top of page

Beheer jou tong!

Teks: Jakobus 3:1-12

Inleiding:

Waarvoor gebruik jy jou tong?

Dis die vraag waarmee ons in hierdie gedeelte gekonfronteer word.

Indien jy dink aan jou gesprekke van elke dag, hoe sal jy die funksie van jou tong beskryf? Gebruik jy jou tong om die gesprek pessimisties te maak of gebruik jy jou tong om daardie negatiewe gesprek in iets positiefs te verander?

Gebruik jy jou tong om af te kraak, te skinder en om vir ander te wys op al jou prestasies of gebruik jy jou tong om mense op te bou, te leer en om die eer aan God te gee wat Hom toekom?

Ons gaan hierdie gedeelte ondersoek deur te begin kyk na die negatiewe impak wat ons tong in ons lewe kan hê.

1. Die negatiewe impak van die tong

In vers 9 wys Jakobus ons daarop dat ons dikwels die tong gebruik om mense te vloek. Mense wat na God se beeld geskep is. Daarmee herinner Jakobus ons aan die skeppingsgebeure[1].

In Genesis lees ons dat God net ‘n woord gespreek het en alles het tot stand gekom. God het woorde gebruik om goeie goed tot stand te bring.

Jakobus wys ons nou hier dat ons, aangesien ons na die beeld van God geskep is, ook iets van daardie skeppingsmag ontvang het. Natuurlik nie in ‘n bygelowige manier om te dink dat jy letterlik lewe of dood kan spreek nie.

Dis duidelik uit die konteks dat dit meer op ‘n geestelike vlak is. Met die tong kan ons mense geestelik opbou of afbreek. Dis ook waar die leermeesters in kom waarna vers 1 verwys. ‘n Leermeester gebruik sy tong om ander te leer sodat hulle tot hul volle potensiaal kan kom.

Ons kan daarom ons tong gebruik om skeppend te wees, maar as gevolg van die sondeval, word hierdie selfde tong nou ook gebruik om te vernietig en om te vervloek[2].

Om die krag van die tong te beskryf, gebruik Jakobus onder andere die metafoor van die roer van ‘n boot.

Die bote van daardie tyd was natuurlik nie so groot soos die vragskepe wat ons vandag ken nie, maar die bote van daardie tyd was aansienlik groter as ‘n seilbootjie.

In Handelinge lees ons van Paulus wat op ‘n boot was met 276 passasiers en dan het die boot ook nog ‘n groot vrag gedra (vgl. Hand. 27:18, 19, 37, 38). Dit moes dus ‘n taamlike groot boot gewees het.

En hoewel daardie boot groot is, is dit maar ‘n klein roer wat gebruik word om die boot op koers te hou, selfs in winderige toestande.

Net soos daardie roer maar klein is, so is die tong ook klein, maar dit is kragtig genoeg om die gang van mense se lewens te beïnvloed, te rig en te swaai[3].

Daarom is dit so belangrik om te besef hoe ‘n negatiewe impak die tong kan hê. Daardie negatiewe impak is tweeledig.

Die tong breek die gewer

“Dit steek die hele lewe, van die geboorte af tot die dood toe, aan die brand, en self word dit uit die hel aan die brand gesteek.” (Jak. 3:6)

Die Griekse woord wat in vers 6 vertaal is met “hele lewe”, beteken letterlik “Wiel van lewe”[4].

Ons kan ons dus voorstel dat die tong in die middelpunt van hierdie wiel van die lewe is. En hoe meer hierdie wiel brand, hoe vinniger draai dit totdat die hele wiel in vlamme is, en vuur in alle rigtings spoeg[5].

Die tong is met ander woorde die deel van die menslike liggaam wat die hele mens besmet. Die tong infekteer al die liggaamsdele en daarom bepaal dit die hele gang van jou lewe. Van geboorte tot die dood.

Indien jy byvoorbeeld die heeltyd negatiewe dinge praat, sal jou lewe ook getuig van daardie pessimisme en negatiwiteit.

