top of page

Die sabbatsrus

Teks: Genesis 1:28-4a

Met die eerste drie verse in hoofstuk twee beklemtoon die outeur dat rus vir die mens net so belangrik is as seks (1:27-28) en kos (1:29).

Die belangrikheid van hierdie sewende dag word beklemtoon deurdat God die dag seën en heilig verklaar. Die interpretasie hiervan is egter nie so eenvoudig as om bloot te sê dat daar nie op die sewende dag gewerk mag word nie.

In die Johannes Evangelie sien ons dat die Fariseërs vir Jesus daarvan beskuldig dat hy die Sabbat ontheilig het omdat hy ‘n man op die Sabbat genees het. Jesus antwoord hulle dan daarop deur te sê:

“My vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.” (Joh. 5:17)

Daaruit sien ons dat dit nie hier gaan oor die feit dat ons niks op die Sabbat mag doen nie. Dit gaan veel eerder daaroor dat werk nie die einddoel moet word nie, maar dat die werk daaroor sal gaan om God daardeur te dien en te verheerlik.

Jesus is vir ons ‘n perfekte voorbeeld daarin wanneer Hy vir sy dissipels sê:

“My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi.” (Joh. 4:34)

Ons leef in 'n samelewing waar ons hierdie perspektief verloor het. Dit is vir ons baie belangrik om besig te wees. Ons kan selfs nog verder gaan deur te sê dat ons in 'n samelewing leef waar ons identiteit bepaal word deur wat ons doen en hoe besig ons is. Dit raak soms selfs 'n kompetisie om te kan wys dat jy die besigste is.

Ons waardigheid as mens soek ons in ons werk en daarom verloor ons perspektief. Ons doen nie meer ons werk om God te verheerlik nie, maar om onsself te verheerlik.

Die sondeval het hierdie saak nog verder vererger aangesien ons nou nie meer waardig is om God te dien nie. Die gevolg is dat ons ons waardigheid net al hoe meer op ander plekke, soos ons werk, begin soek.

Dit wat ons in God moet kry, soek ons nou in ons werk!

Maar Jesus het dit vir ons kom verander. Daarom skryf Paulus aan die gemeente in Kolosse:

“Daarom moet julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag moet vier nie. Dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom; die werklikheid is Christus.” (Kol. 2:16-17)

Paulus wys ons hier dat die Sabbatdag, net soos al die ander seremoniële feeste, vooruit gewys het na Christus, en daarom in Hom vervul is.

Jesus het vir ons die ware Sabbatsrus gebring, want Hy maak ons weer waardig om kinders van God te wees.

Wanneer ons ons identiteit in Christus ontdek sal ons weer kan rus sonder om skuldig te voel oor die feit dat ons rus. Dit is nie ons werk of hoe hard ons werk wat bepaal wie ons is nie. Dit wat bepaal wie ons is en wat ons in die toekoms sal wees, is ons verhouding met Christus. Die werk wat Hy vir ons aan die kruis gedoen het, bepaal wie ons is. Hy red ons en betaal vir al ons sonde.

Daarom kom ons nie op ‘n Saterdag (Sabbat) bymekaar nie, maar op ‘n Sondag. Jesus het op die Sondag uit die dood opgestaan en daarom moet elke Sondag ons daaraan herinner dat ons nie deur goeie werk die ewige lewe kan ontvang nie. Jesus het alles vir ons aan die kruis gedoen.

Ons kom op ‘n Sondag bymekaar om ons opregte dankbaarheid te toon vir die genade wat ons in Christus ontvang het. Daarom moet elke preek ons ook herinner aan hierdie geestelikerus wat ons in Christus ontvang het.

Vrae tot introspeksie:

a) Hoe sien jy jou werk. Gee dit betekenis aan jou lewe of is dit ‘n roeping waardeur jy die Here wil verheerlik?

b) Hoe verander hierdie gedeelte jou siening van ‘n Sondag?

69 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page