top of page

Vrygekoop met kosbare bloed

Writer's picture: Dr. PJ de BruynDr. PJ de Bruyn

Teks: Johannes 8:31-47

Teksvers: Joh. 8:32


Die waarheid waarna hier verwys word is Jesus as persoon. Hoe meer jy Jesus se woorde en verlossingswerk ken hoe meer besit jy hierdie waarheid. Waarheid gaan dus oor die manier hoe God die mens verlos van sonde. Wanneer jy hierdie verlossingswerk glo, word jy daardeur vrygemaak. Geloof in hierdie waarheid, maak jou vry.

Daarteenoor leef die ongelowige sonder om te besef dat hy 'n probleem het. Hy leef in die waan dat hy vry is. Daarom sê hulle vir Jesus dat hulle nog nooit iemand se slawe was nie. Dit terwyl hulle in Egipte slawe was, in ballingskap weggevoer was en nou onder die Romeinse juk is.

Net so leef ons ook dikwels asof ons in beheer van ons lewens is. Ons maak soos ons wil. Ons wil in beheer van ons eie lewe wees. Ons dink dat vryheid beteken dat jy kan doen wat jy wil.

Vryheid beteken egter nooit dat jy kan doen wat jy wil nie. ‘n Vis se vryheid word beperk deur die water. Hy is vry terwyl hy in die water is. Net so beleef die atleet die vryheid daarvan om fiks te wees, maar hy besit dit binne die grense van sy oefenprogram.

Jesus wys ons hier dat dit ook met ons geloofslewe die geval is. Indien ons dink dat ons vry is om enigiets te doen wat ons wil, dan is ons eintlik nog onder die juk van sonde. Die gevolg is dat ons dan net soos 'n slaaf is wat nooit seker is van sy posisie nie.

Die slaaf kan lank by die huisgesin bly en selfs baie voorregte en vryheid geniet, maar hy bly 'n slaaf. Hy is nooit deel van die huisgesin nie. Sy posisie bly onseker, want sy eienaar kan hom enige tyd verkoop of wegstuur.

Ons beleef die onsekerheid van sonde ook wanneer ons die vryheid wat losbandigheid, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike sonde aangryp, net om later agter te kom dat jy totaal alleen is. Al die verhoudings rondom jou stort in duie.

'n Seun aan die ander kant, is deel van die gesin. Selfs al verlaat hy die huis, bly hy steeds verbonde aan die huis.

So het Jesus die huis van die Vader tydelik verlaat want Hy het na die aarde toe gekom. Sy missie was om hierdie slawe nou vry te spreek sodat hulle kinders word en net Hy het die reg om vryskelding te gee.

Om hierdie vryheid ten volle te kan geniet, moet ons lewens verander. Ons kan nie langer as slawe van die sonde leef nie, want ons is nou kinders van God. Ons moet deel word van hierdie familie deur saam te kom en die Vader, deur die Seun, te aanbid. Alleen in Hom kry ons die vryheid om kind te wees en nie slaaf nie.

Ons kry die sekerheid dat niemand ons nou uit die hand van God kan ruk nie. Die prys is vir ons betaal. Ons kan nou in die sekerheid van kindskap leef en nie in die onsekerheid van slaafwees nie.

Daarom skryf Paulus:

“Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het.” (Fil. 3:12)

As gelowiges moet ons in hierdie sekerheid leef. Ons is God se eiendom. Die boeie van sonde is losgebreek! Die duisternis word verlig deur die waarheid van Christus se verlossing en daarom kan ons in hierdie heerlike vryheid van kindskap leef. Ons is deel van ‘n heerlike geloofsfamilie.

34 views0 comments

Recent Posts

See All

Commenti


©2020 by Paul Jacobus de Bruyn. Proudly created with Wix.com

bottom of page