top of page

Christus verander die gekla in vergenoegdheid.

Teks:              Numeri 11:4-35

Teksvers:     Num. 11:4


A flock of quails flying over the Sinai desert.

Aan die begin van ’n nuwe jaar kyk baie mense met gemengde gevoelens vorentoe.

Daar is hoop en verwagting, maar ook onsekerheid, vrees en moegheid, want jy wonder dalk oor die ekonomie, of oor jou kinders, of oor veiligheid, of oor jou werk en oor wat hierdie jaar vir ons gaan bring. En sonder dat ons dit altyd besef, begin klagtes maklik ons gesprekke oorheers.

Maar voordat ons oor die nuwe jaar praat, laat die Here ons eers eerlik kyk na ons harte.

Want die vraag is nie in die eerste plek: “Wat wag vir ons in hierdie jaar?” nie. Die eintlike vraag is: “Wat is ons diepste begeerte?”

Numeri 11 leer ons van die volk wat reeds deur God verlos is. God is by hulle. Hy lei hulle. Hy voorsien in hul behoeftes. En tog kla hulle. Nie omdat hulle honger is nie, maar omdat hulle diepste begeertes verkeerd is.

Daarom moet ons die nuwe jaar by die regte plek begin: nie by ons vrese of ons planne nie, maar by Christus.

So, kom ons dink eers na oor die feit dat....

  1. Sondige begeertes lei tot ‘n gekla.

Numeri 11 neem ons terug na die begin van Israel se woestynreis. Die volk is pas uit Egipte verlos. God woon in hulle midde. Sy wolk en vuurkolom lei hulle. Sy beloftes lê voor hulle. En tog lees ons:

“Die mense van ander afkoms wat saam met die Israeliete getrek het, het ’n onweerstaanbare lus vir vleis gekry, en toe het die Israeliete self ook begin kla...” (Num. 11:4)

Die Hebreeuse uitdrukking wat hier met “onweerstaanbare lus” vertaal word, word beklemtoon deurdat dieselfde woord twee keer herhaal word. Ons kan dit letterlik vertaal deur te sê dat hulle gehunker het na ’n hunkering.

Daarmee word beklemtoon dat dit nie bloot net ’n ligte begeerte was nie, maar ’n allesoorheersende verlange wat hulle denke begin oorheers het.

En dis belangrik om dit reg te verstaan, want dit is nie die begeerte na kos wat verkeerd is nie.  Ons het elke dag ‘n begeerte na kos.  Indien dit nie vir daardie begeerte was nie sou ons nooit geëet het nie. 

Wat hierdie begeerte van die volk verkeerd gemaak het was dat die begeerte na kos groter was as die begeerte na God se teenwoordigheid. 

Dit sien ons duidelik in vers 18 as daar staan:

“As ons tog net vleis gehad het om te eet; in Egipte was dit vir ons goed!” (Num. 11:18)

Dit is ’n skokkende uitspraak. Egipte – die plek van slawerny, van onderdrukking, van gehuil, waar hulle babaseuns in die Nyl gegooi is – dit word nou beskryf as goed. En die Here, wat hulle met sy magtige hand verlos het, wat elke dag by hulle is en vir hulle sorg, word feitlik eenkant toe geskuif.

Dit wys ons hoe gevaarlik sondige begeertes werklik is.

Sondige begeertes beïnvloed nie net dit wat ons begeer nie; dit begin ook bepaal wat ons onthou en hoe ons oor ons omstandighede dink.

Skielik onthou Israel Egipte net vir sy vleis, maar hulle vergeet die slawekettings. Hulle kyk vas in al die tekorte, en draai die gesig weg van alles wat God reeds vir hulle gedoen het.

Sondige begeertes laat ons dus vergeet waar “goedheid” werklik vandaan kom, want God alleen is goed. Hy is die Een wat hulle uit slawerny bevry het. Hy is die Een wat hulle op pad geneem het na ’n toekoms – na ’n land wat oorloop van melk en heuning.

En ja, die pad na die beloofde lang gaan deur die woestyn. Daarom is dit nie altyd maklik nie. Daar is nie altyd oorvloed nie. Maar selfs in die woestyn laat God hulle nie sonder sorg nie. Hy voorsien daagliks manna uit die hemel.

