top of page

Strek met geloof uit na dit wat voor jou is

Teks: Genesis 24:42-67

In hierdie gedeelte beklemtoon die slaaf weer waarom hy juis vir Rebekka gekies het as vrou vir sy eienaar.

Hy kies haar omdat hy tot God gebid het om vir hom te help slaag in sy onderneming. God beantwoord sy gebed deurdat Rebekka daar by die put aankom, nog voor hy klaar gebid het.

Boonop het Rebekka presies gedoen wat die slaaf van God gevra het dat sy moet doen, as teken dat dit die regte vrou is.

‘n Verdere bevestiging dat Rebekka die regte vrou is, is dat sy ook die broerskind van Abraham is.

Die slaaf en die mense by hom het daar oornag, maar wanneer hy die volgende dag wil vertrek, kom daar 'n oponthoud. Laban en Rebekka se ma wil hê dat hulle nog 'n dag of tien moet oorbly.

Die probleem word dan opgelos wanneer hulle besluit om aan Rebekka die keuse te gee.

Haar antwoord is dan merkwaardig, want sonder twyfel is sy bereid om die vreemde aan te durf.

Hierdie antwoord van Rebekka, was in 'n sekere sin, 'n verdere bevestiging dat sy die vrou vir die slaaf se eienaar is .

Net soos Abraham destyds op grond van God se roepstem sy mense moes agterlaat, so word Rebekka nou geroep en die vereiste is ook dat sy haar mense moet agterlaat.

Dit laat mens dink aan Jesus wat sê:

“En elkeen wat ter wille van my Naam afgesien het van huise of broers of susters of vader of moeder of kinders of grond, sal honderd maal soveel ontvang en die ewige lewe as erfenis kry.” (Matt. 19:29)

Net soos Rebekka en baie ander gelowiges voor ons, word ons ook dikwels voor hierdie besluit gestel om God te volg in plaas daarvan om vas te hou aan dit wat ons in hierdie wêreld het.

So hou ons vas aan rykdom sonder dat ons bereid is om dit met ander te deel. Ons hou vas aan vriende wat ‘n slegte invloed op ons het. Ons hou vas aan slegte gewoontes wat ons nie bereid is om op te offer nie.

Om hierdie opofferings te kan maak, moet ons eers sien en verstaan dat dit wat ons in Christus kry, groter en heerliker is as dit waaraan ons vashou. Dan alleen sal ons die krag en waagmoed hê om los te breek.

Ons sal net dit wat ons in hierdie lewe kry agterlaat indien ons sien wat Jesus ter wille van ons agtergelaat het. Hy het arm geword sodat ons ryk kan word. Hy gee sy lewe sodat ons tot in ewigheid kan leef.

Niemand en niks op aarde kan vir ons bied wat Jesus vir ons gee nie. Ons moet aan hierdie genade vashou. Dit gee ons ‘n vaste hoop.

Vrae tot introspeksie:

a) In watter opsig moes jy al losmaak van iets wat vir jou van groot waarde was om getrou te wees aan Christus?

b) Hoe het Jesus se liefde jou al die krag en waagmoed gegee om die regte ding te doen al was dit ten koste van iets anders?

25 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page