Waarom laat God lyding toe?
- Dr. PJ de Bruyn
- Sep 24
- 9 min read

Die lewe het hierdie twee kante: die mooi kant van seëninge en die donker kant van pyn. Van die goeie kan ons maklik getuig – kos op die tafel, ’n huis, gesin, God se Woord. Maar die slegte kant? Siekte, dood, natuurrampe, oorlog – dis dinge waaroor ons nie maklik praat nie. Dan kom die groot vraag: As God goed is en alles beheer, hoe pas die kwaad in daardie prentjie?
Wanneer swaarkry tref, is dit dikwels ons eerste woorde: “Hoekom laat die Here dit toe? Hoekom ek? Hoekom nou?”
Geen boek in die Bybel antwoord hierdie “hoekom”-vrae oor lyding so diep en wys soos die boek Job nie. Dis ’n verhaal wat ons wys hoe om die onvermydelike storms van die lewe te hanteer.
So, kom ons begin deur te kyk wat ons in die eerste hoofstuk van Job leer oor die rol van die bose in lyding.
1. Die rol van die Bose.
Job word in ’n kort tydperk oorval deur katastrofiese gebeuretenisse uit elke moontlike rigting. Dit is nie ’n reeks ongelukke wat toevallig oor sy pad gekom het nie – dit is ’n doelbewuste aanval van Satan. En sy doel is om Job se geloof te breek.
Hierdie toneel wat in Job 1 beskryf word, is dramaties. Job verloor alles in ‘n oogwink:
Uit die Suide kom die mense van Skeba en roof al sy osse en donkies en maak die werkers dood.
Uit die Weste kom die weerlig en verbrand sy kleinvee en wagters.
Uit die Noorde kom die Galdeërs om sy kamele te steel.
Uit die Ooste waai ’n verwoestende woestynwind wat die huis laat ineenstort waarin al sy kinders feesvier – almal sterf in ’n oomblik.
Hierdie detail is belangrik, want dit wys dat die aanslag uit alle windrigtings kom. Dit simboliseer dat Satan Job van elke kant probeer vasdruk. Hy gebruik mense (Sabiërs, Galdeërs) en natuurrampe (weerlig, windstorm) as instrumente van vernietiging. Die motiewe agter hierdie dade is boos – roof, moord, vernietiging. En dan sien ons natuurlik dat agter al hierdie boosheid die groot aanhitser is - Satan. Hy wil sien of Job nie sy geloof sal prysgee nie.
En as ons nou oor hierdie lyding van Job dink, dan is daar twee algemene menslike reaksies op lyding:
Daar is ‘n moralistiese reaksie wat sê: “God straf my omdat ek iets verkeerd doen.”
Die moralistiese denke redeneer dat as ek goed doen, sal ek geseën word; maar as ek lyding in my lewe ervaar, dan beteken dit dat ek sonde gedoen het en God my nou straf.
Indien jy Job verder lees sal jy ook sien dat dit dieselfde argument is wat Job se vriende keer op keer gebruik. Hulle het verkeerdelik aanvaar dat lyding altyd die gevolg van sonde is. Daarom het hulle vir Job probeer oortuig dat hy sy sonde moet bely.
Hierdie denke kry ons dikwels by gelowiges wat sal sê: “Jy is siek, want jy het nie genoeg geloof nie of dis oor dié of daai sonde in jou lewe.”
Hierdie moralistiese denke sien God as iemand met wie jy ’n transaksie maak – amper soos ’n kontrak of ’n ruiltransaksie. Jy doen sekere dinge (soos meer bid, meer kerk toe gaan, goeie werke doen), en dan moet God jou beloon met goeie gesondheid, voorspoed, of beskerming.
Maar dit is nie hoe die Bybel vir God beskryf nie. Hy is nie ’n meedoënlose rekenmeester wat ons dade meet en beloon of straf soos ’n transaksie nie. Hy is ’n liefdevolle Vader wat uit genade en liefde werk.
Dan is daar nog 'n reaksie op lyding:
Daar is ‘n sinies reaksie wat sê: “Daar is geen beheer nie, die lewe is net chaos.”
Wanneer mense lyding sien – soos ’n ongeluk, siekte, natuurramp of onreg – en hulle glo nie in God nie, of hulle twyfel aan Hom, sê hulle dikwels:
“As daar ’n goeie God was, sou Hy dit nie toelaat nie. So, die gevolgtrekking is: Hy bestaan nie.”
Of: “As Hy bestaan, is Hy óf swak want Hy tree nie in nie óf Hy gee nie om nie.”
Met hierdie manier van dink haal jy God heeltemal uit die prentjie. Jy sê in effek dat daar niemand is wat in beheer van die skepping is nie. En as daar nie ‘n God is wat in beheer is nie, beteken dit dat die lewe aan toeval oorgelaat is.
