top of page

Die gawe van wedergeboorte!

Teks: Jakobus 1:16-21

Inleiding:

In die vorige gedeelte het Jakobus geleer dat God se doel met beproewing nooit is om ons te vernietig nie. Dit is wel so dat ons sondige begeerte ons dikwels verlei om in sonde te val. En dit is daardie sondige begeertes wat lei tot die dood.

In vers 16-19, soos ook in hoofstuk 1:14, wys Jakobus ons wat God se doel met beproewing is. Hy gebruik nie beproewings om ons te vernietig nie. Inteendeel, God gebruik beproewings om ons nuut te maak. Deur beproewing gee God aan ons die wonderlike gawe van wedergeboorte. Dis hoe Hy ons nuutmaak!

Hoewel die woord “wedergeboorte” nie hier gebruik word nie, is daar veral drie redes waarom ons kan sê dat dit wel hier gaan oor die wedergeboorte waarna daar dikwels in die Nuwe Testament verwys word.

Woordgebruik

Vers 18 staan in ‘n sekere sin teenoor vers 15. ‘n Mens sien dit baie mooi in die Griekse teks, omdat dieselfde woord in albei frases gebruik word.

In vers 15 wys Jakobus daarop dat begeerte sonde voortbring en sonde lei tot die dood.

In vers 18 wys hy daarop dat God die waarheid in ons voortbring en die waarheid lei tot geboorte[1]. As gelowiges word ons dus deur die woord van die waarheid nuut gebore[2].

Joodse literatuur

Een van die kommentare wys daarop dat die woorde, “…die Vader wat die hemelligte geskep het…” herinner aan die Joodsegebed waarin die lyn getrek word vanaf God as die skepper van die hemelligte na God as die Verlosser van die volk[3]. Hierdie woorde word dus baie nou verbind met die herskepping of wedergeboorte.

Frase

Die derde en mees belangrike rede waarom ons kan sê dat dit hier oor die wedergeboorte gaan is ‘n spesifieke frase wat gebruik word. In vers 18 staan:

“Omdat dit sy wil was, het God ons deur die woord van die waarheid tot die lewe gebring…” (Jak. 1:18)

By al vier die ander geleenthede waar hierdie frase, “Die woord van die waarheid” in die Nuwe Testament voorkom, verwys dit na die evangelie as die middel waardeur ons verlossing ontvang[4] (2 Kor. 6:7; Ef. 1:13; Kol. 1:5; 2 Tim. 2:15). Deur die evangelie word ons weergebore.

Jakobus leer ons hier ten minste drie belangrike feite rondom die wedergeboorte nl.:

  • Die wonder van wedergeboorte

  • Die vrug van wedergeboorte

  • Die gawe van wedergeboorte

1. Die wonder van wedergeboorte

· Dit kom van God!

Hierdie nuwe lewe gebeur nie per toeval nie en dit is nog minder iets wat ons in onsself kan laat gebeur. Dis alleen ‘n gawe van God.

Die Griekse woord wat vertaal is met:

Omdat dit sy wil was, het God ons deur die woord van die waarheid tot die lewe gebring…” (Jak. 1:18)

Is ‘n woord wat beklemtoon dat wedergeboorte nie maar net ‘n begeerte van ons kant is nie. Hierdie woord beklemtoon juis die feit dat dit die wìl van God is, wat hierdie nuwe lewe moontlik maak[5]. Omdat Hy wil, begin hierdie geboorte in ons.

· Dit gebeur deur die Woord

“Omdat dit sy wil was, het God ons deur die woord van die waarheid tot die lewe gebring…” (Jak. 1:18)

As gelowiges word ons nuutgebore deur die Woord[6]. Daarom is die metafoor wat Jakobus in vers 21 gebruik ook kosbaar.

In vers 21 beskryf Jakobus hierdie geboorteproses met ‘n saadjie wat God in ons plant. Hoe meer die Heilige Gees die waarheid rondom Christus aan ons bekend maak – deur die Woord, hoe meer sal hierdie saadjie ontkiem en groei tot ‘n groot boom, wat vrugte dra[7].

· Dit is die eerste vrugte!

