. Die Jode het die woord gebruik as 'n skelnaam juis met die doel om iemand te beledig. Daarmee sê hulle dat Hy oneg is. Hy is nie waarlik een van hulle nie. Verder sê hulle ook dat Jesus van die bose is waardeur hulle Jesus se roeping in diens van die Vader ontken.

Hierdie beledigings is iets waarmee elkeen van ons kan assosieer. Ons is almal al op een of ander manier beledig.

Wanneer ons beledig word en gevolglik seerkry, kies ons gewoonlik om op een van drie moontlike maniere te reageer.

Jy veg deur terug seer te maak en te beledig.

Jy vries of swyg omdat jy so uit die veld geslaan is dat jy nie weet wat om te sê nie.

Jy vlug omdat jy skaam is en sleg voel.

Wat opvallend is van Jesus se reaksie, is dat Hy nie een van die drie doen nie. Ja, Hy praat terug, maar nie om seer te maak nie. Dit is eerder om hulle op die waarheid te wys. Hy bevestig wie Hy is.

Jesus help ons om anders na beledigings en vernederende situasies te kyk. Hy gee vir ons hier 'n paar waarhede waaraan ons moet vashou in so situasie.

1. Weet wie jy is (vs. 49)

Jesus weet dat Hy nie van die duiwel is nie, maar van die Vader. Hy is deur Hom gestuur na hierdie wêreld om ons te red. Daarom is ons nou kinders van God.

Wanneer die werklikheid van Jesus se verlossing in ons harte posvat, sal ons nie meer ons steur aan die beledigings van mense nie, want ons weet wie ons nou in Hom is. Hy het ons gered en daarom staan ons nou in sy diens. Ons kan ook soos Paulus onsself los maak van wat agter is en uitstrek na wat voor is (Fil. 3).

2. Soek die eer van God (vs. 50)

Die volgende stap is 'n stap van selfondersoek. Ons moet ons motiewe biddend ondersoek deur te kyk of dit vir ons oor ons eie eer of oor God se eer gaan. Ons staan in diens van die Here en daarom moet ons doel altyd wees om Hom te verheerlik (vgl. Ps. 115:1).

3. Fokus op jou eindbestemming (vs. 51)

Die derde stap is om te fokus op waarheen ons oppad is. Abraham het vooruit gekyk na die dag van die Here. In Hebreërs staan dit baie mooi:

“Terwyl hulle steeds geglo het, het al hierdie mense gesterwe sonder om te verkry wat beloof is, maar hulle het dit uit die verte gesien en daaroor gejuig, en hulle het erken dat hulle hier op aarde slegs vreemdelinge en bywoners is.” (Heb. 11:13)

Ons moet besef dat ons maar net vreemdelinge en bywoners op aarde is. Jesus was bereid om hier op aarde as vreemdeling behandel te word sodat ons daardie heerlikheid van die ewige kan ingaan. Ons eindbestemming is die ewige! Daarom sal ons dikwels as vreemdelinge behandel word.

4. Die Vader verheerlik ons (vs. 54)

Die wonderlikste van alles is dat die verlossing in Christus ons laat besef dat ons nie die eer van mense nodig het nie. Ons het groter eer in Jesus ontvang. Hy reinig ons van al ons ongeregtighede en dit maak dat ons deur die Vader verheerlik word. Ons kry daardie eer om kinders van God te wees. Ons kan hoor, "mooi so goeie en getroue slaaf" omdat Jesus in ons plek getrou was.

Wanneer ons Jesus se woorde ter harte neem, dan verander ons lewens. Beledigings van mense sal nie meer dieselfde effek op ons kan hê nie.

45 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page