top of page

Drink uit die fontein van Christus se liefde - Joh. 3:1-21

Teks: Johannes 3: 1-21


In hierdie gesprek beklemtoon Jesus dat dit nie vanselfsprekend is dat jy deel het aan die koninkryk van God nie. Jy moet eers "uit die Gees gebore word" (vs. 6). Dit beteken dat God jou hart nuut moet maak en die resultaat daarvan is opregte liefde.

Dit is maklik om soos die Fariseërs 'n klomp reëls na te kom. Die nakoming van daardie reëls wys egter nie wat in jou hart aangaan nie. Jy kan baie mooi dinge doen en steeds nie die Here liefhê nie. In daardie opsig is die woorde van Jesus amper skokkend as Hy sê dat daar mense sal wees wat sê:

“Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam bose geeste uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie? Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree.” (vgl. Matt. 7:22-23).

Dit sien ons ook by die Fariseërs. Hulle was godsdienstig, maar hulle het Jesus doodgemaak. Net so gaan ons dalk kerk toe, maar ons lewe wys nie dat ons ons naaste liefhet nie. Ons liefde hou niks meer in as die heidene nie.

Ware liefde wat uit die weergebore hart kom, sien ons in Jesus. Daardie liefde soek nie sy eie belang nie en dis ook nie selfgesentreerd nie. Ware liefde fokus op die belang van die ander persoon.

Die liefde waarmee ons in God te doen kry is totaal anders as waarmee ons in hierdie lewe te doen kry.

Ons liefde is so afgemeet. Ons is alleen bereid om lief te hê in so vêr mense bereid is om vir ons lief te hê, en dan moet dit ook nie te veel van ons eis nie. Daarom ook dat die rede vir egskeiding dikwels is dat mense meen dat die gevoel van liefde vir die ander persoon nie meer daar is nie….. Ons wil die emosionele opwelling hê sonder die opoffering waaruit liefde bestaan.

Jesus voorsien egter aan ons die water en Gees wat ons nodig het om hierdie hartsveranderde liefde te kan hê. Daarom herinner Hy vir Nikodemus aan die slang in die woestyn (vs. 14).

Die volk se sonde het gewys dat hulle God nie liefhet nie en daarom het die Here slange tussen hulle ingestuur. Toe hulle besef dat hulle gesondig het, het die Here vir Moses beveel om ‘n goue slang te maak en op ‘n paal te sit. Elkeen wat dan sy oë in afhanklikheid opgehef het na bo, was genees.

Jesus se bloed is die water wat ons nodig het om ons skoon te was van sonde. Ons staan in afhanklikheid voor Hom en Hy skenk ons sy Gees om die evangelie van waarheid aan ons oop te maak. Die Gees openbaar die diepte van Jesus se liefde aan ons. Hy is aan ‘n kruis opgehang om vir ons sonde te betaal.

Ons liefde moet gevoed word deur hierdie liefde wat ons in Christus sien. Dit is onbeperk en oorvloedig. Hy kom nie om ons te veroordeel soos ons verdien nie, Hy kom om ons te red (vs. 17). Daardie reddende liefde versterk ons in die geloof en dit spoor ons aan om ander ook so lief te hê (vgl. 1 Joh. 4:19-20).

Dit is liefde wat nie opgee of veroordeel nie. Dit is liefde wat opbou. Liefde wat keer op keer vergewe, help en onderrig.

Ons liefde moet nie bepaal word deur dit wat mense vir ons doen nie, maar deur dit wat Christus vir ons gedoen het aan die kruis.

Moet daarom nie sê dat jy sal liefhê as dit of dat verander word nie. Onthou, ware liefde is om lief te hê bloot omdat jy onverdiende genade in Christus ontvang het.

Dit is hoe ‘n weergebore hart redeneer!!


9 views0 comments
bottom of page