Moses beskryf hierdie manna doelbewus in verse 7–9 as iets goeds, iets aangenaams, iets wat God self gee. Hoor hoe word die manna in Eksodus beskryf. Daar staan:

“Die Israeliete het die kos manna genoem. Dit was wit soos koljandersaad en het soos heuningkoek gesmaak.” (Eks. 16:31)

En tog kla hulle. Hulle sê hulle wurg aan die manna.

En nou is dit belangrik om te sien dat hierdie gedeelte nie leer dat ons pyn, ontbering of onreg gering is nie. Die woestyn was moeilik. God verwag ook nie van sy kinders om hulle swaarkry te ontken of stil te hou nie. Hy nooi ons juis om ons bekommernisse voor Hom uit te stort. Moses doen dit self in hierdie gedeelte. Die Psalms is vol gebede waarin gelowiges eerlik, soms selfs worstelend, hulle harte voor die Here oopmaak.

Maar daar is ’n wesenlike verskil tussen twee soorte klagtes.

Daar is die klag van geloof wat roep: “Here, waar is U?”

En dan is daar die klag van ontevredenheid wat, soms sonder om dit hardop te sê, verklaar: “Here, U is nie genoeg nie.”

Wanneer aardse begeertes – soos gerief, voorspoed en gemak – groter raak as die begeerte na ’n lewende verhouding met God, begin klagtes ons harte en ons woorde oorheers. Dan kla ons nie meer omdat ons God soek nie, maar omdat ons Hom begin verruil vir dit wat ons EINTLIK dink ons gelukkig sal maak.

En daarom is dit’ n vraag wat ons juis aan die begin van ’n nuwe jaar eerlik vir onsself moet vra?

Het die begeerte na veiligheid, stabiliteit en eer nie dalk groter geword as die begeerte na God se teenwoordigheid in ons lewe nie?

Ons is, net soos Israel, op reis na die ewige lewe. Hierdie wêreld is nog nie die beloofde land nie. Ons leef nog in die woestyn, op pad na die ewige lewe. En tog kla ons soms asof die hier en nou alles moet wees – asof daar geen groter hoop vir ons voorlê nie.

So, wat is daardie sondige begeertes in ons lewe wat ons verhouding met God eenkant toe skuif. Watter begeertes is groter as ons begeerte na God self – WANT dis daardie begeertes wat die oorsaak is van 'n lewe vol klagtes en ontevredenheid.

Maar nou kom die vraag: Hoe kan ons dit verander? Hoe kan 2026 anders wees? Dit bring ons by die tweede punt...

  1. Die begeerte na Christus maak ons vergenoeg.

Numeri 11 wys vir ons hoe maklik dit gebeur dat mense wat baie het, in ‘n staat van klagtes verval. Dit gebeur maklik dat die heerlike seën om ‘n verhouding met God te hê ongesiens verby ons gaan.

Dit is presies wat by die volk gebeur het. Hulle het al die geluk van die wêreld gehad. Die Almagtige God was by hulle. Hy voorsien aan hulle kos sodat hulle nie eens nodig gehad het om daarvoor te werk nie. Elke oggend wanneer hulle opstaan was die kos voor hulle deur.

Boonop is hulle oppad na 'n land toe waarvoor hulle nie gewerk het nie. Hulle het nie die stad gebou nie en hulle het ook nie die wingerde aangeplant nie. Dit is aan hulle gegee. Verniet! En tog kla hulle.

Ons staan aan die begin van hierdie nuwe jaar, maar as ons nie besef wat ons in Christus het nie, sal ons ook kla. So kom ons neem ‘n oomblik en maak ons gedagtes vol met hierdie heerlike seëning wat ons in Christus kry, want Hy alleen is GOED! Hy alleen is waardig om begeer te word.

Hy maak dit vir elkeen van ons moontlik om die ewige geluk wat God vir ons gee in besit te kan neem. Hy het groot opofferings gemaak en tog gee Hy dit aan ons verniet!

Dink net hoe groot was die opoffering om deur die mense van sy tyd – ja, selfs deur sy eie broers – verwerp te word. Hy is nie gerespekteer as die God van die heelal nie. Die skares het nie uitgeroep "verheerlik Hom" nie. Hulle het uitgeroep "Kruisig Hom!"

