top of page

Die groot toets van liefde

Teks: Genesis 22:1-19

Dit waarmee ons in hierdie gedeelte te doen kry, is nie 'n versoeking nie, want God versoek niemand (vgl. Jak. 1:13). Hierdie is veel eerder 'n ondersoek na Abraham se hart. Dit is om te kyk wie Abraham die meeste liefhet.

Abraham en Sara het meer as 20 jaar, vandat God die belofte van ‘n nageslag aan Abram gemaak het, gewag voor hierdie seun gebore is. Al die beloftes wat God aan hom gemaak het, het rondom hierdie seun gedraai. Die gevolg is dat dit maklik kon gebeur dat Abraham sy hoop op die seun en nie op God geplaas het nie.

Hierdie versoek gaan dus juis daaroor om te kyk of Abraham nog vir God vertrou om te voorsien, soos die Here reeds telkens in Abraham se lewe gedoen het. Vertrou Hy hierdie keer vir die Here of gaan hy weer 'n plan maak om self uit die situasie te kom.

Gehoorsaamheid aan die wil van die Here is so ‘n toets. Elke dag word ons voor hierdie toets gestel. Is ek gehoorsaam aan die Here of aan my maats. Wy ek myself toe aan die Here of aan 'n persoon. Kies ek om kerk toe te gaan of om golf te speel. Leef ek 'n eerbare lewe of sal ek my siel verkoop vir daardie besitting of verhouding waarop ek my hoop geplaas het?

Dit gebeur so maklik dat ons ons liefde vir aardse goed, bo ons liefde vir God stel.

So, wat leer ons uit hierdie verhaal in dié verband?

1. Kyk hoe groot God se liefde is (vs. 13)

Ons sien dat God 'n offerdier in die plek van Isak voorsien. Daarmee wys hierdie gedeelte vooruit na Jesus wat in ons plek sal kom sterf.

Wat nou opvallend is, is om te sien dat God net kyk of Abraham gewillig is om sy seun as offer te gee, dit terwyl die Vader volkome gewillig was om sy Seun as offer vir ons te gee. Dit is hoe wyd sy liefde vir ons strek. Hy gee sy enigste Seun as offer om vir ons sonde te betaal.

Dit is uiters belangrik dat ons die heerlikheid van God se liefde in hierdie offer moet sien. Dit moet ons harte warm maak, want dit is juis die bewustheid van God se liefde vir ons, wat sal maak dat ons Hom kies in plaas van enige iets anders in ons lewe.

2. Kyk hoe getrou God is (vs. 5 & vgl. Heb. 11:17-19)

Wanneer Abraham en Isak die twee slawe agter los, dan sê Abraham met groot sekerheid dat hulle (hy en Isak) sal terugkom nadat hulle geoffer het.

In die verband lees ons dan in Hebreërs:

“Omdat Abraham geglo het, het hy, toe hy op die proef gestel is, Isak as offer afgestaan. Ja, hy wat die belofte ontvang het en aan wie gesê is: “Uit Isak sal jou nageslag gebore word,” het gereed gestaan om sy enigste seun te offer. Hy was daarvan oortuig dat God by magte is om uit die dood op te wek, waaruit Abraham vir Isak ook, om dit so te stel, terug ontvang het.” (Heb. 11:17-19)

Abraham het met alles wat in hom is vasgehou aan die belofte van God. Die gevolg was dat hy ook geglo het dat indien God wel toelaat dat Isak sterf, Hy hom ook sal opwek uit die dood, sodat die belofte van God in vervulling kan kom.

Net soos Abraham moet ons ook op God vertrou. Hy het ons uiters lief, dit wys Hy aan ons deur Christus. Daarom kan ons met sekerheid weet dat wat ook al in ons lewe gebeur, God dit ten goede sal laat meewerk (vgl. Rom. 8:28). Sy belofte van 'n ewige lewe saam met Hom sal geskied. Omstandighede sal nie daardie belofte kan vernietig nie, want God is groter as omstandighede.

Vrae tot introspeksie:

a) Dink aan ‘n situasie waar jy onlangs jou liefde teenoor die Here gewys het deur die keuse van gehoorsaamheid wat jy gemaak het.

b) Wat het ons nodig om te sien, sodat ons krag sal hê om meer gehoorsaam te kan wees.

32 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page