Teks: Genesis 4:9-17 & 1 Korintiërs 3:9b-15
Teksvers: Gen. 4:17b & 1 Kor. 3:9b-11
Inleiding:
‘n Mens kan baie van ‘n persoon leer deur net te kyk na wat hy doen. Sy voorkoms kan jou byvoorbeeld baie vertel oor die persoon se smaak en netheid.
Net so kan die manier hoe ‘n persoon op sake reageer jou baie vertel van sy verhouding met die Here. Ons reaksie op beproewings wys ons of ons op onsself vertrou en of ons op ons Verlosser vertroue. Ons dade wys ons waar ons grootste skat is. Die taal wat ons gebruik wys ons wie ons Vader is.
En daar is net twee kategorieë waarin ons kan val. Ons kan in hierdie lewe slegs ‘n koninkryk bouer of ‘n stad bouer wees.
Daarom word ons in hierdie twee skrifgedeeltes opnuut opgeroep om ons dade te ondersoek. Ons moet kyk of ons soos Kain besig is om vir ons stede te bou vir veiligheid of is dit ons fokus om koninkryk bouers te wees?
Ons gaan na hierdie saak kyk deur eerste vir Kain te bestudeer wat ‘n tipiese bouer van stede is.
‘n Bouer van stede?
In Genesis word daar aan ons vertel van Kain wat ‘n bouer van stede geword het nadat God ‘n oordeel oor hom uitgespreek het.
Omdat Kain sy broer dood gemaak het en op die manier die gemeenskap wat God daar gestel het geskend het, het die Here vir Kain verbied om ooit weer deel van so gemeenskap te wees. Daarom sê die Here vir hom:
“Jy sal ’n doellose swerwer op aarde word!” (Gen. 4:12)
Hierdie was die ergste deel van Kain se straf want hy het geweet dat dit beteken dat hy nie meer toegang tot God het nie. Sy sonde het van hom ‘n doellose swerwer gemaak wat elke nag op ‘n ander plek moet slaap.
Nou, dis belangrik om te sien dat dit altyd die gevolg van sonde is. Dink maar net in ‘n huwelik. Indien daar struweling tussen ‘n egpaar is en daar is nie berou en bekering nie, dan is die uiteinde daarvan altyd vervreemding. Sonde veroorsaak dat ons onsself uit verhoudings onttrek. Sonde maak van ons doellose swerwers word.
En daarom, toe Kain besef water eensaamheid sy sonde hom op die hals gehaal het, toe het hy begin rebelleer.
Hy was gedetermineerd om vir homself ‘n gemeenskap te bou om op te maak vir dit wat hy deur sy sonde verloor het. Indien God dit nie vir hom wil gee nie sal hy dit self bou. Daarom staan daar in vers 17 dat hy net na die geboorte van sy seun begin het om ‘n stad te bou.

Hy vernoem dan ook die stad wat hy bou na sy seun Henog met die hoop dat hy ‘n tipe nalatenskap vir sy familie kan gee. ‘n Veilige vesting vir almal na hom.
Hierdie is die tipiese gedrag van ‘n persoon wat deur die sonde in sy lewe gedwing word om vir hom stede te bou. Stede wat een of ander vorm van veiligheid, of vrede, of vreugde, of rykdom of gesondheid verteenwoordig. ‘n Bouer van stede gebruik al sy hulpbronne om hierdie lewe so na as moontlik te maak aan dit wat ons alleen in Christus kan kry.
Vandat Adam en Eva in sonde geval het is elke mens op aard gevul met hierdie begeerte om weer met God in ‘n huisgesin verenig te wees. Ons droom daarvan om in vrede te leef en om bevry te wees van alle siektes. Ons wil so graag deel wees van ‘n gemeenskap waar daar veiligheid is en nie egskeidings, moord en roof nie. Ons wil deel wees van ‘n gemeenskap waar almal in liefde saam leef.