Die tong breek die ontvanger

“Dit steek die hele lewe, van die geboorte af tot die dood toe, aan die brand, en self word dit uit die hel aan die brand gesteek.” (Jak. 3:6)

Die hartseer werklikheid is dat so tong uit die hel aan die brand gesteek word, omdat daardie tong nie net sy eie doel bereik nie, maar in besonder ook die doel van die groot “Brandstigter” naamlik die Bose.

Die tong word as kragtige instrument gebruik om boosheid, nydigheid, twis en vyandskap, leuens en dwaasheid soos ‘n veldbrand te versprei[6].

So, die tong beïnvloed nie net jou eie lewe negatief nie, maar ook die mense rondom jou.

2. Die rede vir ‘n onbeheerste tong

In hierdie gedeelte word veral twee redes gegee waarom ons so sukkel om ons tong te beheer.

Roem in homself (vs. 5)

Letterlik staan daar in vers 5:

“So is die tong ook ‘n klein ledemaat wat op groot dinge roem.” (Jak. 3:5 NDV)

Om te roem is negatief. Daardie Griekse woord verwys na ‘n arrogante en vermetelde houding teenoor God[7]. In plaas daarvan om in God te roem, roem ons in ons eie krag en grootheid. Ons maak ‘n groot vuur om ons eie krag te wys.

Ons maak hierdie groot vuur, deur klem te lê op al die groot en opspraakwekkende dinge wat ons kan doen of reeds in ons lewe bereik het. En die doel daarmee is om ander klein te laat lyk.

Dis mos wat ‘n veldbrand doen. Daar is ‘n mooi groot bos en die vlamme slik daardie bos in sodat daar net as oorbly. Net so kraak jy ander af sodat jou mooi groot vlamme gesien kan word terwyl jy ander met jou woorde vernietig.

Vers 9 sluit dan ook hierby aan wanneer daar staan:

“Met die tong loof ons die Here en Vader, en met die tong vloek ons die mense wat as die beeld van God gemaak is.” (Jak. 3:9)

Deur mense te vloek probeer ons om onsself beter en aanvaarvaar te laat lyk. Ons vloek en verkleineer en maak verskonings eerder as om verantwoordelikheid te vat vir ons foute.

Ons het ‘n onbeheerste tong omdat hy alles in sy vermoë sal doen om homself groot te laat lyk.

Maar ons tong is ook onbeheerst omdat ons dubbelsinnige lewens leef.

Hy is dubbelsinnig (vs. 11-12)

In vers 11 tot 12 gebruik Jakobus ‘n reeks metafore.

“‘n Vyeboom, my broers, kan tog nie olywe dra nie, of ’n druiwestok vye nie. ’n Brak fontein kan mos nie vars water gee nie!” (Jak. 3:12)

Wat al hierdie metafore in gemeen het is die soeke na opregtheid. Indien daardie fontein nie gevul is met varswater nie, sal hy nie varswater voortbring nie. Indien ons sê dat ons gelowiges is, moet ons ook praat soos gelowiges anders is ons dubbelsinnig.

En die rede waarom ons dubbelsinnig sal wees, is wanneer ons baie gode dien. By die kerk dien ons God en daarom moet ons op ‘n sekere manier praat. By die werk is geld die god en daarom veg ek vir daardie regte. By die huis is gemaksugtigheid my god en daarom sal my tong die woorde praat wat die god van gemaksugtigheid tevrede stel.

Dis die twee redes waarom ons sukkel om ons tong in toom te hou. Ons roem in onsself en ons dien verskillende gode.

3. Die krag om jou tong te beheer

Wat Jakobus baie mooi beklemtoon in hierdie gedeelte is dat geen mens die tong kan tem nie (vs. 2, 8). Hy sê:

“Alles wat loop, vlieg, kruip of swem, elke soort dier word en is al deur die mens getem, maar geen mens kan die tong tem nie. Dit is ’n rustelose kwaad, vol dodelike gif.” (Jak. 3:7-8)

Die tong kan nie deur kondisionering getem word nie. Die tong kan nie deur ervaring getem word nie en nog minder deur oefening. Die tong is rusteloos en word gedryf deur sy eie drange. Die drang om die bose te doen[8].

Die enigste manier hoe die tong verander kan word, is deur daardie drang te verander. En daardie drang kan net verander word deur die Woord en Gees. Die spieël is nodig (1:25).

