Teks: Jakobus 5:13-16
Inleiding:
In hierdie gedeelte word gesê dat die gebed van ‘n gelowige, ‘n kragtige uitwerking het.
Dis woorde waarmee gelowiges al baie geworstel het.
Dis dalk iets waarmee jy worstel. Jy worstel daarmee omdat jy iets van die Here afbid en dan word daardie gebed nie verhoor nie. Dan sê jy vir jou self, dat gebed tog nie ‘n kragtige uitwerking het as my gebede nie verhoor word nie…
Wel, Jakobus leer ons hier dat die krag van gebed nie daarin bestaan dat al jou gebede verhoor word nie. Indien jy dink dat die Here alles wat jy van hom vra moet gee, dan getuig dit mos van groot selfsug van jou kant en daarteen het Jakobus ook gewaarsku in hoofstuk 4:3
Daarom gaan ons hier eers kyk na al die selfsugtige en skeefgetrekte denke oor dit wat ‘n kragtige gebed beteken en daarna sal ons in die tweede plek kyk wat ‘n kragtige gebed wel behels.
1. Wat ‘n kragtige gebed nie is nie!
Wanneer Jakobus in vers 15 aan ons die opdrag gee om gelowig te bid, dan is dit baie belangrik dat ons moet verstaan wat Hy daarmee bedoel.
Gelowige bid beteken nie volmaak glo nie.
Genesing en gebedsverhoring hang nie af van volmaakte geloof nie
Dit sien ons in besonder wanneer Jesus die pa wie se seun siek is uitvra na sy geloof en die pa dan antwoord:
“Ek glo,” roep die seun se pa dadelik uit. “Help my in my ongeloof.” (Mark. 9:24)
Indien ons sê dat daar volmaakte geloof moet wees vir gebedsverhoring, dan sal niemand se gebede verhoor kan word nie.
Boonop sal ons dan ook iemand se kleingeloof wil blameer vir elke gebed wat nie verhoor word nie.
Hierdie manier van dink is selfsugtig en ‘n verwronge beeld van hierdie teks.
Gelowig bid is ook nie bestraffing nie
Ons sien dikwels dat die sogenaamde geloofsgenesers siektes bestraf of beveel om weg te gaan.
Nou, dit is so dat Jesus en die apostels dikwels bevele gegee het soos: “Staan op en loop…”, maar hulle het ‘n ander gesag gehad as wat ons het.
Daarom sê Jakobus baie pertinent vir die Nuwe Testamentiese gelowiges hier, dat hulle en ons, moet bid vir genesing. Nie bevele gee of lewe spreek nie, ons moet in geloofsvertrou tot die Here bid.
Dis nie ‘n demokratiese reg nie
Die feit dat daar staan dat die ouderlinge (meervoud) na die persoon toe moet gaan, beteken nie dat daar baie mense moet wees wat vir die persoon bid, asof die kans beter sal wees dat God die gebed sal verhoor as daar baie mense is, wat bid nie.
Of mens hoor ook dikwels versoeke van mense dat almal op een slag saam vir die of daai saak moet bid.
Gebed mag nooi hanteer word soos ‘n demokratiese reg waar jy ‘n petisie kan aanteken teen situasies waarvan jy nie hou nie. Dit getuig inteendeel eerder van ons selfsugtige begeertes wat ons wil afdwing op God. Ons vertrou Hom nie. Ons wil, figuurlik gesproke, sy arm draai deur die meerderheid se stem.
Jy het nie ‘n titel nodig om vir iemand te bid nie
Die ouderlinge waarvan hier gepraat word was gewone mense wat bloot verteenwoordigers van die gemeente van Christus was[1].
En dit geld soveel te meer vir ons as Nuwe Testamentiese gelowiges. Jy het nie iemand nodig met ‘n spesiale titel om vir jou te bid nie.
Met Christus se kruisiging het die voorhangsel in die tempel middel deur geskeur. Ons het nou almal, deur gebed, toegang tot God. Deur die Heilige Gees is ons immers almal Profete, Priesters en Konings. En daarom skryf Paulus ook:
“Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie.” (Rom. 8:26)
Deur Christus se versoening en deur die Heilige Gees se versugtinge, is elkeen van ons se gebede waardig voor God.
Wat van die salf van olie (vs. 14)
Die salwing met olie word in die Bybel by twee geleenthede aangewend. In die Ou Testament sien ons dat die konings gewoonlik met olie gesalf is tot koning (vgl. 1 Sam. 16:1-13). Daardie olie simboliseer dan die teenwoordigheid van die Gees van God, in daardie persoon.
In die Nuwe Testament het daardie gebruik verval, want die Heilige Gees is oor ons almal uitgestort. Elke gelowige het hierdie wonderlike gawe van die Gees ontvang.
Die tweede gebruik van olie, sien ons in die Nuwe Testament.
In die gelykenis van die barmhartige Samaritaan (vgl. Luk. 10:30-37), gebruik die Samaritaan olie as ‘n tipe geneesmiddel[2].
