top of page

Ons is meer as oorwinnaars

Writer's picture: Dr. PJ de BruynDr. PJ de Bruyn

Teks: Genesis 49:1-28

Hierdie gedeelte is ‘n heen wysing na elkeen van die twaalf stamme van Israel se posisies in die land Kanaän. Die belangrikheid daarvan is weereens om die volk, wat in Egipte is, te herinner aan die groter prentjie. Hulle is nie in Egipte om vir altyd daar te bly nie. God het vir hulle ‘n heerlike toekoms gereed gemaak in Kanaän en hulle moet hulle oë tydens hulle verbly in Egipte op daardie groter doel rig.

Vir ons as gelowiges is dit ook nie anders nie. Ons verloor ook maklik perspektief. Ons dink dat die lewe oor die lewe hier en nou gaan en ons vergeet ook die toekoms wat God vir ons ingedagte het. Ons leef asof ons verblyf op aarde die einddoel is.

Die gevolg is dat vrees ons oorval wanneer hierdie lewe bedreig word. Siekte, dood, armoede, werksverlies, swaarkry… dis dinge wat ons vrees, want dit bedreig ons aardse geluk en voorspoed.

Hierdie gedeelte herinner ons egter daaraan dat die Here ook vir ons ‘n heerlike toekoms bewerk het na hierdie lewe. En niks wat hier gebeur, kan daardie toekoms verander nie.

Kom ons kyk kortliks na dit wat die Here vir ons in hierdie gedeelte sê oor ons toekoms.

Die toppunt van die volk en ons heerlikheid word vermeld in dit wat oor Juda gesê word (vs. 8-12). Dit is ook opvallend dat daar meer van Juda gesê word as van enige ander stam.

Hy is ‘n leeu

Juda word beskryf met die beeld van ‘n leeu. Israel sê van hom:

“Jy is ’n leeu, my seun Juda, wat van die prooi af wegstap. Jy rek jou uit, jy gaan lê rustig soos ’n leeu, soos ’n leeumannetjie wat deur niemand opgejaag word nie.” (Gen. 49:9)

Juda sal prominent wees tussen al die stamme van Israel en die konings sal uit Juda gebore word, insluitend Dawid en Salomo. Maar meer prominent as hulle sal Silo wees (vgl. vs. 10). Van Hom word ook in Openbaring geskryf as daar staan:

“Toe sê een van die ouderlinge vir my: “Moenie huil nie. Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die Afstammeling van Dawid, het die oorwinning behaal en kan die boek met die sewe seëls oopmaak.” (Op. 5:5)

Dis hierdie Leeu wat elke volgeling van Hom kom red het van die verderf. Hy maak dit vir ons moontlik om die ewige lewe te ontvang deurdat ons in Hom glo.

Hy is waardig om al die eer en lof te ontvang en daarom moet ons ons lewens aan Hom onderwerp. Ons het ook nie nodig om te vrees vir siektes en slegte omstandighede nie, want niks kan ons van sy liefde skei nie. Daarom staan daar:

“Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.” (Rom. 8:37-39)

Dis hierdie liefde wat alle vrees in ons harte verdryf omdat ons weet dat ons deur die genade, meer as oorwinnaars in Christus is.

Vrae tot introspeksie:

a) Waar het jy al ervaar dat die liefde van Christus, die vrees in jou vervang met vrede?

b) Wat het jou in hierdie gedeelte opgeval?

12 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page