Hierdie manier van dink sal daartoe lei dat jy in totale moedeloosheid gedompel word, want dit beteken dat daar geen groter doel of plan agter die pyn in hierdie lewe is nie.
Ons sal totaal sinies raak, want alles lyk nutteloos en onregverdig.
Sonder God is daar geen hoop dat die kwaad in hierdie lewe reggestel gaan word nie, daar is geen troos, en geen sin in lyding nie.
Dit bring ons nou by die tweede punt en eintlik die derde en reg reaksie op lyding!
2. God beheer selfs die kwaad.
Wanneer ons oor lyding, beproewing en die rol van die bose in ons lewens praat, is een van die mees troosvolle waarhede juis dat God altyd in beheer is.
Dit klink eenvoudig, maar dit is ’n diep, misterieuse waarheid – want hoe kan God alles beheer en tog nie die Outeur van die kwaad wees nie? Hoe kan Hy toelaat dat Satan Job aanval, maar steeds ’n goeie Vader bly? Kom ons delf dieper hierin!
Jesus sê self in Matteus 10:29–30:
“Is twee mossies nie vir ’n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.”
Hier leer ons dat God se beheer absoluut en volledig is. Nie eers ’n mossie val dood op die grond sonder Sy wil nie; nie eers die hare op ons kop word vergeet nie. Hoeveel te meer beheer die Here dan nie die groot dinge in ons lewens – soos lyding nie?
Die Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 13 sê dit pragtig as daar bely:
God het ons nie ná die skepping aan onsself oorgelaat nie. Sy vinger, sy hand en sy Vaderhart is in alles wat gebeur. Alles wat gebeur – selfs die dinge wat ons nie verstaan nie – is onder Sy soewereine bestuur.
Nou kom die moeilike vraag: as God alles beheer, beteken dit dan dat Hy die kwaad veroorsaak?
Nee. Die Bybel is duidelik: God is heilig; Hy skep nie sonde of kwaad nie (vgl. Jak. 1:13-17). Die Satan is die een wat kwaad skep, en sy doel daarmee is om ons te breek. Maar – en dit is die sleutel – selfs die kwaad is nie buite God se beheer nie.
Hierdie waarheid is vir elkeen van ons ‘n groot bron van troos.
God laat kwaad toe, maar Hy beheer die omvang daarvan, die doel daarvan, en die uitkoms daarvan.
In Korintiërs word dit baie mooi bevestig as daar staan:
“God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan.” (1 Kor. 10:13)
God het Job geken – sy sterk en swak punte. Hy het geweet Job kan hierdie beproewing dra. Net so ken Hy ook vir elkeen van ons. Hy laat nie toe dat Satan ons tot op die punt van vernietiging bring nie. Alles wat gebeur, gebeur onder die alwyse, liefdevolle bestuur van ons Vader.
Daarom gee die boek Job vir ons ‘n diep insig in God se Asimmetriese Verhouding tot die Kwaad.
Nou dis ‘n vreeslike groot woord, maar dit word baie mooi verduidelik in hierdie gedeelte.
God prys Job se vroomheid en dan antwoord Satan en sê:
“Dit is nie sonder rede dat Job U dien nie! U beskerm hom dan, en sy huis en al sy goed. U maak alles wat hy doen, voorspoedig. Selfs sy vee teel vinnig aan. Maar raak nou net aan sy besittings en kyk of hy U nie in u gesig vervloek nie.” (Job 1:9-11)
God se antwoord daarop is dan:
“Alles wat hy het, gee Ek in jou mag oor. Net aan hom self mag jy nie raak nie.” (Job 1:12)
Wat ons uit hierdie gesprek leer is uiters belangrik.
Die idee en die uitvoering van die kwaad kom van Satan, want God is heilig en sal nie eers aan die kwaad dink nie.
Dan sien ons ook dat God baie duidelike perke stel. Satan mag net doen wat God toelaat.
Dis wat bedoel word met God se asimmetriese (oneweredige) verhouding tot kwaad. Satan is nie in ‘n gelyke verhouding met God nie. God is by uitstek sy meerder. God sal nooit die kwaad of lyding veroorsaak nie, maar Hy beheer dit volledig. Hy gebruik dit selfs om sy goeie plan uit te voer.
Maar nou kan jy dalk vra: “As God magtig en goed is, hoekom laat Hy dan toe dat lyding gebeur?”
Die antwoord lê in God se wyse bestuur: Hy laat net soveel kwaad toe as wat nodig is om die bose se eie plan te vernietig en sy kinders sterker te maak.
Daarin is Job ‘n mooi voorbeeld: Satan se oorspronklike doel was om Job so ver te kry dat hy God sou verloën en wegdraai van sy geloof. Maar wat het gebeur? Alhoewel Job se geloof swaar beproef is deur intense lyding en verlies, het hy nie toegegee aan Satan se versoekings nie. In plaas daarvan om gebreek te word, het Job se geloof eerder sterker geword deur die beproewing.
