top of page

Blydskap in beproewing

Teks: Jakobus 1:1-8

In die inleiding stel die skrywer homself met groot beskeidenheid voor. Hy sê nie wat sy status in die gemeente is of dat hy die broer van Jesus is nie. Hy noem alleen dat hy ‘n dienskneg van Christus is.

Hierdie beskeidenheid van die skrywer beklemtoon die feit dat Jakobus wél bekend was onder die gelowiges van daardie tyd, dis nie nodig vir ‘n bekendstelling nie. Maar die inleiding wys ook daarop dat hy die nodige outoriteit gehad het om ‘n brief soos hierdie as omsendbrief te kon stuur[1].

Wat opvallend is van die verhouding wat daar was tussen Jesus en Jakobus, is dat ons in Johannes 7 lees dat Jakobus eers nie vir Jesus as die Messias aanvaar het nie (Joh. 7:5).

Maar hierdie verhouding het verander en daarom is dit ook opvallend dat Jakobus een van die enkele individue is aan wie Jesus, na sy dood verskyn het (1 Kor. 15:7).

Jakobus se verhouding met Jesus het so gegroei dat hy een van die uitsonderlike leiers in Jerusalem geword het. Sy goeie leierskap word bevestig in die boek Handelinge waar ons lees dat Jakobus die deurslaggewende leiding gegee het rondom die kwessie van die besnydenis onder heiden nasies (Hand. 15:13-21).

Verder noem Paulus ook vir Jakobus as een van die pilare van die gemeente in Jerusalem (Gal. 2:9) [2]. Hy het uitsonderlike leierskap gehad.

Maar dan lees ons ook in buite bybelse bronne dat Jakobus in 62 n.C., deur die vyand van die evangelie, na die toppunt van die tempel gevat is. Hulle beveel hom toe om vir die gelowiges opdrag te gee dat hulle nie meer Christus moet volg nie. Waarop Jakobus gesê het dat die Seun van die Mens in die hemel aan die regterhand van die Vader is en weer op die wolke sal kom.

Die gevolg was, dat hulle hom van die tempel se dak afgegooi het, maar toe hy op die grond val, was hy nog nie dood nie. Hy het toe op sy knieë gestaan en begin bid vir die vergiffenis van hierdie vyande.

Hulle het toe na hom toe gegaan en hom dood gegooi met klippe[3].

Die rede hoekom Jakobus so staande kon bly in geloof, is omdat hy verstaan het wat hy hier leer. Hierdie Jakobus, wat leer dat ons moet bly wees wanneer allerlei beproewings oor ons pad kom – dis hy wat oor hierdie blydskap - oor die hoop in hom - gestenig is.

Kom ons kyk wat word ons hier geleer oor:

· Die gesindheid in beproewing

· Die noodsaaklikheid van beproewing

· Die krag in beproewing

1. Die gesindheid in beproewing

Wees realisties:

In die verband is dit belangrik om te sien dat Jakobus sê:

“…julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom…” (Jak. 1:2)

Hy gebruik nie die woord “as” nie, maar “wanneer”. Beproewings is m.a.w. onvermydelik.

As gelowiges leef ons dikwels onder die waan dat slegte goed nie met ons sal gebeur nie. Die voorspoed teologie leer ook dat ons net moet glo en alles sal met ons goed gaan.

Daarom, wanneer beproewings oor ons pad kom, dan is ons geneig om te vra, “maar hoekom laat die Here so iets met my gebeur? Ek is tog ‘n kind van die Here.”

Maar as ons so wil redeneer, wat van Jesus. Hy is die volmaakte Seun van God en tog was Hy tot die uiterste beproef.

So, ons moet realisties wees in die sin dat ons kindskap nie beteken dat daar nie slegte goed oor ons pad sal kom nie.

Wees bly:

Die gelowiges aan wie Jakobus hier skryf het beproewings ervaar in die sin van sosiale verwerping en verder is hulle ook ekonomies geboikot omdat hulle christene was.

En hoewel hierdie beproewings pynvol was, kon Jakobus die gelowiges steeds oproep om bly te wees ten spyte van hierdie beproewings.

