top of page

Bedek die sonde van ander

Teks: Genesis 9:20-29

In hierdie gedeelte word ons gekonfronteer met die vraag, “Hoe hanteer ons die swakheid en sonde van ander.” Maak ons soos Gam deur agteraf te lag vir al die swakheid en ellende van ons medemens, of is ons nederig soos Sem en Jafet wat agteruit loop en die persoon in sy ellende bystaan en versorg.

Hierdie gedeelte wys ons dat hierdie nuwe begin deur Noag, nie veel anders uitgedraai het as by Adam nie. Kort na die sondvloed maak Gam 'n bespotting van sy pa en vertel dit ook aan sy broers. Hy maak sy pa sleg met dit wat hy deur sy mond van hom versprei.

Dink nou wat Jesus ons leer in Matteus - wanneer jy jou broer net uitskel as 'n idioot, is dit so goed soos moord. Met Gam se tong het hy afbreek gemaak aan sy pa se aansien.

Ons kry dus hier te doen met die oortreding van die vyfde en sesde gebod.

Die regverdige en onberispelike Noag het homself oorgegee aan drank en homself so blootgestel terwyl hy slaap. Daarom dat Gam eintlik ‘n bespotting maak van Noag se menslikheid. Ook Noag is feilbaar, nietig en nie waardig nie. Ook die regverdige Noag was maar net 'n mens.

Hoewel dit alles waar is, kry ons weereens hier te doen met die teenoorgestelde van ware liefde want ware liefde bedek alles, glo alles en hoop alles (vgl. 1 Kor. 13:7).

Ons doen dikwels dieselfde. Ons hou daarvan om te vertel van die tekortkominge van ander, want daardeur voel ons beter oor onsself. Soveel te meer as dit 'n persoon is met 'n goeie naam of hoë aansien.

Daarmee wys ons egter dat ons nog nie verstaan waar ons ons waardigheid moet kry nie. Ons soek dit nog in goeie dade en in onsself.

Die mooi van Sem en Jafet se reaksie is juis dat hulle agteruit ingaan, met die doel om die naaktheid van hulle pa te bedek. Hulle maak nie ‘n bespotting nie, maar probeer sy eer herstel.

Die ware Sem - Jesus, het presies dit met ons kom doen. Hy het nie kom oordeel oor ons klomp oortredings nie. Hy het nie 'n bespotting kom maak oor ons nietigheid en onwaardigheid nie. Hy het ons nie kom wys op ons naaktheid nie. Hy het self naak geword. Aan die kruis het hulle sy klere onder mekaar verdeel en vir sy onderkleed het hulle geloot.

Dit het Hy toegelaat sodat ons, soos Noag, bedek kan word. Hy het ons beklee met die heerlikste kleed. In Hom word ons waardig. Daarom skryf Jesaja:

“Ek is baie bly oor die Here, ek juig oor my God, want Hy het my gered, vir my oorwinnaarsklere aangetrek. Ek is soos ’n bruidegom met ’n priesterskroon op, soos ’n bruid met haar juwele aan.” (Jes. 61:10)

Wanneer ons daardie genade en liefde verstaan, sal ons dieselfde vir ander wil doen. Ons sal nie 'n bespotting maak van ander se tekortkominge en swakheid nie. Ons sal hulle help. Ons sal hulle ophef en lei na Jesus in wie ons waardig word.

Ons moet eers self ervaar hoe ons ellende en skande deur Jesus bedek is, voor ons anders sal kyk na die sonde van ander. Ons sal nederig help in stede daarvan om uit hoogmoed 'n bespotting van ander te maak.

Vrae tot introspeksie:

a) Dink aan ‘n keer wat jy die verleentheid van iemand met geur en kleur oorvertel het. Wat sal jy sê was jou motivering agter die storie?

b) Hoe help Jesus ons om ons gesindheid teenoor ander se tekortkominge te verander?

46 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page