Teks: Johannes 21:20-25
Teksvers: Joh. 21:22
Die begin verse van hierdie perikoop wys ons daarop dat Jesus en Petrus in 'n rigting begin loop het toe hulle hierdie gesprek gehad het en Johannes was kort agter hulle.
Die gesprek volg op die uitspraak wat Jesus in die vorige gedeelte gemaak het. Daar het Jesus vir Petrus daarop gewys dat hy 'n marteldood sal sterf (vgl. Joh. 21:18). Die gevolg was dat Petrus se gedagtes dadelik verskuif het na die liefling dissipel wat op daardie stadium agter Petrus en Jesus loop. Indien Petrus se toekoms so lyk, wat sal dan met die liefling dissipel van Jesus gebeur? Sal sy lewe beter of slegter daaraan toe wees?
Hierdie vraag is so menslik en ons vra dit onsself dikwels af. Ons is geneig om onsself aan ander te meet om te sien of ons waardig is. Op skool meet jy jou punte aan die ander maats se punte om te sien of jy waardig is.
As volwassenes, doen ons dit steeds. Ons kyk hoe ons vaar teenoor ander ouers en eggenote, kollegas en base. Op die manier probeer ons bepaal of ons darem nog op die regte pad is.
Die probleem met hierdie manier van doen is dat dit jou na een van twee uiterstes toe dryf. Indien jy sien dat jy slaag en beter is as ander, sal dit jou hoogmoedig maak. Jy sal daarvan oortuig wees dat jy nie so sleg is nie. Dit sal wel veroorsaak dat jy dapper is en jou taak verrig, maar jou werk sal deur 'n slegte eienskap gekenmerk word naamlik hoogmoed. Jy sal neerkyk op mense wat nie dinge doen soos jy dit doen nie en in die proses sal jy mense seermaak en wegdryf.
Indien jy egter agterkom dat jy gedurig te kort skiet teenoor ander, sal jy 'n minderwaardigheidskompleks ontwikkel. Die gevolg is dat jy met die geringste teenstand moed sal verloor en nie jou opdrag uitvoer nie. Jy sal jouself al hoe meer onttrek en te bang wees om jou opinie oor 'n saak te lig.
Indien Petrus getrou wou wees tot die einde, moes hy mooi luister wat Jesus hier vir hom sê. Dieselfde geld vir ons. Indien ons die lyding en beproewings wil hanteer wat ons toekoms inhou, moet ons doen wat Jesus hier leer.
Jesus leer dat ons fokus nie op mense mag wees nie. Ons fokus moet altyd op Hom wees.
Jesus se kruisdood herinner ons dat ons swak en sondig is, want Hy moes vir ons sonde kom sterf het. Ons het dus geen rede om op mense neer te kyk nie, want ons is net so sondig en ellendig soos al die ander.
Maar Jesus se kruisdood herinner ons ook daaraan dat Hy onbeskryflike genade aan ons kom bewys het. Hy het ons uit die greep van ons ellende gered en ons so kinders van God gemaak. Die gevolg van ons redding is dat ons nie 'n minderwaardigheidskompleks sal hê nie. Ons is kinders van God en ons toekoms staan vas in Hom. So maak hierdie verlossing ons dapper om ons lyding, met toewyding aan Christus, te dra.
Indien ons ons oë op mense hou sal ons die maklike uitweg neem en dit is om moed op te gee. Indien ons Jesus volg, sal ons tot die einde kan veg, want dit is wat Hy vir ons gedoen het. Hy red ons van die verderf deur aan die kruis te hang.
Vrae tot introspeksie:
a) Na watter kant toe is jy geneig om te val wanneer jy jou teen ander meet? (hoogmoed of minderwaardigheid)
b) Wat is die troos wat jy uit hierdie gedeelte kry?
Comments