top of page

Die gelowige en werk

Teks: Genesis 2:4b-17

Die mens se waarde is nie in die fisiese komponente wat sy liggaam vorm nie, maar in die kwaliteit van lewe wat sy siel vorm.

In hierdie gedeelte word die mens se posisie in die skepping beklemtoon.

1. Die skepping is vir die mens.

Van al die skepsels wat op die sesde dag gemaak is, word die mens eerste gemaak. Hy moet die grond bewerk en hy moet alles 'n naam gee. Hy is ook die enigste een van wie daar gesê word dat God sy lewensasem in die mens geblaas het om 'n lewende wese te word. Alles in die skepping draai om die mens en is vir die mens.

2. Hy kry gesag om te benoem.

Die mens is nie maar net 'n arbeider in God se skepping nie. Hy word as heerser oor die skepping aangestel. Daarom kry hy ook die reg om vir elke dier 'n naam te gee. Dit word ook beklemtoon deur die feit dat God elke dier na die mens toe bring om daaraan 'n naam te gee.

3. Hy het groot verantwoordelikheid.

Hoewel die mens as heerser oor die skepping aangestel word, is daar ook beperkings en daarom ‘n groot verantwoordelikheid. Van die boom van lewe en kennis mag hy nie eet nie. Indien hy dit doen, sal hy sterf.

Hierdie gedeelte leer ons dus dat werk ‘n baie belangrike aspek van die mens se lewe is, maar die sondeval het gemaak dat ons hierdie voorreg misbruik. Sondeval maak dat ons werk oorbeklemtoon of onderbeklemtoon.

Ons onderbeklemtoon werk deurdat ons so min as moontlik wil doen. Dis wanneer ‘n persoon die minimum doen maar die maksimum verwag.

Daar is natuurlik baie redes hiervoor, maar die bekendste is luiheid. 'n Lui persoon weier om sy verantwoordelikheid te aanvaar. Hy skuif die verantwoordelikheid altyd op ander af.

Nog ‘n motiverings vir die onderbeklemtoning van werk is minderwaardigheid. Jy mag dalk voel dat jy nie bekwaam genoeg is om die taak uit te voer nie en daarom skrum jy daarvan weg. Dit is dikwels die rede waarom mense nie kans sien om ouderling of diaken te word nie.

Verder kan hoogmoed en gemaksugtigheid ook die rede daarvoor wees dat ons ons verantwoordelikhede ontduik. Dis wanneer jy dink dat jy te waardig is om sulke eenvoudige werkies te doen en daarom doen jy eerder niks.

Aan die ander kant kan ons ook werk oorbeklemtoon deur te dink dat dit ons menswees en waardigheid bepaal. Ons kultuur dryf ons ook dikwels na hierdie kant toe. Dit is wanneer jy gans te veel tyd aan werk spandeer en altyd skuldig voel wanneer jy rus.

In Jesus se lewe sien ons dat sy roeping/werk nie sy menswees bepaal het nie. Sy verhouding met die Vader het bepaal wie Hy is.

Daarom kom stel Hy die orde reg deur die kruis. Deur sy Kruisdood wys Hy die persoon, wat altyd skuldig voel omdat hy nie genoeg doen nie, daarop dat dit nie ons goeie werke is wat ons waardig maak nie. Jesus se kruisdood maak ons waardig en daarom moet ons aan Hom vashou.

Vir die lui persoon wys Jesus weer deur sy dood en opstanding daarop dat hy sy verantwoordelikheid moet nakom. Christus het uit sy pad gegaan om ons te red. Hy het meer gedoen as wat van Hom verwag is. Daarom moet ons uit dankbaarheid sy wil doen.

Vir die hoogmoedige persoon wys Jesus weer dat Hy bereid was om vir sondige en nietige mense sy lewe te gee. Wie is ons dan om te dink dat ons te belangrik is om ook die onbelangrike takies te verrig.

Ons is ons lewens aan Jesus verskuldig. Mag ons werk dit altyd wys.

Vrae tot introspeksie

a) Wat leer jy in hierdie gedeelte rondom die doel van jou werk?

b) Hoe het die verlossing wat jy in Christus ontvang al jou perspektief op werk verander?

35 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page