Daarom is dit meer waarskynlik dat Jakobus die gebruik van olie hier sien as ‘n tipe geneesmiddel van daardie tyd. Daarom kan ons sê dat ons as gelowiges ook vandag die geneesmiddels kan gebruik wat die Here vir ons gee.
Tog moet ons steeds altyd onthou, dat die krag nie in die geloof of geneesmiddel lê nie. Dit is God wat die genesing vir die gelowige bewerk – soos Hy wil. Hy kan daardie genesing ook deur aardse middele bewerk.
2. Wat ‘n kragtige gebed is!
Met dit alles in ag genome, kan ons sê dat ‘n gebed met ‘n kragtige uitwerking, ‘n gebed is waar daar smekend gesoek word na God se wil in daardie situasie.
Wanneer daar m.a.w. gepraat word oor “gelowig bid”, dan gaan dit bloot daaroor om te bid met die vertroue dat God by magte is om genesing te bewerkstellig. Dit is mos nie die geloof wat genees nie. Dis alleen by God wat daar vir ons genesing is[3].
Daarom word vers 16b in die Nuwe Direkte Vertalings soos volg vertaal:
“Die gebed van ‘n regverdige is baie kragtig in sy uitwerking.” (Jak. 5:16b, NDV)
‘n Regverdige persoon is tog iemand wat ‘n innige verhouding met God het.
Dink so daaraan…
Ons ken almal daardie persoon in ons lewe wat jou net ken wanneer hy jou nodig het. Indien hy nou na jou toe kom en vra dat jy vir hom iets moet gee en jy wyer, wat gaan hy sê. Hy gaan sê dat jy nooit vir hom iets wil gee nie. Jy gee nie vir hom wat hy nodig het nie.
Dan is daar ‘n goeie vriend. Soms gee jy vir hom wat hy vra, maar daar is ook tye wat jy nie vir hom kan gee wat hy vra nie. So, wat gaan so goeie vriend sê?
Hy gaan sê dat jy ‘n goeie vriend is. Jy is ‘n vriend wat hom bystaan waar jy ook al kan.
Nou, indien ons gebed net daaruit bestaan dat ons na God toe kom wanneer ons al hierdie groot goed nodig het, dan gaan ons ook, soos daardie slegte vriend, uitvaar teen God.
Ons konklusie sal wees dat gebed in elk geval nie help nie, want wanneer ek God iets vra, dan gee Hy nie.
Hierdie manier van dink en redeneer reflekteer eintlik op ons eie verhouding met die Here. Ons is soos daardie persoon wat God misbruik. Ons ken Hom net wanneer ons in die moeilikheid is. Daarom het jou gebed geen krag nie.
Maar, jou houding teenoor gebed verander heeltemal wanneer jou verhouding met God verdiep. Hoe beter jy God ken, hoe meer sien jy dat Hy vir jou in goeie en slegte help want Hy weet wat vir ons goed en reg en opbouend is.
Ons sien die krag van gebed, juis daar waar die mees Regverdigste man, Jesus Christus, se gebed om uitkoms en genade afgewys is. Hy word aan ‘n kruis as vervloekte doodgemaak, sodat ons gebed om verlossing en genesing VERHOOR kan word.
Dis oor Jesus se verlossing dat ons saam met Paulus kan sê:
“Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.” (Rom. 8:33-34)
Die Regverdige Seun van God, pleit vir ons!!
Dis wanneer ons so in ons verhouding met God groei en sien dat ons niks verdien nie en tog in oorvloed ontvang, dis dan wat ons besef wat die krag van gebed is.
Die krag van gebed lê in daardie innige verhouding wat ons met God kan hê. Daardie vrede en vreugde wat ons in Hom kry. 'n Vrede ten spyte van ons omstandighede.
Ons vreugde lê daarin dat ons weet dat ons uitverkorenes van God is.
Slot:
Gebed het ‘n kragtige uitwerking, maar indien jy nie in ‘n innige en diep verhouding met Jesus Christus leef nie, sal jy op grond van die paar keer wat jou gebede nie verhoor is nie, gebed beskou as kragteloos.
Die krag van gebed, sien ons aan die kruis. Jesus het gesterf sodat ons gebed om redding verhoor kan word. Sodat al ons sonde vergewe kan word.
Indien daardie verhouding met Christus ons grootste begeerte is, dan sal ons oë ook oopgaan om te sien hoe God ook in al ons ander behoeftes voorsien (vgl. Matt. 6:31-33).
Kom ons leef so in ‘n innige verhouding met die Here, want dan sal ons die kragtige uitwerking van gebed beleef.
[1] Die brief van Jakobus. (1998). (p. 3). Kaapstad: N G Kerk-Uitgewers. [2] Vosloo, W., & van Rensburg, F. J. (1993). Die Bybel in Praktyk (Nuwe Vertaling) (Jas 5:14). Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy. [3] Vosloo, W., & van Rensburg, F. J. (1993). Die Bybel in Praktyk (Nuwe Vertaling) (Jas 5:15). Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy.
Comments