Die realiteit is dat ons nog nie daar is nie en daarom probeer “stad bouers” alles in hul vermoë om hierdie plek waar ons nou is so naby as moontlik aan daardie ideale gemeenskap te maak. Indien God nie wil ingryp nie sal die “Stad bouer” self die werk doen.
Daarom bou ons!
Sommige van ons bou aan ons eie gesondheid. Jou gesondheid word jou alles en dan oefen jy nie meer net om fiks te wees nie, jy oefen om jouself te bewys... Jy gebruik nie net medikasie om jou gesondheid te bevorder nie, jy gebruik dit om van jou ‘n beter jy te maak. Jy soek jou krag en jou menswees en jou identiteit daarin.
Of sommige ons bou aan ‘n loopbaan en dan word jou loopbaan jou alles. Jy spandeer onmenslik baie ure aan werk en al jou ander verhoudings word afgeskeep. En omdat ons loopbaan so belangrik is sal ons dan selfs partykeer al ons waardes op die spel plaas, net om daardie kontrak of daardie eer of daardie prestasies te bereik.
Ander van ons bou weer aan verhoudings. Verhoudings word so belangrik dat die grens tussen wat kuis en onkuis is, een groot grys area word. In daardie verhoudings probeer ek dan my waardigheid as mens kry.
Watter stede is ons besig om te bou uit desperaatheid om nie soos ‘n doellose swerwer te voel nie?
Die probleem met hierdie bouwerk is dat ons elke keer met ons swakheid gekonfronteer word. Soms is daar tydelike verligting maar gewoonlik loop hierdie werke uit op groot mislukkings en teleurstellings, want dis wat sonde doen.
2. ‘n Bouer van die Koninkryk?
Korintiërs stel ons bekend aan ‘n gemeenskap waarvan die fondament reeds gelê is. Die grootste en belangrikste werk is vìr ons gedoen. Die deel van ‘n gebou wat bepaal of ‘n stad sal bly staan wanneer aardbewings en storms die stad bedreig, daardie deel het Christus vir ons kom lê en dit is volmaak.
Daarom is ‘n Bouer van die koninkryk altyd besig om op die fondament wat reeds gelê is te bou. ‘n Bouer van die Koninkryk vertrou Christus se werk baie meer as sy eie werk. Hy weet dat sy eie werk gering is maar omdat dit op ‘n vaste Fondament rus sal dit die toets deurstaan.
En hoor dan hoe groot is hierdie genade wat in vers 15 verkondig word:
“...as iemand se werk verbrand, sal hy nie beloon word nie, en tog sal hy self gered word, maar soos iemand wat uit die vuur geruk is.” (1 Kor. 3:15)
Ons bouwerk is baie keer nietig. Dis van stof en gras en tog word ons gered bloot uit genade. Christus was bereid om sy veilige woning te verlaat. Hy was bereid om ‘n vreemdeling te word in ‘n vreemde land om ons daaruit te kon bevry en deel te maak van Sy koninkryk. Deel van sy bouwerk.
Jesus was bereid om die een te word wat deur die mense wat al hierdie mooi stede bou verstoot te word. Hy moes sy kruis na buite die stad dra sodat die Romeinse owerheid saam met die Jode hom daar aan ‘n kruis kon ophang.
Hy is deur mense gespoeg en geslaan en spottend het hulle na Hom verwys as die “Koning van die Jode”.
Sy Verlossingswerk aan die kruis het die fondament gelê sodat elkeen wat in Hom glo deel kan word van ‘n nuwe Koninkryk waarvan Hy die fondament is.
Die belangrikste deel van die koninkryk is reeds gebou deur Jesus se volmaakte gehoorsaamheid aan die Vader. Christus het hierdie volmaakte fondament vir ons gelê en dit hou vir ons groot voordeel in.
