top of page

Wysheid om jou geld reg te gebruik!

Teks: Jakobus 5: 1-6

Inleiding:

Die Covid pandemie waarmee ons in die afgelope tyd gekonfronteer is, het my weer laat dink aan die kontras tussen arm en ryk.

Die kontras sien mens in mense wat in ‘n staatshospitaal lê teenoor die persoon in ‘n privaat hospitaal. Mens sien dit in daardie persoon wat skaars vitamienes kan bekostig, teenoor mense wat vir hulle eie persoonlike gebruik ‘n suurstof oksideerder koop.

Daarom is hierdie gedeelte so belangrik.

Maar voor ons by die uitleg van hierdie gedeelte kom, is dit dalk belangrik om ryk en arm te definieer.

Jy dink dalk by jouself dat hierdie gedeelte nie op jou van toepassing is nie, want jy is beslis nie ryk nie. Jakobus praat mos hier met die rykes.

So, kom ons definieer net eers die sogenaamde rykes.

Daar word gesê dat wanneer jy kos in jou yskas het, een stel klere het om aan te trek, 'n dak oor jou kop en slaapplek het, dan is jy ryker as 75% van die wêreld se bevolking.

Indien jy dan ook nog bietjie geld in die bank het en jou beursie 'n paar ekstra note in het, dan is jy deel van die 8% rykste mense ter wêreld.[1]

Wanneer ons dus hierdie woorde oordink, dan is dit belangrik om nie aan iemand anders te dink nie. Ons moet elkeen onsself ondersoek.

Ons gaan hierdie ondersoek doen deur eers te kyk na die gevaar van rykdom en dan kyk ons in die tweede plek na die wyse gebruik van ons rykdom.

1. Die gevaar van rykdom

Uit hierdie gedeelte is daar veral twee gevare wat ons kan aflei en die eerste gevaar is die…

Opgaar van besittings (vs. 3)

Ten opsigte van die opgaar van goed is dit belangrik om te sê dat Jakobus ‘n spesifieke Griekse woord hier gebruik. Die doel met hierdie woord is om die negatiewe betekenis van opgaar te beklemtoon.

Daar is ook ‘n positiewe woord wat gebruik kan word vir die bymekaar maak van goed. In Spreuke word die positiewe kant genoem as daar staan:

“Gaan kyk na die mier, luiaard, kyk hoe hy werk, en leer by hom. Hy het nie ’n leier nie, nie ’n opsigter of ’n regeerder nie, tog maak hy sy kosvoorraad reg in die somer, versamel hy sy voedsel in die oestyd.” (Sp. 6:6-8)

Deur hierdie spesifieke Griekse woord te gebruik, wys Jakobus ons m.a.w. hier dat daar ‘n fyn lyn is tussen 'n lewe waar jy spaar om in jou basiese behoeftes te voorsien en die punt waar jy spaar om onnodige luukshede aan te skaf[2].

Om hierdie punt te beklemtoon, gebruik Jakobus twee voorbeelde om die nutteloosheid van opgaar te illustreer. Die eerste voorbeeld is klere.

Met hierdie voorbeeld kan ons ook goed assosieer want meeste van ons het ‘n klomp klere in ons kas wat ons bêre vir ingeval jy eendag weer daarin sal pas.

Ander van ons hou weer net daarvan om klere te koop en so hoop die klere op in ons kas en dan word jy op ‘n dag genoodsaak om jou kas reg te pak en soos jy deur die klere gaan is die een kledingstuk na die ander vol gate gevreet.

Jakobus sê dat daardie klere teen ons sal getuig, want daar is baie mense om ons wat nie eens kos het nie en ons misbruik ons geld om klere te koop wat ons nie nodig het nie.

Die tweede beeld wat Jakobus gebruik om ons onnodige luukshede te beklemtoon is kos. Hoor hoe stel hy dit:

“Hier op aarde lewe julle in weelde en oordaad; julle smul na hartelus, en dit terwyl die slagdag reeds daar is.” (Jak. 5:5)

Hier is dit nou belangrik om die konteks te verstaan waarbinne die mense geleef het. Daar was nie, soos in ons geval, vries geriewe nie[3]. Die gevolg was dat die rykes elke dag fees gehou het deur ‘n slagding te slag. Elke dag het hulle hulself versadig geëet aan vars vleis.

