top of page

Die rol van my gedagtes in my verhouding met God!

Lees: Efesiërs 4:17-24

Inleiding:

In Efesiërs 4:17-24 beskryf Paulus die skerp kontras tussen dit wat hierdie gelowiges was toe hulle nog heidene was en dit wat hulle nou geword het in Christus[1].

En voordat ons sommer net sê dat ons nie heidens is nie, moet ons besef dat elkeen van ons van nature heidene is. Ons sal ook nou sien hoe ons nog steeds met van hierdie vlakke van sonde worstel.

Daarom is hierdie ‘n baie praktiese gedeelte wat ons leer wat die effek van sonde op ons lewe is. Indien ons nie met die sonde afreken nie, sal ons al hoe verder en verder weg sak in hierdie verskillende vlakke van goddeloosheid. (Letterlik: God-loos of sonder God.)

Daarom is dit baie belangrik dat ons ons sondige natuur moet erken vir wat dit is, anders sal ons net oppervlakkige veranderings in ons lewe beleef. Die sonde sal aanhou terugkeer, want ons is nie bereid om die wortel van die probleem aan te spreek nie[2]. Ons dink ons is OK!

Eers kyk ons dus na hierdie verskillende vlakke van goddeloosheid waarna Paulus verwys.

1. Die vlakke van goddeloosheid

Elke sonde begin by ‘n enkele gedagte. En daarom gebruik Paulus hier ‘n Griekse woord wat daarop dui dat, wanneer ons sonde doen, dan gebruik ons nie ons gedagtes vir die doel waarvoor dit gemaak is nie. In plaas daarvan dat dit vol is met bruikbare inhoud, is dit leeg[3].

Dis soos ‘n vrou wat owerspel gepleeg het en gesê het dat sy elke keer wanneer sy die ander man in haar huis ingenooi het, dan het sy die foto’s van haar man plat laat lê. M.a.w. sy het haar gedagtes leeg gemaak.

Die doel wat God met die mens se gedagtes het is dat dit vol moet wees met die heerlike openbaring van God se grootheid en almag en liefde. Ons gedagtes moet so vol wees van hierdie openbaring dat dit ons gedrag moet bepaal[4].

Maar wanneer ons ons gedagtes leeg maak van hierdie kosbare inhoud, indien ons daardie foto’s plat laat lê deur op te hou om ons gedagtes vol te maak met die Woord, dan lei dit tot die volgende vlak van goddeloosheid nl.:

#2 Verstand is verduister (vs. 18)

Duisternis veroorsaak dat ons nie kan sien nie. En wanneer ons nie kan sien nie, dan kan ons nie meer onderskeid maak tussen goed en kwaad, veilig en gevaar nie.

Indien die mens se gedagtes sonder hierdie heerlike inhoud is wat vir ons lig gee op ons lewenspad, sal ons verstand verduister wees want God word verstoot uit die middelpunt van ons bestaan[5].

Paulus beskryf dit so in Korintiërs:

“Hulle is die ongelowiges wie se verstand deur die god van hierdie wêreld verblind is, sodat hulle die lig van die evangelie nie kan sien nie. Dit is die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is.” (2 Kor. 4:4)

Die god van hierdie wêreld is goed soos geld, en mag, en seks, en sukses en plesier.

So, indien ons verstand verduister word, dan stel ons ons hoop in hierdie gode. Ons verwag dat hierdie gode ons die verlossing en vrede en die krag en genade en oorvloedige liefde moet gee wat ons alleen in Christus kan kry.

Die gevolg is dat ons die een teleurstelling op die ander sal hê, want hierdie gode kan nie vir ons gee wat ons werklik nodig het nie. Daarom word ons negatief oor alles en ons word al hoe meer vas gevang in die hopeloosheid van hierdie lewe. Dit voel later of ons lewe leeg is. Ons voel nutteloos en sonder betekenis[6]. Want ons leef in duisternis. Ons sien nie meer hierdie lig, hierdie hoop in Christus raak nie.

En die gevolg daarvan is:

#3 Hardnekkigheid (vs. 18)

Indien jou verstand eers verduister is, dan word jou hart soos klip teenoor alles wat met God te doen het.

‘n Hart wat verhard is teen God, verlustig homself nie meer in die almag, heerlikheid en liefde van God nie. So hart soek al die eer vir Homself.