“…sodat ons, om dit so te stel, eerstelinge kan wees van alles wat Hy geskep het.” (Jak. 1:18)

Die Griekse woord kan letterlik vertaal word met “Eerste vrugte”. Hierdie uitdrukking herinner aan die Ou Testamentiese gebruik, waar God van die volk verwag het om die eerste vrugte van die oes aan Hom te offer. Deur die eerste vrugte aan God te gee, het die Israeliete gewys dat hulle God vertrou om deur die res van die oes in hulle behoeftes te voorsien.

Net so is wedergeboorte ook die eerste tekens van ‘n totaal nuwe skepping wat God tot stand sal bring[8]. Deur die wedergeboorte gee God ons nou reeds ‘n voorsmaak van die heerlikheid wat ons ten volle in die ewige lewe sal ontvang.

2. Die vrug van wedergeboorte

Hoe lyk hierdie wedergeboorte? Waaraan sien ons dat ons weergebore is?

Vers 21 leer ons baie rondom die vrug van wedergeboorte wanneer daar staan:

“Daarom moet julle al die sedelike vuilheid en ongeregtigheid opruim wat so welig tier, en ootmoedig die woord aanneem wat God in julle geplant het, want dié woord kan julle red.” (Jak. 1:21)

In hierdie verband is dit nou interessant dat die Here in die Ou Testament ‘n groot stryd met die volk gehad het. Die volk het voortdurend die wet van God oortree en daarom is die oplossing wat God daarvoor gee opvallend. Hy sê:

“Dit is die verbond wat Ek in die toekoms met Israel sal sluit, sê die Here: Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.” (Jer. 31:33)

Met hierdie woorde wys die Here ons dat die mens se hart en gedagtes die oorsaak daarvan is dat ons Hom nie wil gehoorsaam nie.

Daarom gebruik Jakobus in vers 21 die woord “ootmoedig” of nederig. Ons het ‘n hart en verstand nodig wat nederig is. Die woord sal ons alleen nuut maak indien ons die woord met nederigheid aanvaar as ons rigtingwyser vir die lewe[9].

Daarom is nederigheid die vrugte van ‘n wedergebore mens.

Jakobus wys dit ook vir ons prakties in vers 19, want die teenoorgestelde van nederigheid is hoogmoed en hoogmoed word veral sigbaar in woede. Dis die rede waarom Jakobus in vers 19 sê:

“…elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie en nie te gou kwaad word nie.” (Jak. 1:19)

Dink bietjie hoekom word jy kwaad? Hoekom word jy kwaad vir die taxi wat voor jou in ry? Want hoekom kan hy so stupid wees… Hoor jy die hoogmoed daarin. Ek weet beter! Ek bestuur beter! Ek is beter! Asof jy nog nooit voor iemand ingery het nie.

Of het jy jouself al gevang om, nog voor jy behoorlik geluister het, ‘n verduideliking te gee as verdediging van jou saak[10]. Jy wil nie jou fout erken nie en jy sal daarom wys dat jy reg was.

Die vrug van die weergebore hart is wanneer ons hierdie hoogmoed wat diep in ons is begin identifiseer en doodmaak sodat dit plek maak vir die geboorte van nederigheid.

‘n Nederige persoon besef dat hy nie al die antwoorde hoef te hê nie en daarom is hy meer gewillig om te luister as om te praat en raad te gee.

‘n Nederige persoon besef sy eie tekortkominge en daarom word hy nie so vinnig kwaad nie.

3. Hoe wedergeboorte die hart verander

In vers 17 staan: “Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo.” (Jak. 1:17)

Die twee Griekse woorde wat hier gebruik word om die heerlikheid van die geskenk te beskryf, beklemtoon die feit dat hierdie geskenk voldoende, volledig en dis absoluut tot ons voordeel[11].

Paulus beskryf die heerlikheid van hierdie gawe van wedergeboorte soos volg:

“Deur die oortreding van die een mens het die dood begin heerskappy voer deur hierdie een mens, maar deur die Een, Jesus Christus, is veel meer bereik: dié wat die oorvloed van genade en die vryspraak as gawe ontvang het, sal lewe en heerskappy voer.” (Rom. 5:17)

Wat Paulus hiermee sê is dat dit maklik is om dood te maak. Ons sien die effek hiervan wanneer ons met 'n enkele woord, 'n verhouding ewig kan skaad. Net so is dood ook die direkte gevolg van sonde en dit het ‘n groot impak op ons lewens. Hierdie sonde wat so diep in ons harte is, noem ons erfsonde.