Dis baie belangrik want - die gelowige is nie ‘n hedonis wat meen dat die lewe bloot daaroor gaan om genot daaruit te put nie[4]. Dan kan jy net bly wees as dit goed gaan.

Net so is die gelowige ook nie ‘n masochis wat meen dat ware geluk en bevrediging in vernedering en liggaamlike pyn lê nie[5].

Jakobus leer dat beproewings hanteer moet word met ‘n gesindheid van blydskap[6]. Ons kan selfs in tye van beproewing bly wees omdat ons as gelowiges wag op ‘n heerlike toekoms wat in Christus vir ons bewerk[7].

Daarom vertaal die 53’ vertaling dit soos volg:

“AG dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val…” (OAV)

Wanneer ons iets “Ag” dan neem ons noukeurig waar en dis hoe ons met beproewings te werk moet gaan. Ons moet sien hoe noodsaaklik dit is. Ons moet dit ag, ons moet daaroor dink - want daardie perspektief skep blydskap in ons hart.

2. Die noodsaaklikheid van beproewing

Dit leer jou volharding

‘n Atleet wat nooit oefen om lang afstande te hardloop nie, kan nie verwag dat hy ‘n wedloop soos die Comrades maraton kan voltooi nie.

Om vir die Comrades voor te berei moet jy op ‘n gereelde basis jou liggaam blootstel aan langafstande. En dis nie maklik nie! Jy dink baie keer daaraan om eerder net op te gee, maar dan begin jy verder dink. Jy begin ag slaan op die groter prentjie. Jy moet jou liggaam deur hierdie moeilike omstandighede sit indien jy gereed wil wees vir die Comrades.

Nou wys Jakobus ons daarop dat beproewings soos daardie langafstande is. Indien ons wil groei in volharding, moet ons bereid wees om deur beproewings te gaan[8]. Deur beproewings kry ons daardie vaste fondasie om in alle omstandighede steeds staande te kan bly[9].

Beproewings gee die gelowige die stamina wat nodig is om aan te hou bid al gaan dit nie goed nie. Beproewing gee die volharding wat nodig is om aan te hou kerk toe gaan ten spyte van slegte omstandighede. Beproewings leer jou om aan te hou goed doen aan ander, al behandel hulle jou sleg.

Die gelowige is bereid om deur die beproewing te gaan, want kyk waarheen is ons oppad. Ons ag, ons dink na oor die feit dat ons moet volhard om by die heerlike eindstreep te kom.

Dit bring jou tot Geestelike rypheid

Geestelike rypheid kan op geen ander manier tot stand kom as deur beproewings nie. Daarom is dit belangrik om ook daarop ag te slaan dat ons nie geestelike rypheid kan bereik sonder beproewings nie. Ons moet dit noukeurig waarneem.

Dink aan:

Nederigheid –

Ons weet dat nederigheid ‘n baie belangrike geestelike deug is. Paulus noem dit ook as deel van die vrug van die Gees, maar hoe leer jy jou kind om nederig te wees?

Al hoe jy nederigheid kan aanleer is wanneer jy swaar kry. Wanneer jy besef hoe min jy eintlik weet. En wanneer jy sien hoe ver jou kragte te kort skiet. Jy sal net erken dat jy God nodig het wanneer beproewings oor jou pad kom[10].

Daarom sê Paulus:

“Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my ’n doring in die vlees gegee, ’n boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan. Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” (2 Kor. 12:7-9)

Beproewings wys ons hoe swak ons is en hoe groot die krag van God is. Daarom kan ons net deur beproewings leer om nederig te word.

Vryheid –

Dieselfde geld ook vir vryheid, want beproewings gaan tog altyd gepaard met iets wat van ons weggeneem word. Indien dit iets is wat jy nie werklik dink jy nodig het nie, sal dit nie ‘n beproewing wees nie. Maar as jy daarvan oortuig is dat jy daardie artikel moet hê om te kan leef, en dit word van jou af weggeneem, dan is dit ‘n beproewing.

Daarom leer beproewings ons wat vryheid is. Daar is baie sulke goed in die lewe wat ons dink ons wesenlik nodig het. Ons dink dat ons nie daarsonder kan leef nie[11].

