top of page

Die Here doen wat vir Sy koninkryk die beste is.

Teks: Lukas 8:26-39

Teksvers: Lukas 8:38-39

Inleiding:

Geliefdes, daar is baie vrae rondom die verhoring van gebede. En een aspek daarvan is die vraag waarna ons vandag gaan kyk, dit is: watter maatstaf gebruik die Here wanneer Hy besluit om ons gebed te verhoor of nie?

Om iets daarvan te kan verstaan is dit belangrik om te weet dat God ons gemaak het met ‘n spesifieke gawes vir ‘n besondere taak. So verrig elkeen van ons ‘n besonder taak in die koninkryk van God om sy doel met ons lewe te bereik. Ons bou dus saam aan die koninkryk van God en so dien ons Hom.

Ons kan dus sê dat dit ons doel is om in diens van God en Sy koninkryk te staan! En ons moet dit in gedagte hou wanneer ons na die vraag kyk: “Watter maatstaf gebruik die Here wanneer Hy besluit of Hy ‘n gebed verhoor?”

Kom ons kyk eerste na hierdie man se versoek.

1. Hierdie man se versoek.

In die vorige gedeelte (Luk. 8:22-25) wys Christus sy dissipels dat daar aan hom die mag gegee is om selfs ‘n onstuimige see tot bedaring te bring en in ons teks gedeelte wat ons nou gelees het, is dit ook duidelik dat Christus die mag het om ‘n onstuimige mens tot bedaring te bring. Selfs die bose geeste erken Christus se mag wanneer hulle in vers 28 bely:

“Jesus, Seun van God die Allerhoogste” (Luk. 8:28).

Toe Christus en sy dissipels by Gadara aan wal kom, was daar ‘n uiters ellendige wese wat op hulle afgestorm het. Dit was ‘n man sonder klere. ‘n Man wat lank reeds deur duiwels besete is. ‘n Man wat in grafte bly.

Net die feit dat daar vir ons gesê word dat die man in die grafte gebly het, is al ‘n bevestiging dat hierdie man van sy sinne beroof was.

En ten spyte daarvan dat hierdie man verwaarloos en verslete was, stel Christus belang aan hom. ‘n Meer menslike reaksie sou dalk gewees het om die man te ignoreer of selfs dalk om hom skerp aan te spreek. Maar selfs hier tree Christus in liefde op. Die duiwelbesetene word deur Christus genees. Dis tog hoekom Christus na die aarde toe gekom het. Hy het tog self gesê:

“Dié wat gesond is, het nie ’n dokter nodig nie, maar dié wat siek is. Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars.” (Mark. 2:17).

Nadat Christus hierdie duiwelbesetene genees het word die berug versprei deur die ooggetuies en kort voor lank is die inwoners van die stad daar om te kom kyk hoedat die besetene normaal, by sy volle verstand en geklee is. Boonop sit hy ook aan die voete van Jesus wat daarop wys dat hy nou ‘n navolger van Jesus is.

Die feit dat hierdie man normaal en heeltemal genees is, maak egter min indruk op die stad se inwoners. Al wat hulle sien is die groot skade van die varke wat dood is. En so word dit duidelik waar hierdie mense se skatte lê. Hulle is nog vas aan die wêreld. Die lewe en welstand van hierdie man beteken vir hulle niks.

Hulle het geen waardering vir Jesus, die Redder en Helper nie. Hierdie wonder maak geen indruk nie behalwe dat die inwoners bang word vir verdere skade wat hulle dalk mag tref indien Jesus langer by hulle bly.

Die teendeel gebeur egter by die man wat genees is. Hy is gestroop van alle verkeerde sieninge. Hy hou nou vas aan iets wat ewigheidswaarde het. Hierdie man wat van duiwels besete was, vra vir Jesus of hy nie saam met Hom kan gaan nie. Hy alleen sien die wonderlike genesing wat daar in Christus is. En daarom hierdie versoek. ‘n Versoek wat billik en heeltemal verstaanbaar is.

Dink maar net, om altyd by hierdie Bron van genesing te kan wees. Wat ‘n voorreg.

Buitendien was die inwoners van die stad, glad nie bly oor hierdie man se bevryding nie. Hulle het hom in elk geval al lankal verwerp. Waarom sal hy dan nog langer daar by hulle bly. Netnou vra hulle hom om hulle te vergoed vir die skade wat hulle gehad het met hulle varke wat dood is.

Verder word daar ook nie iets oor die man se familie en vriende gesê nie. Selfs hulle het heel moontlik al van hom vergeet.

Sien jy dat die versoek van hierdie man, om by die Here te bly, menslik gesproke baie billik en verstaanbaar is.

2. Die Here se antwoord.

Uit die antwoord wat Christus aan die man gee is dit duidelik dat die Here nie sy versoek toestaan nie. Die Here het ‘n ander doel met die lewe van hierdie man.

Die doel wat God met sy lewe het, is dat hy in sy eie huislike kring moet gaan vertel van die groot dinge wat God vir hom gedoen het. Hierdie man word die eerste uitgestuurde van Jesus om die blye boodskap te gaan verkondig.

En hierdie man het ‘n boodskap om te verkondig! Hy is gered! As bewys van die egtheid van sy boodskap kry hy ‘n lewe wat nuut gemaak is. Hierdie man word die eerste getuie van die opstandingskrag wat deur Jesus Christus aan ons gegee word. Deur Christus is dit moontlik dat ʼn persoon wie se lewe vol sonde was, totaal kan verander.