En tog het Jesus nooit gekla nie. Hy het die kruis wat ons moes dra geduldig in ons plek gedra. In plaas daarvan dat Hy kla en sy vyande vervloek, het Hy gebid:

"Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!" (Luk. 23:34)

Omdat Hy ons liefhet, was Hy tot die dood toe gehoorsaam aan die Vader. Christus se groot begeerte was om sy liefde aan sy kerk te kom bewys. Om met sy kerk verenig te leef! Hy bemin ons al is ons vol sonde. En daardie liefde wat Christus vir ons het – dit wek ware vergenoegdheid. Niks kan ons van daardie liefde van Christus skei nie. Wat meer het ons nodig as dit!

Paulus het dit verstaan en daarom skryf hy:

“ek het geleer om vergenoeg (tevrede) te wees met die omstandighede waarin ek is... om versadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.” (Fil. 4:11-13)

Wat opvallend is, is dat Paulus sê dat Hy geleer het om vergenoeg te wees. Dit was 'n proses. Vergenoegdheid kom nie outomaties nie. Maar dit kom wel wanneer ons Christus leer ken en ‘n verhouding met Hom begeer.

Christus maak dat ons in alle omstandighede vergenoeg of tevrede kan wees, want omstandighede bepaal nie meer ons blydskap nie. Christus bepaal ware blydskap. Om Christus te ken is genoeg. Daarom skryf Petrus:

"Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met 'n onuitspreeklike en heerlike blydskap." (1 Pet. 1:8)

'n Gelowige se vergenoegdheid, sy tevredenheid word bepaal deur dit wat God vir hom is en nie deur sy omstandighede nie.

En hoe gelukkig kan ons nie wees oor dit wat God vir ons is nie. Hy het deur Christus na hierdie wêreld toe gekom om vir ons sonde te betaal. Hy het die prys betaal sodat ons eendag ewig saam met Hom kan wees.

En daardie hoop, daardie sekerheid, verander hoe ons deur 2026 gaan. Dit beteken nie dat al ons probleme skielik sal verdwyn nie.

Maar dit beteken dat ons nie hoef te leef asof hierdie wêreld en sy gemak en veiligheid die einddoel is nie. Ons kan vergenoeg wees, selfs in die woestyn, omdat ons weet waarheen ons op pad is en omdat ons weet Wie saam met ons op die pad is.

Kom ek probeer dit prakties maak. Wanneer mens pastoraal met mense werk sien jy dit dikwels.  Twee mense wat deur presies dieselfde moeilike omstandighede gaan – miskien finansiële druk, of gesondheidsprobleme, of spanning in hulle huwelik.

Die een persoon se grootste begeerte is dat die omstandighede moet verander. En solank dit nie gebeur nie, is daar klagtes, frustrasie, ontevredenheid. Elke dag begin met: "As dit net anders was... of as ek net dit gehad het..."

Die ander persoon se grootste begeerte is om Christus te ken en te dien. Die omstandighede is net so moeilik. Maar daar is 'n vrede, 'n vergenoegdheid wat nie sin maak vir die buitestander nie. Omdat die bron van blydskap nie die omstandighede is nie, die groot begeerte is Christus en Hy is by Hom.

Dit beteken nie dat hierdie tweede persoon nie soms sukkel nie, of dat hy nie ook soms moedeloos voel nie. Maar die anker, die fondament, is verskillend en daarom is daar altyd hoop.

Slot:

Aan die begin van hierdie nuwe jaar staan ons, net soos Israel, op die pad. Nie alles is duidelik nie. Die woestyn lê nog voor ons. Daar is onsekerheid, pyn en vrae waarop ons nie nou reeds antwoorde het nie.

Maar hierdie teks roep ons op om nie die jaar te begin deur te fokus op alles wat ons nie het nie. Nee, kom ons maak ons gedagtes vol dit wat ons het. ‘n Verhouding met ons Here.

Sondige begeertes laat ons kla asof God nie genoeg is nie.

Maar Christus roep ons om te leef as mense vir wie Hy genoeg is.

Daarom is die kern vraag vir hierdie nuwe jaar nie in die eerste plek: “Hoe gaan hierdie jaar verloop?”

Die vraag is: “Wat – of Wie – begeer?”

Mag ons antwoord nie wees: veiligheid, gemak of voorspoed nie, - dan gaan ons kla as ons dit nie kry nie.

Nee, mag ons soos Psalm 16 sê: “Here, daar is vir my niks goeds behalwe by U nie.”

 
 
 

Recent Posts

See All

Comments


©2020 by Paul Jacobus de Bruyn. Proudly created with Wix.com

bottom of page