‘n Harde hart ontken ten sterkste wat Paulus in Kolossense bely, as daar staan:

“God het deur Hom (Christus) alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie, konings, heersers, maghebbers, gesagvoerders. Alles is deur Hom en vir Hom geskep.” (Kol. 1:16)

So, die gevolg van ‘n harde hart is dat hy nie wil erken dat elke molekule in hierdie heelal bestaan ter wille van Christus nie[7]. ‘n Harde hart erken alleen homself as die heerser van sy lewe. Hy dink dat hy sonder God kan klaarkom.

Daarom doen ek net wat ek wil, want ek weet altyd beter.

En hoe meer my hart verhard, hom meer kry ek...

#4 ‘n Onversadigbare drang na sonde (vs. 19)

Die hardnekkigheid lei daartoe dat die gewete afgestomp raak en daarom begin die mens dan al hoe meer leef vir daardie god of gode wat jy by vlak twee gekry het.

Elke mens leef vir een of ander god. Selfs ook die Ateïs. Indien die mense in sy hardnekkigheid besluit om nie homself met liggaam en siel daaraan toe te wy om God te bevredig nie, dan sal hy iets anders kry om te bevredig.

Sommige mense sal hul liggaam bevredig deur hulleself oor te gee aan losbandigheid of drank of dwelms of kos[8].

Ander sal weer hul ego ten alle koste bevredig deur die rykste of die slimste of die mooiste te wil wees.

Hierdie afstomping veroorsaak dat jy al hoe meer daardie morele selfbeheersing verloor[9]. Jy doen enigiets om hierdie behoefte te bevredig in plaas daarvan om God tevrede te stel. Daarom gee jy jou self op hierdie vlak oor aan sonde. Jou gewete kla jou nie eens meer aan nie.

Die gevolg is:

#5 Geen deel aan die lewe van God nie (vs. 18)

Hierdie hele toestand word saamgevat in vers 18 as daar staan dat hulle geen deel aan die lewe wat God skenk het nie[10].

Daarom kan ons ook sê dat dit die diepste vlak van hierdie ellendig toestand is. Die gevolg van hierdie duisternis en hardnekkigheid en onkunde en afgestomptheid is dat ek afgesny word van die een Persoon wat my werklik liefhet en kan red.

So, hoe word ons bevry van hierdie ellendige toestand?

2. Leef as ‘n nuwe mens

Ons kan alleen van hierdie ellende bevry word in die mate waarin ons Christus leer ken. Daarom staan daar:

“Maar dit is nie hoe julle Christus leer ken het nie. Julle het tog van Hom gehoor, en omdat julle sy volgelinge is, is julle onderrig volgens die waarheid wat in Jesus is.” (Ef. 4:20-21)

Die nuwe lewe kom tot stand in die mate waarmee ons ons gedagtes vol maak met hierdie waarheid wat in Jesus is. Daardie foto wat die woord vir ons skets, daardie foto moet ons in ons gedagtes vashou. Ons moet ons oë op Christus vestig.

Dis hierdie waarheid wat maak dat ons kan en wil breek met die sonde. Elke detail van ons lewe sal vir ons ‘n nuwe betekenis kry omdat ons gedagtes so op Christus gerig is.

Hoor hoe stel Paulus dit in vers 23-24:

“Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is…” (Ef. 4:23-24)

Dis ‘n verandering wat van binne af plaasvind en dan vloei dit na buite toe. Dis hoekom Paulus eers van vers 25 af praat oor gedrag wat verander. Voor jou gedrag kan verander moet dit wat in vers 22-24 beskryf word, eers gebeur. Ons gees en gedagtes moet eers nuut word. Ons gedagtes moet ‘n duidelik prentjie hê van die heerlikheid van Christus.

Sien jy hoe belangrik dit is om te let op wat ons ons gedagtes mee volmaak. Ons gedagtes bepaal hoe ons die wêreld sien en verstaan. Om as ‘n nuwe mens te kan leef, moet ons gees en gedagtes nuut word. En as ons gees en gedagtes nuut word, beteken dit ten minste dat ons ‘n nuwe perspektief, nuwe motief en nuwe identiteit kry[11].

So kom ons dink wat hierdie nuwe gedagtes prakties beteken.

Nuwe gedagtes - Nuwe perspektief

Wanneer ons tot geloof in Christus kom, gee die Here aan ons, deur sy Gees ‘n totaal nuwe vermoë om goed te verstaan wat sonder die Gees nie moontlik kan wees nie.

