top of page

'n Gelowige perspektief op sonde en onreg wat teen ons gedoen word!

Teks: Lukas 9: 51-56

Teksvers: Luk. 9: 54 & 55 + HK Son. 2 v/a 4

Inleiding:

In die teksgedeelte wat ons gelees het kry ons te doen met twee dissipels wat hulle ten diepste toegewy het aan Jesus. Hierdie is toewyding wat dalk soms met die eerste oog op slag baie goed en mooi lyk, maar wanneer ons dieper kyk, dan sien jy dat daar ‘n belangrike onderdeel kort, naamlik liefde.

Dit is amper dieselfde tipe toewyding wat die Moslems vir hulle god het. Hulle is so toegewyd dat hulle selfmoordbomaanvalle loods. Hulle maak mense dood in toewyding aan hulle god. En hoewel dit baie mooi en eerbaar klink, bly dit toewyding sonder liefde.

Hierdie twee dissipels is toegewy aan Jesus, maar nie in liefde nie. Hulle is toegewyd met vuur!

1. Die dissipels was toegewyd met vuur.

Die Samaritane was ‘n volk wat sy ontstaan in ongeveer 700 v.C. gekry het. Wat gebeur het is, die Assiriërs het Israel weggevoer in ballingskap maar daar was ‘n klomp mense wat in die land agter gebly het.

Na die ballingskap is ‘n bevolking uit die Ooste gebring om in Samaria te vestig. So het dit gekom dat die oorblywende Jode in Samaria met hierdie Oosterlinge vermeng het en hulle is Samaritane genoem.

Hierdie vermenging het ook veroorsaak dat, hoewel die Samaritane die eerste vyf boeke van die Bybel erken het, hulle ook heidense gebruike aanvaar het. Daarom het die Samaritane hulle eie godsdiens en hulle eie heiligdom gehad.

En dit is a.g.v. hierdie herkoms en godsdiens dat die Jode ‘n streng skeiding tussen die Samaritane en hulleself gehad het. Elke groep het geglo dat hulle die ware godsdiens het.

Dit is om hierdie selfde rede dat die Samaritane in hierdie gedeelte geweier het om Jesus en sy dissipels in die stad te laat oornag. Dit was nie dat hulle nie in sy boodskap geglo het of dat hulle in opstand gekom het teen Hom as persoon nie. Dit was bloot omdat Hy ‘n Jood was.

Die Samaritane se hardnekkigheid het dus gemaak dat hulle nie kon ontvang wat Jesus bereid was om vir hulle te gee nie. Dit laat mens dink aan dit wat die Hebreërs skrywer ons leer as Hy sê:

“Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves.” (Heb. 13:2)

Hierdie Samaritane het die geleentheid om die Verlosser te huisves tussen hulle vingers laat deur glip.

En dit is ook presies oor hierdie ongasvryheid en oneerbiedigheid wat die twee dissipels, Jakobus en Johannes so vurig reageer. Hulle is opsoek na blyplek vir die Messias en hierdie klomp Samaritane wys hulle weg.

Hierdie hardnekkigheid en rassisme van die Samaritane is die oorsaak daarvan dat Jesus en die dissipels nou na ‘n lang dag se reis nog verder moet reis na die volgende dorp om daar te oornag.

En daarom vra hulle vir Jesus:

“Here, wil U hê ons moet vuur uit die hemel afroep om hulle te verteer?” (vs. 54)

Voordat ons Jakobus en Johannes net veroordeel oor dit wat hulle sê, moet ons eers probeer om hulle te verstaan. In vers 28-36 word die gebeurtenis van die verheerliking op die berg aan ons beskryf waar Moses en Elia aan Jesus verskyn. Die kern boodskap van daardie gedeelte is dat Jesus veel groter as Moses en Elia is.

Van hierdie selfde Elia word daar twee keer vermeld dat hy vuur uit die hemel afgeroep het omdat hy as profeet verwerp is. Die eerste keer (1 Kon. 18) was toe Elia in ʼn groot stryd met die Baäl profete was. Hulle wou bewys dat Baäl die ware God is en daarom het Elia vir hulle gesê dat hulle tot hulle god moet bid en vra dat hy hulle offer aan die brand steek as hy dan waarlik god is.

Toe daar niks gebeur nie het Elia gebid en daar het vuur uit die hemel gekom om sy offer en hulle offer aan die brand te steek. Daarna het hy al die Baäl profete dood gemaak.

In 2 Konings 1 word weer beskryf hoe koning Ahasia baie siek was. Hy het toe boodskappers na Baäl-Sebub toe gestuur om die god van Ekron te raadpleeg oor sy gesondheid. Daarom keer Elia die boodskappers voor en beveel hulle om terug te gaan na die koning om vir hom te vra of daar nie ʼn God in Israel is om te raadpleeg nie?

Die koning stuur toe ʼn Offisier met 50 manskappe na Elia toe om te beveel dat Elia na die koning toe moet gaan. Elia roep toe vuur uit die hemel wat almal verteer.