Indien God nie jou hart verander nie, sal die tong ontembaar bly. God moet eers deur sy Woord en Gees ons harte nuut maak. Ons moet verstaan wie ons nou in Christus is.

Ons moet so in verwondering staan voor die verlossingswerk van Christus dat dit ons drang word om Hom te ken en lief te hê. Wanneer ons sy liefde en genade verstaan, sal ons tong bereid wees om op te bou eerder as om af te breek.

Die Heilige Gees wys ons deur die Woord, op die skoonheid van Jesus Christus en wat Hy vir ons gedoen het. Hierdie Woord van God het die krag om ons lewens te verander. Dit het die krag om al daardie negatiewe dinge wat van jou gesê is in die verlede, te vernietig.

Daardie goed wat jou pa of ma of vriende van jou gesê het en jou so seer gemaak het, dit word omgekeer wanneer jy verstaan wat hierdie evangelie beteken[9]. Hoor wat word daar in die evangelie van jou en my gesê:

“Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.” (Rom. 8:33-34)

Indien ons verstaan wat Jesus vir ons aan die kruis gedoen het, dan sal ons kritiek kan aanhoor, sonder om kwaad te word of om die persoon te wil aanval want die kritiek bepaal nie meer wie ons is nie. Dit bepaal nie meer of ek waardig is nie, want God self spreek my vry.

Ons verlossing maak dat ons nie meer die begeerte sal hê om oor ander te skinder nie. Verlossing in Christus maak dat jy nie meer nodig het om jouself goed te laat lyk nie[10], want Christus het daardie drang bevredig. Hy maak ons waardig!

Ons word in Hom aanvaarbaar gemaak. Ons het nie meer nodig om onsself groot te laat lyk nie, want Christus het ons groot gemaak. Ons is kinders van God. Niemand kan ons meer veroordeel nie.

En die resultaat van hierdie verlossing is dat ons nou ander sal wil opbou met ons woorde. Ons sal hulle nie meer as ‘n bedreiging sien nie, maar as medegelowiges wat ook in hierdie heerlike rykdom in Christus kan deel.

Slot:

Daarom, indien ons in staat wil wees om ons tong te beheer, dan moet ons begin dink waarmee ons ons gedagtes vol maak.

Ons moet ons gedagtes rig op hierdie verlossing van Christus. Ons moet dit oordink sodat dit elke aspek van ons lewe kan verander.

Moenie jou tong gebruik om jouself groot te maak nie, gebruik jou tong om God te prys. Prys Hom vir hierdie verlossing wat jy in Christus ontvang het.


[1] Die brief van Jakobus. (1998). (p. 3). Kaapstad: N G Kerk-Uitgewers. [2] Vosloo, W., & van Rensburg, F. J. (1993). Die Bybel in Praktyk (Nuwe Vertaling) (Jas 3:5). Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy. [3] Ellenburg, B. D., & Morgan, C. W. (2008). James: Wisdom for the Community (pp. 119–120). Great Britain: Focus Christian Publications. [4] Louw, J. P., & Nida, E. A. (1996). Greek-English lexicon of the New Testament: based on semantic domains (electronic ed. of the 2nd edition., Vol. 1, pp. 609–610). New York: United Bible Societies. [5] Blue, J. R. (1985). James. In J. F. Walvoord & R. B. Zuck (Eds.), The Bible Knowledge Commentary: An Exposition of the Scriptures (Vol. 2, p. 828). Wheaton, IL: Victor Books. [6] Die brief van Jakobus. (1998). (p. 3). Kaapstad: N G Kerk-Uitgewers. [7] Moo, D. J. (2000). The letter of James (p. 155). Grand Rapids, MI; Leicester, England: Eerdmans; Apollos. [8] Die brief van Jakobus. (1998). (p. 3). Kaapstad: N G Kerk-Uitgewers. [9] Keller, T. J. (2013). The Timothy Keller Sermon Archive. New York City: Redeemer Presbyterian Church. [10] Keller, T. J. (2013). The Timothy Keller Sermon Archive. New York City: Redeemer Presbyterian Church.


23 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page