Maar dan sê Paulus dat Jesus Christus baie meer bereik het as daardie sonde van Adam en Eva waardeur die dood tot stand gekom het.

Jesus het na hierdie aarde toe gekom en Homself onderwerp aan die gevolg van sonde. Hy is doodgemaak, met die doel om ‘n einde te maak aan die dood.

In Christus sien ons dus hoe God sy wil, sy plan en sy diepste wese tot uitdrukking bring. Uit die hele menslike geslag wat in hulle harte dood is, kies Hy ons om weergebore te word sodat ons vir Hom en met Hom kan lewe[12].

Deur die woord te bestudeer is ons besig om ons gedagtes te rug op die nederigheid wat Christus openbaar het om ons te red. God was bereid om mens te word. Hy was bereid om verneder en gekruisig te word sodat ons gered kan word. So help die Woord ons om die hoogmoed te identifiseer sodat nederigheid in ons harte posvat.

Jesus toon sy heerlike liefde vir ons aan die kruis. Liefde wat ons nie verdien nie. Hoe meer ons hierdie woorde in drink, hoe meer sal ons verander.

Dis soos ouers wat hulle kind se gehuil bo al die ander kinders op die speelgrond uitken en dan reageer.

Wanneer ons hierdie woord bestudeer, dan word ons verhouding met die Here so uniek dat ons ook, bo al die geraas in die wêreld, die Here se roepstem erken en in ootmoed en liefde daarop reageer.

Ons onderwerp ons daaraan omdat ons Hom liefhet. Ons liefde vir Hom maak dat ons nederig antwoord.

Hierdie Woord, wat Jesus as Christus aan ons openbaar, dit bring daardie vrug van nederigheid in ons lewe tot stand.

Slot:

So wanneer jy weer deur beproewing gaan en wonder hoekom die Here dit toelaat, dink dan aan Christus. Hy is die bewys daarvan dat God nie beproewings oor ons pad bring om ons te vernietig nie.

Hy het gesterf om juis lewe in dooie harte te wek. Hy gebruik elke beproewing om ons by hierdie heerlike gawe van lewe te bring[13]. Dis ook waarvan Jesus se dood en opstanding getuig!

Die Here gebruik beproewings as instrument om aan ons hierdie gawe van wedergeboorte te gee. Hy maak ons nuut. Hy maak ons aanvaarbaar.

Vertrou Hom in nederigheid.

[1] Davids, P. H. (1994). James. In D. A. Carson, R. T. France, J. A. Motyer, & G. J. Wenham (Eds.), New Bible commentary: 21st century edition (4th ed., p. 1358). Leicester, England; Downers Grove, IL: Inter-Varsity Press. [2] Die brief van Jakobus. (1998). (p. 3). Kaapstad: N G Kerk-Uitgewers. [3] Moo, D. J. (2000). The letter of James (p. 79). Grand Rapids, MI; Leicester, England: Eerdmans; Apollos. [4] Moo, D. J. (2000). The letter of James (p. 79). Grand Rapids, MI; Leicester, England: Eerdmans; Apollos. [5] MacArthur, J. F., Jr. (2006). The MacArthur study Bible: New American Standard Bible. (Jas 1:18). Nashville, TN: Thomas Nelson Publishers. [6] MacArthur, J. F., Jr. (2006). The MacArthur study Bible: New American Standard Bible. (Jas 1:18). Nashville, TN: Thomas Nelson Publishers. [7] Die brief van Jakobus. (1998). (p. 3). Kaapstad: N G Kerk-Uitgewers. [8] MacArthur, J. F., Jr. (2006). The MacArthur study Bible: New American Standard Bible. (Jas 1:18). Nashville, TN: Thomas Nelson Publishers. [9] Moo, D. J. (2000). The letter of James (p. 88). Grand Rapids, MI; Leicester, England: Eerdmans; Apollos. [10] Die brief van Jakobus. (1998). (p. 3). Kaapstad: N G Kerk-Uitgewers. [11] MacArthur, J. F., Jr. (2006). The MacArthur study Bible: New American Standard Bible. (Jas 1:17). Nashville, TN: Thomas Nelson Publishers. [12] Die brief van Jakobus. (1998). (p. 3). Kaapstad: N G Kerk-Uitgewers. [13] Die brief van Jakobus. (1998). (p. 3). Kaapstad: N G Kerk-Uitgewers.

16 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page