top of page

Ware liefde sien die weerlose raak in sy nood

Teks: Genesis 38:1 -11

In hierdie gedeelte kry ons die eerste keer te doen met die tradisie van die leviraatshuwelik (vgl. Deut. 25:5-10). Die leviraatshuwelik is die gebruik dat die jonger broer met die vrou van die ouer broer moet trou wanneer dié tot sterwe kom.

Vrouens en veral weduwees was baie kwesbaar in daardie tyd. Hulle het geen regsbevoegdheid gehad sonder die bystand van hul pa, broer, man of seun nie. Vrouens kon nie op hul eie transaksies aangaan of eiendom bekom nie. Dit is ook die rede waarom daar in die Ou Testament soveel klem gelê word op die feit dat daar omgesien moet word na die weduwee (vgl. Eks. 22:22; Deut. 10:18).

In Psalm 68:6 word God soos volg beskryf:

“’n Vader vir weeskinders en ‘n beskermer van die reg van weduwees is God in sy heilige woning.” (Ps. 68:6)

Daarom word Onan se ontydige dood as ‘n straf van die Here beskou. Die Here het opgekom vir die reg van ‘n vrou wat nie vir haar eie reg kon opkom nie.

Onan het met sy skoonsuster getrou net omdat dit van hom vereis is en nie omdat hy deur liefde gedryf was om haar te help in haar nood nie. Hy het geweet dat daardie kind wat gebore sou word, beskou sou word as die seun van sy broer. Die kind sou sy broer se naam dra en boonop ook sy broer se reg verkry as eersgeborene. Dit is oor hierdie rede dat hy gesorg het dat daar nie ‘n kind vir Tamar gebore is nie.

Hierdie gedeelte moet ons laat dink oor ons eie gebruike. Hoe kyk ons na die behoeftes van die weerlose mense wat die Here oor ons pad bring. Die oumense, weduwees, wese en vreemdelinge of weerlose bevolkingsgroepe. Ons probeer so min as moontlik doen solank ons net volgens die tradisie of algemene moraliteit leef.

Ons afgemete liefde sal eers sigbaar word wanneer dit van ons opoffering eis. Dit is nie so maklik om daardie oumens te help wat baie van jou tyd vat of vir wie jy finansieel moet help terwyl jy self swaarkry nie.

Daardie vreemdeling wat nuut in jou gemeenskap is en nog sukkel om sy voete te vind. Dit is maklik om hom te help wanneer hy nie vir jou ‘n bedreiging inhou nie, maar wanneer daar sprake is dat hy die pos, waarvoor jy werk, gaan vat of as hy jou voedselsekuriteit bedreig? Dan verstoot ons hom eerder. Dis tog waar die Xenofobiese gedrag vandaan kom waarvan ons dikwels in die nuus hoor.

Ons sal net onvoorwaardelik kan liefhê wanneer ons Jesus se liefde vir ons verstaan. Ons moet sien hoe sy liefde ons sekuriteit verseker terwyl dit Hom duur te staan gekom het.

Iets van die groot genade en sorg van die Here sien ons ook by Tamar.

Tamar word nie net genoem in die geslagsregister van Dawid nie, maar ook in die geslagsregister van Jesus (Matt. 1:3).

Net so het die Here ook ons weerloosheid raakgesien. Ons is nietige en sondige mense wat uitgelewer is aan die dood. Tog het Hy ons weerloosheid raak gesien. Sy liefde vir ons is so groot dat Hy ‘n duur prys betaal het. Petrus beskryf dit soos volg:

“Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is uit julle oorgeërfde sinlose bestaan nie. Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is.” (1 Pet. 1:18-19)

Ons verdien die ewige oordeel van God. Ons verdien om as vervloektes aan ‘n kruis opgehang te word, en daarom is dit so wonderlik as Jesus sê:

“Dié wat gesond is, het nie ’n dokter nodig nie, maar dié wat siek is. Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars.” (Mark. 2:17)

Jesus het gekom om elkeen te red wat siek en weerloos is. Elkeen wat besef dat hy nie in sy eie gered kan word nie.

Wanneer ons hierdie liefde ken, sal ons dit ook vir ander wat weerloos is wil gee. Ons sal anders begin kyk na die weerlose mense, want ons was self eens weerloos, maar die liefdevolle Vader het aan ons die ere plek gegee. Ons is kinders van God.

Indien tradisie of moraliteit jou dryfkrag is om goed te doen, sal jy die regte dinge bloot doen uit vrees – vrees dat jy jou aansien sal verloor of vrees dat jy gestraf sal word. Wanneer vrees jou dryfkrag is sal jy net bereid wees om die absolute noodsaaklike te doen.

Indien Christus se liefde jou dryfkrag is, loop jy die ekstra myl want jy weet hoe Christus uit sy pad gegaan het om jou as weerlose te red.

Vrae tot introspeksie:

a) Dink aan ‘n voorbeeld waar jou liefde afgemeet was en waar jy bloot die minimum gedoen het met die doel om te wys dat jy ‘n goeie mens is.

b) Hoe verander die verlossing in Christus ons om meer te doen as wat van ons verwag word?

24 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page