Nou, die probleem is, wat gebeur met al daardie kos wat oorbly? Dit kan nie gebêre word vir môre nie, so dit het gevrot.

Net so koop ons ook dikwels onnodige duur en oorvloed kos wat op die ou end weggegooi word omdat ons dit nie alles kan opeet nie. Dit terwyl die geld gebruik kon word om mense in nood te help.

Dis die gevaar van rykdom. Ons spandeer geld op goed wat ons nie regtig nodig het nie. Al daardie ekstras… al daardie luukshede…

Maar rykes is nie net geneig om op te gaar nie, hulle…

Misbruik mense (vs. 4)

Ryk mens leer maklik die gewoonte aan om mense te meet aan dit wat hulle vir jou kan doen of beteken. Die gevolg is dat jy die persoon se dienste gebruik, maar dan betaal jy hom minder as wat hy werd is of in die uiterste gevalle kry jy ‘n verskoning om die persoon glad nie te betaal nie.

Hoor nou hoe sterk beskryf Jakobus dit as hy sê:

“Ja, julle hou die loon agter van die werkers wat julle lande afgeoes het. Dit skreeu ten hemel; die geroep van dié wat geoes het, het tot by die Here die Almagtige gekom.” (Jak. 5:4)

Is daar dalk iemand wat jy versuim om te betaal? Of waar kyk jy of jy so goedkoop as moontlik kan wegkom ten koste van die persoon wat die werk doen? Betaal jy ook so min as moontlik?

Jakobus sê: “Dit skreeu ten hemel…” Want ons misbruik mense ten koste van ons eie welvaart. Net sodat ons meer het om bymekaar te maak.

2. Wysheid met die gebruik van rykdom

Jakobus gee ons hier twee riglyne wat ons kan help om ons rykdom met wysheid te gebruik. Hy moedig ons aan om vooruit te kyk en om nie te vergeet nie.

Kyk vooruit! (vs. 3)

Geld maak ons blind… Mens sien dit baie keer by kinders wanneer hulle sakgeld kry. Daardie geld maak dat hulle nóú iets moet koop. Dan maak hulle ook dikwels slegte keuses, want as hulle bietjie langer kon wag sou hulle iets beter kon koop…

Dis nie anders met ons nie. Ons verloor perspektief op waarheen ons oppad is en daarom wend ons ons geld verkeerd aan, want ek móét daardie geld gebruik! Dis myne!

As gelowiges moet ons ‘n ander uitkyk hê. Ons moet besef dat rykdom nie vir ons iets in die ewigheid sal beteken nie. Daarom moet ons veel eerder ons rykdom tot ander se voordeel aanwend. Ons moet dit gebruik om ‘n verskil in ander mense se lewens te maak[4]. Daarom sê Jesus vir die ryk jongman:

“Net een ding kom jy kort. Gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir armes, en jy sal ’n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My!” (Mark. 10:21)

Die slagdag is voor die deur en indien ons nie bereid was om te gee nie, sal ons verrot en opgevreet word soos daardie kos en klere wat in ons besit vergaan het. Daardie kos en klere sal teen ons getuig.

Ware wysheid is om die lewe in perspektief te sien. Ware wysheid is om die hulpmiddels wat ek uit die hand van die Here kry beskikbaar te stel om ander te help. Ons moet hierdie gawes wat die Here vir ons gee, reg gebruik.

So, jy sal hierdie gawes alleen reg gebruik, indien jy vooruit kyk na die koninkryk van God waarheen ons oppad is.

Moenie vergeet nie…(vs. 6)

Dis belangrik om te sien wat die oorhoofse tema van hierdie gedeelte is. Die tema is, “Moenie vergeet nie!”

