top of page

Burgerskap wat vasstaan in Christus

Teks: Genesis 23:1-20

Met Sara se dood is Abraham gedetermineerd om 'n stuk van die beloofde land te bekom. Dit laat mens so bietjie terugdink aan sy pogings om die Here se belofte rondom 'n seun, 'n werklikheid te maak.

Abraham gaan onderhandel met die Hetiete en hoewel hulle hom goedgunstig is, wil hulle nie werklik aan hom grond gee nie. Hulle sal hom net toelaat om sy vrou op enige plek te begrawe.

Abraham dring egter daarop aan dat hy die grond wil koop en so kom dit dat hy dan baie meer betaal as wat die grond werklik werd was. Slegs deur die grond te koop sou hy burgerlike regte kon bekom.

Dit laat mens so bietjie dink oor die transaksies wat ons dikwels probeer ryp druk. Ons sit ons kop op 'n ding en dan doen ons alles in ons vermoë om dit in die hande te kry. Dit terwyl die Here dit op sy tyd aan ons sal gee, as dit sy wil is. En dan selfs sonder inspanning. Die Psalmdigter sê dit so mooi:

“Vir dié wat Hy liefhet, gee die Here dit in hulle slaap.” (Ps. 127:2b).

Hierdie desperate soeke en veg vir wat ons wil hê, getuig daarvan dat ons in beheer wil wees. Ons vertrou God nie om op sy tyd te voorsien nie.

Die wonderlike is om God se genade in Abraham te sien. Ten spyte daarvan dat Abraham nie vertrou nie, toon God steeds sy genade. Abraham ontvang die stuk grond wat dan ‘n begraafplek word vir die aardsvaders. Abraham en Sara, Isak en Rebekka en Jakob en Lea is daar begrawe (vgl. Gen. 49:31). Verder word hierdie stuk grond ook ‘n vooruitsig vir die volk van dit wat hulle in die toekoms ten volle sal ontvang.

As gelowiges kry ons soveel te meer ‘n heerlike vooruitsig in Christus. Ons het nie nodig om in eie krag onsself te bewys of ons toekoms te bewerk nie. Vir die wat die Here liefhet, gee Hy dit in hul slaap. In ons slaap het Jesus gekom en vir ons 'n duur prys betaal om ons deel te laat kry aan hierdie ewige verbond.

Hy gee sy bloed sodat ons burgerskap in die ewige lewe verseker kan wees.

Daardie burgerskap moet ons anders laat kyk na ons lewe hier en nou. Ons is maar swerwers en bywoners. Ons het nie nodig om grond en besittings te bekom nie. God sal voorsien. Alles behoort in elke geval aan hom.

Vrae tot introspeksie:

a) Is daar iets in jou lewe wat jy baie graag wil hê en dalk selfs met desperate pogings jou eie probeer maak?

b) Hoe gee die vooruitsig in Christus vir jou rustigheid op jou geloofspad?

17 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page