Verder het die Here ook daardie geleentheid gebruik om vandag, duisende jare later, miljoene gelowiges regoor die wêreld te bemoedig wanneer hulle Job se verhaal hoor en deur hul eie moeilike tye gaan.
Satan se plan om Job te vernietig het presies die teenoorgestelde uitwerking gehad – Hoekom? Want God is in beheer!
So werk God vandag nog. Hy gebruik selfs lyding om ons geloof te suiwer, ons afhanklikheid te verdiep, en sy heerlikheid te toon. Hy gee aan Satan genoeg tou om homself op te hang.
Augustinus het dit mooi gestel toe hy gesê het:
“Die sonde is wel teen God se wil, maar dis nie buite sy wil nie.”
Die feit dat God alles beheer – selfs die kwaad – beteken nie dat ons altyd sal verstaan wat Hy doen nie, maar dit beteken wel dat ons kan rus vind in God karakter: Hy is mos goed, en wys en vol liefde. Dit weet ons!
Daarom kan ons vasstaan in hierdie sekerheid dat die bose beperk is. God is soewerein! Hy is Koning. En uiteindelik sal alles ten goede meewerk vir dié wat Hom liefhet (Rom. 8:28).
3. Die krag om te volhard in geloof!
Wanneer ons deur swaar tye en lyding gaan, is dit maklik om te dink dat God ons vergeet het of dat Hy ons nie liefhet nie, want dis die leuen wat die duiwel van die vroegste tye af aan ons voorhou.
In die tuin van Eden het die duiwel ook vir Adam en Eva gesê dat God eintlik net vir hulle gesê het dat hulle nie van die boom mag eet nie, omdat hy iets goeds en mooi van hulle weerhou – en hulle het daardie leuen geglo!
Vandag sukkel ons steeds daarmee. Wanneer dinge skeefloop, wat vra ons instinktief?: “Gee God regtig nog vir ons om as hierdie dinge gebeur?”
So, hoe sal ons dit reg kry om God te vertrou in donker omstandighede?
Anders en meer as Job het ons die kruis van Jesus Christus wat die leuen van Satan vir altyd weerlê. Toe Jesus aan die kruis sterf, was dit die grootste onreg in die geskiedenis – en tog was dit deel van God se plan om ons te red. Dis hoe uitnemend sy liefde vir ons is – dis volmaak, onfeilbaar, dis onvoorwaardelik.
Tog, diep binne-in ons, glo ons dit nie altyd nie, want as iemand my kritiseer of as dinge verkeerd loop in ons lewe, dan raak ons ontstel. Ons raak moedeloos!
So waarom die vertwyfeling? Want ons heg meer waarde aan wat mense dink en aan wat ek het en nou verloor het - as aan God se liefde.
Dis soos om ’n liggie in die son te probeer gebruik – die son se lig is baie sterker, maar ek fokus op die klein liggie. Net so is God se liefde soos die son, en dan maak ons staat op die flou lig van mense se opinies, my status moet tog net nie weggevat word nie en my sukses – ek klou daaraan vas.
Ons het nodig om in die sekerheid te leef van God se liefde vir ons. Sonder daardie sekerheid sal lyding ons breek.
Hoe weet ons God het ons lief? Kyk na Jesus.
In Jesus se geval het dit nie net vir Hom gevoel of God Hom verlaat het nie; aan die kruis is Hy werklik verlaat, sodat ons nooit verlaat hoef te word nie. Hy het gely om vir ons te wys: “God is vir ons, selfs wanneer alles teen ons voel.”
Daarmee gee Jesus ons die krag om te volhard. Hy wys ons dat selfs die grootste kwaad in die geskiedenis – die kruisiging van Jesus – selfs dit was binne God se plan. Satan het gedink hy wen toe Christus aan die kruis sterf. Tog was dit sy grootste nederlaag.
As dit waar is by die kruis, is dit ook waar in ons lewe. God se plan sal seëvier. Lyding en kwaad is tydelik.
Slot:
Wanneer jy weer deur donker tye stap, onthou dit: Satan se doel is om jou geloof te breek, maar God gebruik daardie beproewing om jou geloof te versterk. Hy is in beheer – selfs oor die dinge wat ons nie verstaan nie. Hy beperk die Bose, en Hy gebruik selfs ons pyn om ons nader aan Hom te trek.
So, wanneer ons in hierdie moeilike tye twyfel of God ons liefhet, kyk dan na die kruis. Daar sien ons die grootste onreg in die geskiedenis, maar ons sien ook die grootste bewys van God se liefde. As Hy selfs dáár aan die kruis sy goeie plan kon uitvoer, sal Hy dit ook in ons lewe doen.
Daarom kan ons saam met Job sê:
“Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die naam van die Here”
Comments