Dink so daaraan. Christus se werk maak dat:
Dit vir ‘n koninkryk bouer moontlik is om nie bang te wees vir mislukkings nie, want al is hulle werk vol mislukkings, Christus se werk was en is volmaak. Dis hoekom hier staan dat ons gered word soos een wat uit die vuur geruk is. Dis net genade! En ons sien hierdie genade in besonder ook in die feit dat die Here selfs ook die slegte dinge tot ons eie beswil gebruik en daarom staan daar:
“Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.” (Rom. 8:28)
M.a.w. al is ons bouwerk gebroke, loop dit vir ons uit op die ewigheid saam met God. ‘n Koninkryk bouer weet dat God ‘n reguit hou slaan met ‘n krom stok en daarom is hy nie bang vir mislukkings nie. Hy weet wie hy is in Christus.
Maar Christus se bouerwerk aan die koninkryk maak ook dat:
Die Koninkryk bouer nie in ontkenning oor sy foute hoef te leef nie. Daarom is ‘n koninkryk bouer altyd bereid om verskoning te vra wanneer hy gefouteer het want hy weet dat sy sonde reeds betaal is in Christus. Christus is sy fondament. Op Hom vertrou hy en nie op homself nie.
Maar Christus se bouwerk aan die koninkryk maak ook dat:
Die koninkryk bouer besef dat hy ‘n vreemdeling in hierdie wêreld is omdat hierdie wêreld nie sy huis is nie. Hy is oppad na sy ewige woning saam Christus. Christus het die pad gereed gemaak sodat elke koninkryk bouer deel kan word van ‘n nuwe familie waarvan God ons Vader is.
Christus het dit vir ons moontlik gemaak om weer toegang te hê tot die God by wie en in wie ons volmaakte gemeenskap kan ervaar. Ons is nie meer doellose swerwers nie. Dit waarna ons diepste wese smag word aan ons gegee deur ons verhouding met Jesus die Christus.
En dan maak Christus se bouwerk aan die koninkryk ook dat:
Die Koninkryk bouer nie bang vir kritiek nie, want hy soek nie aanvaarding by mense nie, hy soek aanvaarding by God in Christus. Dit maak nie vir hom saak wat mense van sy werk dink nie solank hy dit net in absolute gehoorsaam aan God doen.
Waarvan getuig ons bouwerk? Getuig ons bouwerk daarvan dat ons alles in ons vermoë doen om aan die koninkryk van God te bou of sloof ons onsself af om ‘n stad te bou wat vir ons die ideale en veilige vesting sal gee? Bou ons vir onsself ‘n stad of vertrou ons op Christus se bouwerk?
Hoe voed ons ons kinders op? Leer ons hulle dat akademiese en sport prestasie nie die eindpunt van alles is nie. Akademie en sport bepaal nie jou toekoms nie, maar Christus doen.
Verder gaan die lewe nie daaroor om die mees betaalde beroep te volg soos die wêreld leer nie. Ons moet biddend soek en vra hoe die Here ons in sy koninkryk as bouers wil gebruik. Dis ons doel!
Koninkryksbouer jaag nie eer of status of rykdom of sukses na nie. Nee, hoor wat jaag ons na...
“Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, 11in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.” (Fil. 3:10-11)
Jesus is ons fondament!
Hoe hanteer ons kritiek? Probeer ons die mense wat krities is oor dit wat ons doen so ver moontlik vermy om vir onsself ‘n veilige hawe te skep waar almal onderdanig is aan my en luister na wat ek sê. Of erken ons ons eie swakheid en gebruik dan daardie kritiek om ons eerlik voor die Here te evalueer.
Slot:
Ons hoef nie doellose swerwers op aarde te wees nie. Swerwers wat uit desperaatheid probeer om ‘n bestaan te maak nie - want Christus het ons van daardie doelloosheid kom bevry. Hy het ‘n vreemdeling op hierdie aarde geword sodat ons kinders van God kan word. Sodat ons daardie vaste fondament het!
Christus gee vir ons doel aan die lewe en deur koninkryk bouers te word ontvang ons vrede in alles wat ons aanpak omdat ons weet dat God in beheer is. Die fondament is reeds in Christus gelê.
Kom ons stel onsself daarom al meer daarop in om op Christus te bou. Sy werk was en is volkome!
Comentarios