top of page

Die krag om te vergewe

Teks: Genesis 49:29-50:21

Hierdie is ‘n baie mooi gedeelte. Dit is wonderlik om te sien hoedat Josef sy broers met sy hele hart vergewe het.

Terwyl sy pa geleef het, het hy nie iets voorgehou wat hy nie in sy hart was nie. Sy vergiffenis was van die begin af volkome en opreg. Dit word in besonder sigbaar wanneer hy sy broers hier in liefde omvou.

Die realiteit van die saak is egter dat dit nie so maklik is nie. Elke mens kom iewers in sy lewe in ‘n situasie waar dit vir hom werklik moeilik is om te vergewe. Die moeilikheidsgraad word dan bepaal deur dit wat jy verloor het en die waarde wat jy aan daardie saak geheg het.

Jy gaan byvoorbeeld saam met jou vriend in ‘n besigheidstransaksie terwyl jy eendag agterkom dat hy jou al van miljoene beroof het. Indien jy ander opsies het sal jy dit nog oor jou hart kry om hom te vergewe, maar indien sy oneerlikheid jou in dieper skuld laat beland, sal dit vir jou moeilik wees om te vergewe.

Net so sal ‘n persoon wat van jongs af die seer beleef het van iemand wat oneerlik is, dit moeilik vind om ‘n persoon te vergewe wat vir hom gejok het oor iets.

Hoe kan ons dan in so geval vergewe? Hierdie gedeelte leer ons veral twee belangrike feite om te onthou wanneer ons moet vergewe.

God is Regter

Wanneer ons diep seerkry, wil ons as regter optree. Ons wil die persoon iets van die pyn laat beleef wat hulle ons aangedoen het en daarmee vergeet ons wie ons is. Ons is self ook sondig en skuldig. Jesus leer inteendeel sy dissipels om eers die balk uit hul eie oog te haal. Ons maak ook ander seer of kom hulle te na. Onthou, wat dalk nie vir ons so erg is nie, kan iets wees wat vir ‘n ander persoon diep seer maak.

Daarom neem Josef die regte gesindheid van nederigheid aan wanneer hy sê:

“Moenie bang wees nie. Ek is nie God nie.” (Gen. 50:19)

Sy gesindheid stem ook ooreen met die gesindheid van Christus wat Petrus vir ons voorhou as voorbeeld wat ons moet najaag. Hy skryf:

“Toe Hy beledig is, het Hy nie terug beledig nie, toe Hy gely het, het Hy nie gedreig nie, maar alles oorgelaat aan Hom wat regverdig oordeel.” (1 Pet. 2:23)

Om dus te kan vergewe moet ons hierdie nederige gesindheid van Christus navolg. Ons maak hom elke dag diep seer met ons sonde en tog vergewe Hy ons deur vir ons sonde te sterf. Daarom moet ons eerder die oordeel aan God oorlaat wat regverdig sal oordeel.

God gebruik ook die boosheid ten goede

Die soewereiniteit (heerskappy) van God oor die mens se doen en late gee die gelowige ook groot vertroosting in die proses van vergiffenis. Josef sien hierdie soewereiniteit raak wanneer hy sê:

“Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat ’n groot volk nou in die lewe gebly het.” (Gen. 50:20)

Wanneer ons in die figuurlike “put” is, is dit vir ons moeilik om te sien hoe God dit enigsins vir ons ten goede kan laat uitwerk, maar wanneer ons terugkyk in ons lewe dan sien ons wel die besturende hand van God.

Petrus sluit ook hierby aan wanneer hy Jesus vir ons as voorbeeld voorhou. Hy skryf:

“Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur sy wonde is julle genees.” (1 Pet. 2:24)

Die grootste onreg wat ooit aan ‘n mens in mense heugenis aangedoen is, is toe Jesus aan ‘n kruis opgehang is. Tog weet ons dat sy wonde ons genees het.

Die onreg wat Hom aangedoen is, het gemaak dat ons gered kan word. Hoe meer ons die genade hierin verstaan, hoe meer sal ons bereid wees om te vergewe.

Die waarde van die heerlike genade wat ons in Christus ontvang het, inspireer ‘n gelowige om te kan vergewe. In hierdie lewe verloor ons dalk iets, maar dit wat ons in Christus ontvang oortref alles in waarde (vgl. Fil. 3:8).

Daarom kan ons saam met Paulus sê:

“Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie?” (Rom. 8:31-32)

In Christus het ons nou alles ontvang wat ons nodig het en daarom kan ons vergewe!

Vrae tot introspeksie.

a) Wat het dit vir jou van tevore moeilik gemaak om ‘n persoon te vergewe?

b) Hoe kan dit wat jy in Josef se gedrag sien, jou help om te vergewe?

22 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page