top of page

“Touch wood” - Jesus red ons, nie woorde nie…

Teks: Genesis 27:1 -17

In vers een tot vier kry ons met ‘n baie ou gebruik te doen. Hulle het geglo dat hierdie seën wat die pa uitspreek, oor die nodige krag beskik om die toekoms van die oudste seun te bepaal.

Met die woorde van die Here in gedagte (vgl. 25:23), Esau wat sy reg as eersgeborene verkoop (25:33) en die feit dat Esau se Kanaänitiese vrouens groot kommer vir sy ouers besorg het (26:35), besluit Rebekka dat die patriargale seën eerder aan Jakob toegesê moet word.

Die gevolg is dat sy in vers 5-17 aan Jakob die plan uitlê wat hulle moet volg om hierdie seën op ‘n bedrieglike manier te ontvang. Dit is ook duidelik dat Jakob net bekommerd is oor die uitvoerbaarheid van die plan. Die etiese verantwoordbaarheid daarvan bevraagteken hy geensins nie.

Hierdie gedeelte bring ons voor die vraag of God regtig beperk is tot menslike tradisies. Rebekka en Jakob jaag hierdie patriargale seën na asof dit die seggenskap het oor die toekoms van Jakob.

Dit moet ons ook dieper laat dink oor ons tradisies en bygelowe. Ons hoor dikwels hoe mense die uitdrukking gebruik “Touch wood”. Asof daardie woorde krag het om te keer dat die slegte dinge sal gebeur.

Sommige mense is weer erg daaroor dat jy nie mag dood spreek nie. Daarmee gaan hulle uit van die veronderstelling dat wanneer jy iets negatief sê, dit sal gebeur. Asof jou woord kan bepaal wat in die toekoms sal gebeur of dalk as ek net elke keer dieselfde patroon volg sal my geluk nie ophou nie.

Hierdie is maar enkele maniere hoe ons as mens weereens die mag en alleenheerskappy uit God se hand probeer haal. Ons dink dat ons die toekoms kan beheer deur hierdie gebruik wat ons streng navolg. Ons probeer ook soos Rebekka en Jakob om ons toekoms op allerhande manier te verseker.

Wat dan interessant is, is dat Jakob sê dat hierdie plan wel riskant is, want indien sy pa sou verneem dat hy hom mislei het, hy hom sal vervloek in plaas daarvan om hom te seën.

Rebekka stel hom gerus deur vir hom te sê dat indien daar ‘n vloek uitgespreek word, sy dit op haarself sal neem.

Ons sonde maak dat ons verdien om vervloek te word. Ons is nie enige seën werd nie, maar God het ons so lief dat Hy die vloek wat ons verdien, deur Jesus Christus, namens ons gedra het. Hy word as vervloekte aan ‘n kruis gehang (vgl. Gal. 3:13)

Daarom is ons toekoms deur Christus verseker. Ons het nie nodig om aan enige bygelowe vas te hou nie. Hy is immer by magte om elke vloek in ‘n seën te verander (vgl. Neh. 13:2).

Ons het nie nodig om desperaat vas te klou aan gebruike nie, want ons God se verlossing is baie groter as aardse gebruike. Hy red ons ongeag dit wat ons kultuur bepaal of mense sê. Ons toekoms word nie bepaal deur mense hande nie, maar deur die verlossingswerk van Christus.

Vrae tot introspeksie:

a) Watter bygelowe of gebruike volg jy streng na in die hoop dat jy een of ander seën sal ontvang?

b) Wat leer jy in hierdie gedeelte oor die alleenheerskappy van God.

22 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page