Jy kry byvoorbeeld die vermoë om, nadat jy vir ‘n persoon kwaad geword het omdat hy jou vloek, vir jouself te vra maar hoekom word ek so kwaad? En dan begin jy aan jouself – in jou gedagtes - die evangelie van verlossing te vertel deur te sê dat ek mos nuut is in Christus en daarom maak dit nie saak wat mense sê nie. Wat saak maak is dat ek kind van God is en niemand se woorde kan dit verander nie.

Of wanneer jy kwaad word oor onreg wat iemand jou aangedoen het, dan sê jy vir jouself, maar ek glo mos dat my toekoms alleen deur Christus bepaal word. So, ek het nie nodig om teleurgestel te wees oor slegte omstandighede nie. Ek het nie nodig om vir my eer te veg nie, want eendag sal ek ten volle deel kry aan die heerlikste eer en dit is om by Christus te wees. Sy liefde en alleen sy liefde maak my heel. Waardig! Vergenoeg! In Jesus kry ek wat ek in my diepste wese begeer.

So kry ons ‘n totaal nuwe perspektief op die lewe.

Nuwe gedagtes - Nuwe motief

In hierdie lewe is daar veral twee motiverings wat ons gebruik om die regte ding te doen, naamlik vrees en trots.

Indien jou kind byvoorbeeld jok, hoe gaan jy hom motiveer om nie meer te jok nie?

Die een moontlikheid is vrees. Jy sal hom bang praat. Jy sal vir hom vertel hoe sleg leuens is en hoe dit jou in moeilikheid sal laat beland. En dat jy sy boude aan die brand gaan slaan indien hy weer jok.

Die ander moontlikheid is trots. Jy sal vir hom daarop wys dat dit papbroekigheid is om te jok. Julle familie is nie ‘n klomp papbroeke nie. Julle staan op vir wat reg is en julle hou by die waarheid.

Die probleem met albei daardie motiverings is dat daar iewers ‘n punt sal kom wat vrees en trots nie genoegsame motivering sal wees nie, want daar is altyd iets wat jy meer sal vrees of waarop jy meer trots kan wees en die gevolg sal wees dat jy weer sal terug val in daardie ou gewoonte deur te jok.

Maar wanneer ons gees en gedagtes nuut word, kry ons ‘n nuwe motivering waarom ons goed doen. En die motivering is liefde. Daarom bid Paulus in hoofstuk 3 die volgende:

“Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.” (Ef. 3:18-19)

Wanneer ons weet hoe groot Christus se liefde vir ons is, dan word daardie liefde ‘n heerlike motivering om die goeie te wil doen. Sy liefde is kosbaar en dit maak ons dapper sodat ons selfs bereid sal wees om te sterf vir dit wat reg is.

So, vanuit watter motivering leef jy?

Nuwe gedagtes - Nuwe identiteit (vs. 24)

Volgens die sielkunde is jou identiteit dit wat jy van jouself dink[12]. En dit wat jy van jouself dink, word hoofsaaklik bepaal deur drie vrae wat jy oor ‘n leeftyd beantwoord. Die vrae is:

Wie is ek? Waar kom ek vandaan? En waarheen is ek oppad?

Hierdie vrae word beantwoord deur goeie en slegte herinneringe en ervarings. Dit word beantwoord deur verhoudings met jou ouers, met vriende en deur liefdesverhoudings en liefdes teleurstellings.

Dit word beantwoord deur eksterne eienskappe soos jou lengte, jou ras, en jou sosio-ekonomiese klas.

Al hierdie dinge – en nog baie meer - vorm jou denke oor jouself en dit het ‘n groot invloed op die keuses en besluit wat jy elke dag maak.

‘n Praktiese voorbeeld hiervan is twee mense wat vir die afgelope twintig jaar vir dieselfde maatskappy werk.

Die een se identiteit is gevorm deur die feit dat hy ‘n hoë en belangrike posisie in die maatskappy beklee. Mense respekteer hom, ag hom– Dis wie hy is! En vir twintig jaar lank was hy ‘n trotste werknemer – Dis waar hy vandaan kom! En hy kon elke dag opstaan en gaan werk, want sy werk het hom laat goed voel oor wie hy is en wat hy bereik het – Dis waarheen hy oppad is!