Die koning het toe weer ʼn offisier met vyftig manskappe gestuur en dieselfde het met hulle gebeur. Die derde offisier met sy vyftig manskappe het voor Elia op sy knieë geval en gesmeek om genade. Elia het toe saam met hom na die koning toe gegaan.

Jakobus en Johannes het hier met Jesus te doen wat groter is as Elia en daarom meen hulle dat dit geregverdig sal wees om vuur uit die hemel te roep omdat hierdie mense vir Jesus onteer en verwerp.

Aan die een kant het ons half begrip vir hulle versoek. Ons weet hoe dit voel om met rassistiese aantygings toegesnou te word. Ons weet hoe dit voel om verwerp te word wanneer ons baie goeie bedoelings het. Dit is dan ook wanneer ons voel of ons vuur uit die hemel wil roep.

Ons tree ook dikwels soos Jakobus en Johannes op. Ons haat sonde en wil hê dat die sondaar vir sy sonde moet betaal.

En in die lewe verwag ons dat mense ons met die nodige respek moet behandel, want ek is ‘n goeie kliënt of belastingbetaler ek verdien goeie diens en respek. En by my werk sal ek dalk voel dat ek die respek verdien weens my posisie. En wanneer ons dan nie die nodige respek ontvang nie dan wil ons vuur uit die hemel roep.

Nou, in die dissipels se optrede is dit mooi dat hulle toegewyd is aan Jesus, maar dis ‘n fanaties toegewydheid aan Christus.

En dis juis hierdie fanatiese toewyding wat maak dat hulle selfs bereid is om mense met vuur te verteer omdat hierdie mense onsimpatiek en onredelik en sondig optree teenoor Jesus.

Die gevolg van hulle toewyding aan Jesus was hoogmoed en moord. Is dit moontlik? Kan toegewydheid aan Jesus Christus so oorboord gegooi word dat ‘n heel ander perspektief na vore kom.

Wel ons sien dit dikwels in die kerk gebeur. Ons is partykeer so oortuig van ons standpunt dat wanneer ander nie met ons saam stem nie ons terug reageer met vuur. Met haat. Met oordeel. Met vernietiging.

Of iemand sê of doen dalk iets wat ons verwerp laat voel. Soos die Samaritane wat weier dat die dissipels daar oor nag, en dan reageer ons daarop met vuur. Hoe kan, hoe durf hulle.

Dit is fanatiese toewyding. Maar nie aan Christus nie, dis toewyding aan onsself. Ons word kwaad omdat ons eer aangetas word. Net so ook in hierdie geval met die dissipels. Hulle toewyding aan hulleself is baie groter as die toewyding aan Christus. In vers 46 het hulle juis baklei oor wie die belangrikste is. Dit gaan net oor hulleself en daarom reageer hulle met vuur.

2. Ware dissipels is toegewyd met liefde.

Teenoor hierdie toegewydheid met vuur, stel Jesus vir ons die voorbeeld van toegewydheid met liefde.

Daarom bely ons, volgens die Kategismus:

Vraag 4: Wat eis die wet van God van ons?

Antwoord: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelyk staan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

So die ware liefde bestaan uit hierdie twee dele. Nie net toegewyde liefde tot God nie, maar ook toegewyde liefde tot die naaste.

Vir ‘n ware dissipel van Jesus Christus is dit altyd belangrik om daardie balans te handhaaf. ‘n Ware dissipel het dus toegewyde liefde vir God en sy naaste. Dit is presies hier waar die probleem is in die dissipels se toewyding.

Indien ons net toegewyde liefde vir God het kan ons net soos die dissipels hier, selfs moord goedpraat. Ons kan sê “ons het God lief” en daardie persoon laster Hom of hy doen dinge in die Here se Naam wat Sy eer aantas, en daarom kan ons met hom praat soos ons wil en met Hom doen wat ons wil.

Daarom skryf Johannes ook in sy eerste brief die volgende:

“As iemand sê: “Ek het God lief,” en hy haat sy broer, is hy ’n leuenaar; want wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan sien nie.” (1 Joh. 4:20)

Maar die teendeel is ook waar. Ons kan ook nie ons naaste liefhê sonder om God lief te hê nie. Dit is weer presies wat die Humaniste doen. Hulle plaas so geweldige klem daarop dat jy jou naaste moet liefhê dat hulle terselfdertyd God verwerp. ‘n Humanis sal ‘n persoon wat Godslasterlik praat verskoon net so lank die mens nie skade ly nie. Net so lank die mens geëer en gerespekteer word.

Die gevolg is dat jy dan by ‘n punt kom dat jy niemand mag aanspreek oor sonde nie. Ons moet mekaar net liefhê, maar dis nie ware liefde nie. Dis lafhartigheid. Jy is bang om die waarheid te praat. Jy ag mense se wil belangriker as God se wil. Jy het mense meer lief as vir God (vgl. 1 Sam. 2:29).