Dan word dit van ons weggeneem en so leer ons dat dit nie ons bestaan bepaal nie. Al waarsonder ons nie kan leef nie, is ‘n verhouding met God. Indien ons nie so verhouding met God het nie, loop ons lewe uit op die ewige verdoemenis.

Daarom maak beproewings ons ook vry van hierdie goed wat ons dink ons nodig het.

Medelye –

Nog ‘n deug wat ons net kan aanleer deur beproewing, is medelye. Al hoe ons mense kan verstaan op ‘n manier wat ons dit nooit van te vore sou kon verstaan nie, is wanneer ons deur dieselfde beproewing gaan as hulle[12].

Paulus beskryf dit baie mooi wanneer hy sê:

“In elke moeilikheid bemoedig Hy ons. Daarom kan ons weer ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig…” (2 Kor. 1:4)

Jy sal nooit kan omgee en iemand se hart verstaan as jy nie ook weet wat daardie beproewing behels nie.

Geloof –

Dieselfde geld ook vir geloof. Daar is niks soos beproewing om jou te wys wat jou ware motief vir jou Christenskap is nie. Is jy ‘n gelowige sodat die Here jou moet seën en sodat dit met jou moet goedgaan of is jy ‘n gelowige omdat jy sien wie God in Homself is[13]. Is jy ‘n gelowige net omdat jy HOM liefhet! Staan jy verstom voor die kruis waar jy te doen kry met die mees volmaakte liefde en genade.

Daar is niks soos beproewings om jou te wys wat die motief vir jou geloof is nie. Beproewings brand al daardie onsuiwerhede af sodat die eindresultaat nie net geloofsvolwassenheid is nie, maar geestelike rypheid sonder tekortkoming[14].

So, wat is ons veronderstel om te doen as ons nog nie hierdie geestelike rypheid ervaar nie?

3. Die krag in beproewing

Bid vir wysheid

Jakobus se antwoord hierop is dat ons God deur gebed moet vra om wysheid[15].

Ons kry krag deur gebed, want beproewings dryf die gelowige daartoe om te besef dat hy totaal afhanklik is van God se genade en daarom moet elke gelowige deur gebed sy afhanklikheid van God bely en vra vir hierdie wysheid wat nodig is.

Die wysheid waarvan hier gepraat word, is die vermoë om te weet hoe God wil hê dat jy moet leef. Dis wysheid wat ons deur die Heilige Gees ontvang (vgl. 1 Kor. 2:14-15), want die Heilige Gees leer ons om te ag! Ag wat beproewings doen. Kyk hoe bring dit jou tot volharding en geestelike rypheid – dis wysheid as jy ag slaan!

Wysheid slaan ag daarop dat Jesus sy vrede, en gemak, en vreugde en geluk tydens sy aardse lewe opgegee het, sodat ons die vooruitsig mag hê op ‘n ewige lewe. Hy is tot die uiterste beproef, sodat ons ‘n lewe as erfdeel mag ontvang waar daar geen tekortkoming sal wees nie. Bid vir hierdie wysheid!

Bid met geloof

Iemand wat twyfel, is nog nie oortuig van die feit dat God in beheer van alles is en dat sy manier die beste vir ons is nie[16]. Daarom word die persoon wat twyfel oor God se voorsiening of versorging hier vergelyk met ‘n golf in die see wat heen en weer geslinger word deur die wind.

Om met geloof te kan vra, moet ons ag slaan op wat God vir ons gedoen het. Die Hebreër skrywer stel dit so:

“…laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof.” (Heb. 12:1-2)

Geloof begin en eindig by Christus. Ons moet ag gee op die feit dat Jesus bereid was om die vernedering van die kruis te dra ter wille van ons.

Ons moet ag gee op die feit dat Hy die toorn van God op Homself geneem het. God het helse smart en bange godverlatenheid oor Hom laat kom en Hy het bly volhard. Hy het ons lief ten spyte van die lyding wat Hy in ons plek moes verduur[17].

