top of page

Kenmerke van ‘n navolger van Christus

Teks: Johannes 15:1-8

Teksvers: Joh. 15:1

In hierdie gedeelte word twee tipes dissipels geïmpliseer. Aan die een kant kan jy 'n dissipel wees deur assosiasie. Kenmerke van so dissipel is:

Jy is nie regtig deel nie (vs. 2)

Om te kan sê dat ek aan 'n kerk behoort, maak my nie noodwendig 'n dissipel van Jesus nie. Maar jy kan ook nie dissipel wees as jy nie deel is van die kerk nie. Jesus vergelyk dit hier met 'n loot wat nie aan die wingerdstok vas is nie. So loot verdroog en die eindresultaat is dat dit in die vuur gegooi word. Net so moet ons deel wees van Christus en sy kerk.

Jy dra nie vrug nie

In die verband is Judas 'n goeie voorbeeld. Hy het geen lojaliteit as dissipel van Jesus gehad nie. Die gevolg was dat...

· Hy nie Jesus se koningskap aanvaar het nie.

· Hy net sy eie voordeel in alles gesoek het.

Sy tyd, geld en verhoudings word bepaal deur die voordeel wat dit vir homself inhou.

Teenoor hierdie dissipelskap staan die dissipel wat ten volle deel is.

Die kenmerke van so dissipel is:

Hy is nederig

Hier is die metafoor wat gebruik word belangrik om te verstaan. Die wingerdstok is die belangrikste deel van die wingerd. Hy voorsien al die nodige voedsel aan die lote sodat hulle kan groei en vrugte dra.

Jesus was alles wat ons nie kan wees nie. Ons is totaal afhanklik van die verlossing wat ons deur Hom het en daarom moet die vrug ook hierdie nederigheid wees. Ons kan nie self deel word van hierdie heerlike wingerdstok nie, dit is alles genade. Daarom is die ware dissipel nederig. Hy weet dat Jesus vir Hom alles gedoen het aan die kruis.

Hy weet dat dit nodig is om gesnoei te word

'n Dissipel word gesnoei. Hebreërs stel dit ook baie mooi dat as die Vader ons nie tug nie, dan wys dit dat Hy nie lief is vir ons nie (Heb. 12:7). Om gesnoei te word hou beslis baie pyn in, maar dit is uiters noodsaaklik. Dit is nodig omdat die Vader ons daardeur help om nog meer vrug te dra. Jesus se dood en opstanding is die bewys daarvan. Sy dood was uiters nodig. Hy het namens ons gely sodat ons deel van sy heerlikheid en goedheid kan wees. Ons is in Hom. Veilig! Behoue!

Hy is gehoorsaam aan God

Jesus maak hierdie ruim belofte in vers 7. Hy sê dat die dissipel kan vra net wat hy wil hê….en hy sal dit kry.

Dit is egter ook 'n belofte met 'n beperking. Net voor die belofte staan daar dat jy in Jesus moet bly. Verder staan daar ook in vers 8 dat 'n dissipel baie vrug dra en die Vader so verheerlik.

Hierdie beperking wys dus daarop dat die dissipel vertrou dat God se wil vir sy lewe die beste is en daarom soek en vra hy na God se wil en eer.

'n Dissipel vertrou die Vader. Hy weet dat die Vader se wil en eer voorop staan. Sy grootste behoefte is om aan God die eer te gee.

Jesus is ook elke dissipel se motivering om aan God die eer te gee. Ons het nie nodig om self die eer te wil hê nie, want ons verstaan wat Jesus vir ons gedoen het. Ons verdien verwerping en vernedering, maar God het ons so lief dat Hy Jesus in ons plek verneder en verwerp het sodat ons sy kinders kan wees. Daarom kom al die eer aan God toe.

Vrae tot introspeksie:

a) Watter een van hierdie eienskappe erken jy in jouself?

b) Aan watter een van hierdie eienskappe moet jy nog werk?

36 views1 comment

Recent Posts

See All
bottom of page