Hierin sien ons dat daar goeie rede is hoekom Jesus hierdie twee gebooie gelykstel aan mekaar. Dit is soos twee kante van ‘n munt wat nie van mekaar geskei kan word nie. Toegewyde liefde aan God sonder toegewyde liefde teenoor ons naaste is koud en selfgesentreerd en wetties. Alles om te wys dat ek beter is as jy, want ek volg die letter van die wet en jy nie.

Toegewyde liefde vir ons naaste sonder ‘n toegewyde liefde vir God is weer lafhartig. In so geval is jy so bang dat die persoon kwaad sal wees vir jou dat jy toelaat dat hy homself benadeel.

Maar ware liefde maak ‘n mens nederig. Dit is ware liefde wat gemaak het dat Jesus, die Leermeester, voor sy dissipels se voete neerbuig en hulle voete was. Dit is ware liefde wat maak dat Jesus Jerusalem toe gaan om gekruisig te word vir sondaar mense. Dit is alleen ware liefde wat maak dat Jesus kon sê:

“Ek het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien” (Mark. 10:45).

Daarin is Jesus inderdaad groter as Elia en Moses.

Elia en Moses het nog onder die Ou Verbond geleef. Onder die wet van Moses. En die ou verbond het bepaal dat jy volkome gehoorsaam moet wees, anders sterf jy. Anders verdien jy om met vuur vernietig te word.

Maar Jesus is groter as Elia en Moses omdat Hy ‘n einde kom maak het aan daardie ou verbond.

Toe Hy in Getsemane gevange geneem is en die dissipels Hom met die swaard wou beskerm, toe sê Hy:

“Sit jou swaard terug in sy plek... Of dink jy Ek kan nie my Vader om hulp vra nie? Hy sal dadelik vir My meer as twaalf legioene engele beskikbaar stel.” (Matt. 26:52-53)

Jesus roep nie vuur uit die hemel nie, Hy genees die oor van die slaaf wat sy dissipel afgekap het (Mark. 14:47). En wanneer hulle Hom aan ʼn kruis ophang, dan roep Hy steeds nie vuur uit die hemel nie maar Hy bid tot die Vader dat Hy hulle sal vergewe omdat hulle nie weet wat hulle doen nie.

Dit sou niks minder as regverdig gewees het indien Jesus vuur uit die hemel geroep het om ons almal te verteer oor ons sonde nie.

En tog is sy liefde vir God en sy liefde vir ons so groot dat Hyself uit die hemel na die aarde toe kom om verteer te word deur toorn van God. Hy word vernietig deur Godsverlatenheid sodat ons wonde genees kan word. Hy wy Homself daaraan toe om ons met sy liefde te kom bedien terwyl ons eintlik die dood verdien.

En dan lees ons in Handelinge, nadat Jesus opgevaar het na die hemel:

“Toe die dag van die pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar. Skielik was daar ’n geluid uit die hemel soos van ’n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het. Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het. Almal is met die Heilige Gees vervul” (Hand. 2:1-4)

Hoe wonderlik is dit nie! Ons verdien om vernietig te word met die vuur van God se toorn en tog stuur Hy sy Gees wat soos tonge van vuur oor ons kom. En dan nie om ons te vernietig nie, maar om ons te heilig.

Jesus se liefde vir God maak dat Hy kom en Hy kom betaal vir ons sonde, maar sy liefde vir ons is so groot dat Hy vir ons sonde betaal en Hy stuur sy Gees om die waarheid aan ons te verkondig sodat ons nuut kan word.

Die Gees maak ons nuut sodat ons ons lewens al hoe meer aan Hom wil toewy. Die Gees maak ons oë oop sodat ons hierdie heerlike liefde van God kan sien wat Hy deur Christus aan ons openbaar sodat ons toegewyd in liefde kan wees.

Dit is hierdie toewyding van Christus se liefde wat ons met liefde vul.

Alleen wanneer ons hierdie liefde verstaan sal ons sien dat dit nie nodig is om vuur uit die hemel te roep op dié wat ons vervolg en verwerp en verag en in sonde leef nie. Ons sal hulle met toewyding wil liefhê deur te help om beter mense te word, want dis wat Christus se lief vir ons doen.

Slot:

Deur Jesus se lewe op aarde wys Hy ons wat die balans tussen liefde tot God en liefde tot ons naaste is. Hy het ons gewys hoe ons toegewyde dissipels van God moet wees. Dissipels vir wie liefde voorop staan.

Dit is maklik om te reageer met vuur. Maar as gelowiges het ons die verantwoordelikheid om vanuit hierdie liefde te leef wat ons in Christus ontvang het. Christus het ons nie met vuur verteer toe ons dit verdien het nie, Hy het die vuur in ons plek gedra sodat ons nuut kan word.

Met daardie liefde moet ons God en mekaar in toewyding dien.

5 views0 comments

Recent Posts

See All

Die rol van my gedagtes in my verhouding met God!

Lees: Efesiërs 4:17-24 Inleiding: In Efesiërs 4:17-24 beskryf Paulus die skerp kontras tussen dit wat hierdie gelowiges was toe hulle nog heidene was en dit wat hulle nou geword het in Christus[1]. E

bottom of page