top of page

Die liefde van God gee krag om staande te bly

Teks: Johannes 16:25-33

Teksvers: Joh. 16:33

Ek het al baie gewonder hoe dit vir die gelowiges oor die eeue moontlik was om te bly glo terwyl hulle vervolging in die gesig staar. Waar kry mens daardie dapperheid en krag om te volhard in die geloof? Jesus gee die antwoord hier.

In die vorige perikoop het Jesus gesê dat Hy die gelowiges se voorspraak by die Vader is (vgl. Vs. 23-24).

Ons bid in Jesus se naam omdat ons nie waardig is om in eie verdienste na die Vader te gaan nie. Jesus maak ons, deur sy verlossingswerk, voor die Vader aanvaarbaar.

Hierop reageer die dissipels dat hulle nou verstaan en glo maar Jesus wys hulle op die feit dat hulle binnekort uitmekaar gejaag sal word en Jesus alleen gaan agterlaat.

Daarmee wys Jesus die dissipels, en vir ons, dat dit nie genoeg is om net te sê dat ons glo nie. Hierdie geloof in Jesus moet ons lewe verander. Die vrede wat ons in Hom kry, moet sigbaar word in die feit dat ons op staan vir wat reg is.

As gelowiges weet ons hoe moeilik dit is. Wanneer ons gekonfronteer word deur vervolging en moeilike omstandighede, dan wil ons ook soos die dissipels weghardloop. Daardie siekte maak jou dalk opstandig, of die feit dat jy jou werk verloor maak dat jy die getrouheid van die Here bevraagteken. Miskien sukkel jy nog met selfbeheersing. Jy kap ook soos Petrus met die swaard na die vyand (Joh. 18:10) in plaas daarvan om God te vertrou vir die uitkoms.

Jesus se doel met hierdie woorde is om sy dissipels te bemoedig sodat hulle vrede kan kry in Hom (vgl. vs. 33). Hulle moet oortuig wees van Jesus en die Vader se liefde vir hulle. Dit is daardie liefde wat die gelowige vrede gee.

Sodra beproewings oor ons pad kom, is ons geneig om die Vader se liefde te bevraagteken. Daarom is dit belangrik om te besef dat ons nie op grond van ons eie verdienste na die Vader gaan nie. Ons bid in die Naam van Jesus, want Hy het ons aanvaarbaar gemaak. Daarom sê Hy ook in vers 33 dat Hy die wêreld klaar oorwin het. In Hom is ons reeds oorwinnaars. Ons moet oortuig wees van daardie genade, liefde en oorwinning.

Paulus sluit ook by hierdie gedagte aan wanneer Hy sê:

“Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is—watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees—daarop moet julle julle gedagtes rig. En wat julle van my geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het, dit moet julle doen. En God wat vrede gee, sal by julle wees.” (Fil. 4:8–9).

Paulus wys ons dat ons ons gedagtes moet rig op al God se heerlike deugde en die gevolg daarvan is hierdie heerlike vrede in God.

Die vrede volg dus op die feit dat ons ons gedagtes op God se genade, verlossing en liefde rig. Daarom kry ons vrede in Hom om ten spyte van die moeilike omstandighede van hierdie wêreld, staande te bly. Dapper te veg.

Moenie vergeet dat God jou uiters liefhet nie. Ten spyte van ons vyandigheid teenoor Hom het Hy ons in Jesus Christus kom red uit die mag van die dood. Daardie liefde wat ons in Hom kry verdryf alle vrees en vul ons met groot vrede!

Vrae tot introspeksie:

a) Waarom sukkel gelowiges dikwels om hierdie vrede in Christus te ervaar?

b) Hoe help Jesus ons hier om in hierdie vrede te leef?

53 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page