Die ander persoon se identiteit is gevorm deur sy verhouding met Christus. Hy is kind van God. Hy is trots daarop om aan Hom te behoort. Elke dag is ‘n geleentheid om sy werk vir sy Here te doen – Dis wie hy is! En hy doen sy werk met ywer en met trots, omdat Hy dit vir Christus doen – Dis waarheen hy oppad is! En hy is bewus van sy swakheid en nietigheid. Hy leef elke dag in afhanklikheid van sy Here en Verlosser – Dis waar hy vandaan kom!

Nou gestel beide hierdie twee persone word afbetaal. Hoe sal hulle dit hanteer?

Vir albei sal dit sleg wees, maar die eerste persoon sal ‘n identiteitskrisis ervaar. Die feit dat hy sy werk verloor het, maak dat dit waarop hy trots is en die ding wat maak dat hy goed voel oor homself en voel dat hy ‘n verskil in hierdie wêreld kan maak en voel dat hy waardig is – dis skielik weg. Dit sal vir hom voel of sy hele lewe in duie stort.

Die ander persoon sal natuurlik ook teleurgesteld wees, maar nie ‘n identiteitskrisis ervaar nie, want sy lewe word nie bepaal deur sy werk nie, maar deur sy Here en Verlosser. Hy is kind van God en sy waardigheid as mens word alleen deur daardie verhouding bepaal en nie deur sy werk wat hy verloor het nie.

Ons vyand wil het dat ons identiteit bepaal moet word deur die letsels wat ons in hierdie lewe opdoen. Sodoende word ons emosioneel afgebreek en dit kan selfs daartoe lei dat ons af getrek word in daardie vlakke van goddeloosheid.

Dis hoekom beproewings dikwels daartoe lei dat mense God verwerp. Maar kyk wat doen Jesus. Wanneer ons aan Hom vashou, dan word ons identiteit bepaal deur sy letsels. Ons is waardig en ons het ‘n toekoms en ons is nuut, omdat Hy namens ons aan ‘n kruis gehang het. Dis wie ons is!

Hierdie waarheid wat in Jesus is, gee vir ons hierdie nuwe identiteit wat vas staan ondanks die terugslae van die lewe.

Slot:

Deurdat ons die woord bestudeer, kry ons die bevestiging dat ons nuut gemaak is in Christus. Sy liggaam is gebreek, sy bloed is vergiet tot volkome versoening van al ons sonde. Dis die foto wat diep in ons gedagtes ingebrand moet wees.

Indien ons dit vas glo, sal ons gedagtes al hoe meer vernuwe ten opsigte van ons perspektief, motief en identiteit en dan sal ons lewe ook verander. Ons sal leef soos geliefdes van Jesus Christus.

Kom ons leef in hierdie heerlike sekuriteit wat ons in die drie-enige God kry!

[1] Turner, M. (1994). Ephesians. In D. A. Carson, R. T. France, J. A. Motyer, & G. J. Wenham (Eds.), New Bible commentary: 21st century edition (4th ed., p. 1239). Inter-Varsity Press. [2] https://www.desiringgod.org/messages/escape-from-futility [3] Louw, J. P., & Nida, E. A. (1996). In Greek-English lexicon of the New Testament: based on semantic domains (electronic ed. of the 2nd edition., Vol. 1, p. 624). United Bible Societies. [4] Hoehner, H. W. (1985). Ephesians. In J. F. Walvoord & R. B. Zuck (Eds.), The Bible Knowledge Commentary: An Exposition of the Scriptures (Vol. 2, p. 636). Victor Books. [5] Turner, M. (1994). Ephesians. In D. A. Carson, R. T. France, J. A. Motyer, & G. J. Wenham (Eds.), New Bible commentary: 21st century edition (4th ed., p. 1239). Inter-Varsity Press. [6] MacArthur, J., Jr., ed. (1997). The MacArthur Study Bible (electronic ed., p. 1810). Word Pub. [7] https://www.desiringgod.org/messages/escape-from-futility [8] https://www.desiringgod.org/messages/escape-from-futility [9] MacArthur, J., Jr., ed. (1997). The MacArthur Study Bible (electronic ed., p. 1810). Word Pub. [10] Turner, M. (1994). Ephesians. In D. A. Carson, R. T. France, J. A. Motyer, & G. J. Wenham (Eds.), New Bible commentary: 21st century edition (4th ed., p. 1239). Inter-Varsity Press. [11] Keller, T. J. (2013). The Timothy Keller Sermon Archive. Redeemer Presbyterian Church. [12] https://www.psychologytoday.com/us/basics/identity

3 views0 comments

Recent Posts

See All

Commentaires


bottom of page