In hoofstuk 4 het Jakobus begin deur te leer dat die rede waarom ons rusie maak, is omdat ons net aan ons eie selfsugtige begeertes dink (vgl. 4:3). Ons vergeet om te soek en vra na God se wil.

Daarna het hy geleer dat ons nie moet planne maak asof ons weet wat môre sal gebeur nie (vgl. 4:13-17). Ons moet rekening hou met God wat bepaal wat môre gebeur. Ons moenie vergeet dat God in beheer is van ons lewens nie.

Hierdie gedeelte sluit nou ook by hierdie tema aan deurdat Jakobus ons daarop wys dat dit sonde is om te vergeet wat Jesus vir ons gedoen het. Kyk hoe herinner hy ons aan Jesus in vers 6.

In die nuwe direkte vertaling word dit so vertaal:

“Julle het die regverdige veroordeel en vermoor; hy kan hom nie teen julle verweer nie.” (NDV, Jak. 5:6)

Ons mag nie vergeet van die Een wat vir net 30 silwer muntstukke verraai, veroordeel en vermoor is nie. Hy het vrywillig vir ons gesterf.

Hy het al sy rykdom met ons kom deel en selfs sy klere is onder mense verdeel.

Ons mag nie maar net aangaan met die lewe sonder om eers twee keer te dink oor hoe ons ons geld gaan spandeer nie. Ons mag nie na ons begroting kyk sonder om te dink aan die Een wat meer werd is as al die goud en silwer in hierdie wêreld nie. Die Een wat gesterf het sonder om Homself te verweer[5].

Of soos Paulus dit stel

“Julle ken die genade van ons Here Jesus Christus: hoewel Hy ryk was, het Hy ter wille van julle arm geword, sodat julle deur sy armoede ryk kon word.” (2 Kor. 8:9)

Jesus is soos ‘n Lam geslag… Hy is afgesny van die land van die lewendes… (Jes. 53:7-12). Dit sodat ons onsself kan beklee met die spier wit kleed van sy verlossing.

Sodat ons by ‘n feesmaal kan gaan aansit as eregaste. Ons ontvang die woord wat lewe gee. Ons kan eet en geestelik versadig word.

Ons is skat ryk met die goud van geloof. Die suiwerste goud! Ons mag dit nie vergeet nie!

Slot:

Indien jou geld vir jou belangrik is, sal jy leef soos die res van die wêreld. Jy sal opgaar en mense misbruik om jou eie geldsake beter te laat lyk.

Maar wysheid is om vooruit te kyk na waarheen ons op pad is. En ‘n teken daarvan dat jy ‘n koninkryksbrugers is, is dat jy nie soveel waarde aan die materiële heg nie.

Vir ‘n koninkryksburger is dit belangriker om ander te help, want hy/sy dink gedurig aan die rykdom wat hulle in Christus ontvang het. Hulle dink aan die oorvloedige genade in Christus. Dis nie geld wat jou ‘n Koninkrykgsbruger maak nie, maar Jesus Christus wat vir jou met sy lewe aan die kruis betaal het.

Daarom, gebruik jou geld soos God wil omdat jy sien en besef dat ware rykdom in die verlossing van Christus is.

[1] https://www.elephantjournal.com/2013/07/534208/ [2] Keller, T. J. (2013). The Timothy Keller Sermon Archive. New York City: Redeemer Presbyterian Church. [3] Davids, P. H. (1994). James. In D. A. Carson, R. T. France, J. A. Motyer, & G. J. Wenham (Eds.), New Bible commentary: 21st century edition (4th ed., p. 1366). Leicester, England; Downers Grove, IL: Inter-Varsity Press. [4] Davids, P. H. (1994). James. In D. A. Carson, R. T. France, J. A. Motyer, & G. J. Wenham (Eds.), New Bible commentary: 21st century edition (4th ed., p. 1366). Leicester, England; Downers Grove, IL: Inter-Varsity Press. [5] Keller, T. J. (2013). The Timothy Keller Sermon Archive. New York City: Redeemer Presbyterian Church.

7 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page