Daarom bid Paulus vir die gemeente in Efese sê:

“Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet... hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het” (Ef. 1:18-20).

Die krag waarmee Christus uit die dood opgewek is, daardie krag is in elkeen van ons wat glo werksaam deur die Heilige Gees. Jesus Christus het die mag van die sonde totaal oorwin deurdat Hy uit die dood opgestaan het en Hy skenk aan ons dieselfde mag deur die Heilige Gees.

Hierdie man wat Jesus hier genees was ‘n voorafskadu van die krag wat NOU in elkeen van ons werksaam is, want ons het die Heilige Gees.

Sien jy dat dit wat ons Here Jesus Christus met hierdie man se lewe wil doen, beter is vir God se saak. Maar dit is nie net beter vir die Koninkryk nie, dit is ook beter vir Hom as persoon. Hy het die voorreg om die eerste uitgestuurde te wees. Hy het die voorreg om te kan getuig van hierdie opstandingskrag wat hy ervaar, ‘n nuwe lewe wat hy ontvang het en hy kry die geleentheid om hierdie krag ook met ander te deel.

Indien Christus die man se versoek toegestaan het, sou hy heel moontlik nie soveel kon beteken vir die koninkryk van God nie. Maar deurdat Jesus die man terugstuur na sy mense toe, sodat hy die goeie nuus aan die mense van daardie dorp kan vertel, kry Hy die voorreg om die weg voor te berei vir die volgende besoek van Jesus aan hierdie selfde gebied.

Toe Jesus ‘n paar maande later weer in die gebied van die Dekapolis kom, het Hy daar ‘n geopende deur gevind. Hierdie man het inderdaad ‘n goeie werk gedoen.

Die Here doen dus wat die beste is vir sy koninkryk.

Maar ons sal dit net kan aanvaar, wanneer ons sien hoe Jesus, die volmaakte Seun van God se gebed ter wille van ons in Getsemane afgewys is. Ter WILLE van ONS!!

Hy bid en vra die Vader: “Vader, as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie maar u wil geskied!” (Luk. 22:42)

Christus het besef dat die pad wat voor Hom lê die pad is waarin Hy van God, sy Vader verlaat moet word. Hy moet in teendeel deur God vervloek word in ons plek, oor ons sonde.

Hierdie innige gebed wat soek na God se teenwoordigheid, word afgewys sodat elkeen van ons wat hierdie gebed bid, se gebede wel verhoor kan word. Nie omdat ons goeie mense is nie, maar omdat Christus bereid was om die vloek in ons plek te dra. Omdat Hy bereid was om te doen wat vir die Koninkryk van God die beste is. Omdat sy gebed nie verhoor was nie.

Voordat ons nie sien wat Christus bereid was om op te offer vir die koninkryk nie, vir ons nie, sal ons altyd ‘n probleem met gebed hê. Ons selfsug sal ons perspektief belemmer.

Daarom moet ons hierdie perspektief hê!

Ons moet besef dat ons reeds alles het wat ons nodig het om ‘n ewigheid saam met God deur te bring. In Christus het ons reeds alles ontvang omdat sy gebed nie verhoor was nie. Eers wanneer ons dit besef, sal ons ook soos hierdie man nie teleur gestel wees wanneer iets in ons lewe nie uitwerk soos wat ons gedink het of gebid het dat dit moet wees nie.

Ons sal rustig wees omdat ons besef dat God selfs sy eie Seun laat sterf het sodat ons deel kan wees van sy koninkryk en niks kan dit van ons wegneem nie.

Dit is ook hoekom Christus sê:

“Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee” (Matt. 6:33).

Hierdie lewe gaan nie oor ons eie gerief en voorspoedige lewe nie. Daar is ‘n groter prentjie naamlik God se koninkryk wat moet kom! Deur ons hele wese moet ons Christus en sy koninkryk dien.

Die Here plaas jou, soos hierdie man, met ‘n doel daar waar jy is – in die omstandighede wat jy is. Hoe kan jy die koninkryk daar uitbou?

En die troos wat ons hierby kry is dat dit wat vir die koninkryk van God die beste is, is ook vir ons uiteindelik die beste sal wees. Alles wat ons doen moet tot opbou van God se koninkryk dien. Want so sal ons ook aan die einde van ons lewe die koninkryk van God ingaan en as beloning aan Sy heerlikheid deel hê. Daarom sê Paulus:

“Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie, omdat julle weet dat julle van die Here as beloning sal kry wat Hy belowe het. Christus is die Here in wie se diens julle staan” (Kol. 3:23-24).

Slot.

Geliefdes. ‘n Gelowige kan en mag nie selfgesentreer wees nie. Dit is nie net jy wat deel aan die Koninkryk het nie, daar is ‘n hele menigte.

Hoeveel mense is nie daar buite wat smag na hierdie verlossing wat ons in Christus ontvang het nie. Daarom moet ons sorg dat ons alles sal doen wat die beste is vir die koninkryk van ons Koning. En op die einde van die dag is dit wat vir die koninkryk van God die beste is, ook die beste vir elkeen van ons.

Kom ons beywer onsself allereers vir die koninkryk van God en die wil van God! Dit is goed, dit is volmaak, dit gee lewe!

27 views0 comments

Recent Posts

See All

Die rol van my gedagtes in my verhouding met God!

Lees: Efesiërs 4:17-24 Inleiding: In Efesiërs 4:17-24 beskryf Paulus die skerp kontras tussen dit wat hierdie gelowiges was toe hulle nog heidene was en dit wat hulle nou geword het in Christus[1]. E

bottom of page