Daarom moet ons nie twyfel nie, ons moet ons oë op Christus hou. Sy liefde vir ons is oneindig groot en omdat ons hierdie liefde in aan die kruis sien, daarom kan ons op Hom vertrou. Hy is in beheer[18].

Slot:

Beproewings is vir die gelowige onvermydelik. Die feit dat ons Christene is, beteken nie dat slegte dinge nie oor ons pad sal kom nie, want dis noodsaaklik vir ons geestelike groei.

Daarom moet ons beproewings op die regte manier hanteer. In beproewing slaan die gelowe ag op Jesus. Ons vestig ons oë op sy volharding op hierdie pad van verlossing tot in die dood.

Dis hoe groot sy liefde vir ons is en daardie liefde sal elke gelowige ook in tye van beproewing vul met groot blydskap.

[1] Blue, J. R. (1985). James. In J. F. Walvoord & R. B. Zuck (Eds.), The Bible Knowledge Commentary: An Exposition of the Scriptures (Vol. 2, p. 819). Wheaton, IL: Victor Books. [2] MacArthur, J., Jr. (Ed.). (1997). The MacArthur Study Bible (electronic ed., p. 1924). Nashville, TN: Word Pub. [3] Keller, T. J. (2013). The Timothy Keller Sermon Archive. New York City: Redeemer Presbyterian Church. [4] Odendal, F. F. (1994). Die elektroniese weergawe van die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse taal. Midrand: Perskor Uitgewery. [5] Keller, T. J. (2013). The Timothy Keller Sermon Archive. New York City: Redeemer Presbyterian Church. [6] Blue, J. R. (1985). James. In J. F. Walvoord & R. B. Zuck (Eds.), The Bible Knowledge Commentary: An Exposition of the Scriptures (Vol. 2, p. 820). Wheaton, IL: Victor Books. [7] Davids, P. H. (1994). James. In D. A. Carson, R. T. France, J. A. Motyer, & G. J. Wenham (Eds.), New Bible commentary: 21st century edition (4th ed., p. 1357). Leicester, England; Downers Grove, IL: Inter-Varsity Press. [8] Davids, P. H. (1994). James. In D. A. Carson, R. T. France, J. A. Motyer, & G. J. Wenham (Eds.), New Bible commentary: 21st century edition (4th ed., p. 1357). Leicester, England; Downers Grove, IL: Inter-Varsity Press. [9] Blue, J. R. (1985). James. In J. F. Walvoord & R. B. Zuck (Eds.), The Bible Knowledge Commentary: An Exposition of the Scriptures (Vol. 2, p. 820). Wheaton, IL: Victor Books. [10] Keller, T. J. (2013). The Timothy Keller Sermon Archive. New York City: Redeemer Presbyterian Church. [11] Keller, T. J. (2013). The Timothy Keller Sermon Archive. New York City: Redeemer Presbyterian Church. [12] Keller, T. J. (2013). The Timothy Keller Sermon Archive. New York City: Redeemer Presbyterian Church. [13] Keller, T. J. (2013). The Timothy Keller Sermon Archive. New York City: Redeemer Presbyterian Church. [14] Davids, P. H. (1994). James. In D. A. Carson, R. T. France, J. A. Motyer, & G. J. Wenham (Eds.), New Bible commentary: 21st century edition (4th ed., p. 1357). Leicester, England; Downers Grove, IL: Inter-Varsity Press. [15] Davids, P. H. (1994). James. In D. A. Carson, R. T. France, J. A. Motyer, & G. J. Wenham (Eds.), New Bible commentary: 21st century edition (4th ed., p. 1357). Leicester, England; Downers Grove, IL: Inter-Varsity Press. [16] Vosloo, W., & van Rensburg, F. J. (1993). Die Bybel in Praktyk (Nuwe Vertaling) (Jas 1:6). Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy. [17] Keller, T. J. (2013). The Timothy Keller Sermon Archive. New York City: Redeemer Presbyterian Church. [18] Davids, P. H. (1994). James. In D. A. Carson, R. T. France, J. A. Motyer, & G. J. Wenham (Eds.), New Bible commentary: 21st century edition (4th ed., p. 1357). Leicester, England; Downers Grove, IL: Inter-Varsity Press.

50 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page