top of page

Die genade is onbegryplik groot

Teks: Genesis 34:1-31

Hierdie verhaal het baie kante!!

Dina het saam met die dogters van die omgewing (Kanaäniete) gekuier. Die probleem daarmee is dat dit kan lei tot ondertrouery met die Kanaäniete (Gen. 24:3; 28:7-8).

Dit was egter glad nie so erg soos dit wat Sigem aan Dina gedoen het nie. Die Ou en Nuwe Testament verbied voorhuwelikse geslagsgemeenskap (vgl. Eks. 22:16-17 & 1 Kor. 7:8-9) en boonop het hy ook teen haar wil met haar gemeenskap gehad. Die grusaamheid van hierdie daad word dan ook beskryf met woorde soos: “ontsteld”, “baie kwaad”, “gruwelike ding”, “so iets doen mens nie”.

Tog sien ons dan dat Sigem se begeerte in liefde verander. Hy kry vir Dina lief, en ons lees in vers 26 dat Dina se broers haar in Sigem se huis gaan haal het. Sy het dus vrywilliglik na hom toe gegaan in antwoord op sy liefde.

Aangesien Jakob nie regtig besorg was oor Dina se toekoms en eer nie (sy was immers net die dogter van Lea), het Dina se broers besluit om vir haar eer op te kom (vgl. vs. 31).

Maar voor ons by die broers kom is dit ook belangrik om te kyk na die onderhandeling. Wanneer die gesprek tussen Gamor, Sigem, Jakob en die broers (vs. 8-12) vergelyk word met die gesprek tussen Gamor, Sigem en die mans van die stad (vs. 20-23), dan is dit duidelik dat hulle ook bybedoelings gehad het met die ooreenkoms. Hulle doen dit vir die ekonomiese voordeel wat dit vir die stad sou inhou.

In die laaste deel van hierdie hoofstuk sien ons dan dat Simeon en Levi hulle godsdienstige gebruike misbruik om wraak te neem op die mense van Sigem. Daarna het al die seuns toegeslaan deur die stad te plunder, al die vee vir hulle te vat en dit wat in die huise was, het hulle buitgemaak (vs. 27-29). Met hierdie reaksie op die verkragting van Dina, het die broers veel verder gegaan as die redelike, wyse en regverdige straf wat een man verdien het.

Hierdie gedeelte beklemtoon dus die volgende:

“Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie. Daar is nie een wat verstandig is nie; daar is nie een wat na die wil van God vra nie. “Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie.” (Rom. 3:10-10)

Ons verdien almal die ewige oordeel van God!!

Daarom is dit goed om hierdie gedeelte in die breër konteks te verklaar, want ons sien in Levitikus 18:24-25 dat die Kanaäniete se seksuele verontreiniging juis daartoe gelei het dat God die land aan Israel gegee het.

Net voor die volk die beloofde land ingaan, stel die Here dit ook duidelik aan hulle deur te sê:

“Dit is nie omdat jy volmaak en opreg is dat jy sal ingaan om hulle land in besit te neem nie. Omdat hierdie nasies so goddeloos is, sal die Here jou God hulle verdryf, en so sal Hy die belofte vervul wat Hy met ’n eed aan jou voorvaders Abraham, Isak en Jakob gemaak het.” (Deut. 9:5)

Hier is dus twee belangrike dinge wat ook op ons van toepassing is vandag:

1. Hulle ontvang nie die land omdat hulle volmaak en opreg is nie.

Dit is baie belangrik vir ons om te besef dat ons nie beter as ander is omdat ons gelowiges is nie. Hierdie gedeelte wys ons daarop dat Jakob se seuns eintlik niks anders as hierdie heidene in Kanaän is nie. Hulle is net soos hulle, met sonde bevlek.

Net so is ons ook met sonde bevlek en daarom kan ons geloof nooit iets wees wat maak dat ons neerkyk op mense wat nie glo nie. Dit is net die genade wat ons deur die verlossing van Christus kry, wat maak dat ons die ewige lewe kan ontvang.

Dis nie iets in onsself nie, maar in Christus!

2. God gee die land aan hulle omdat Hy dit met ‘n eed aan die voorvaders beloof het.

Die wonderlike van hierdie verbond is dat die Here getrou bly aan die volk ten spyte van hulle ontrouheid aan Hom.

Daarom is dit ook vir ons wonderlik om te weet dat die Here se liefde vir ons onvoorwaardelik is. Ons sonde en tekortkominge kan nie die liefde van God verander nie.

Daarom sê Jesus:

“God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word.” (Joh. 3:17)

Dis hoe groot God se genade is. Hy laat Jesus, die volmaakte Seun van God sterf, sodat ons gered kan word.

Ons verdien niks, maar God gee vir ons alles. Ons lewens moet getuig van hierdie groot genade wat ons ontvang het.

Uit dankbaarheid vir hierdie groot genade moet ons elke dag weer ons los maak van die sonde deur dit agter ons te sit en uit strek na dit wat ons in Christus gekry het. Ons het ‘n beloofde land waarna ons kan uitsien.

Hierdie verlossing help ons om al ons krag in te span om by die wenstreep te kom, sodat ons die hemelse prys kan behaal waartoe God ons geroep het in Christus (vgl. Fil. 3:12-14).

Vrae tot introspeksie:

a) Wat staan vir jou in hierdie gedeelte uit?

b) Watter vertroosting kry jy in hierdie gedeelte?

18 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page